Verkope in landboumasjiene behou opwaartse koers

Trekkers en stroper verkoop steeds fluks. (Foto: Maroela Media)

Ná twee besonderse jare waartydens stropers en trekkers se verkope in Suid-Afrika slegs gestyg het, lyk die verkope vir Maart op ʼn jaargrondslag steeds gesond.

In reaksie op die jongste syfers vir die verkope van landboumasjinerie wat bekendgemaak is, sê die Landbousakekamer (Agbiz) dat die verkope gedurende die eerste drie maande van vanjaar ook baie gesond was.

In Maart vanjaar het die verkope van trekkers, in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar, met 5% gestyg, waartydens 641 eenhede verkoop is. In dié vergelyking het stroperverkope met 48% gestyg, met 43 eenhede wat verkoop is.

Dit is duidelik dat die klimaat sy kant gebring het.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê wanneer boere ʼn goeie jaar het, baat landbouverwante nywerhede daarby as boere hulle wins en opbrengs bestee.

“Graan- en oliesaadboere het spesifiek die afgelope twee jaar hul aangeplante oppervlakte vergroot en die landboumasjineriebedryf het dus aansienlike voordeel daaruit getrek. Weerstoestande was gunstig, wat tot ʼn groot oes vir twee opeenvolgende seisoene gelei het.

“Bydraende faktore was die wêreldwye kommoditeitspryse wat hoog gebly het, weens die droogte in Suid-Amerika en Indonesië en ʼn toenemende aanvraag na grane en oliesade uit China.”

Die jaarsyfers vir 2020 en 2021 lyk ook uitstekend. Tussen 2019 en 2020 het trekkerverkope met 9% gestyg, terwyl stroperverkope met 29% toegeneem het.

In 2021 is 7 680 trekkers verkoop, wat ʼn verhoging van 26% op 2020 beteken. In dieselfde tydperk is 268 stropers verkoop, wat 46% hoër is as in 2020.

“As 2020 ʼn uitstekende jaar in Suid-Afrika se landboumasjinerieverkope was en 2021 dit oortref het, was verlede jaar inderdaad ʼn uitsonderlike jaar.”

Sihlobo maan wel dat die verkope kan afplat weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, wat gelei het tot ʼn merkbare toename in insetkoste soos kunsmis, brandstof en landbouchemikalieë, wat die boere se finansies sal knou.

“Dit sal daartoe lei dat masjiene nie so geredelik vervang sal word nie.”

Verder het die tweede oesskatting van alle somergraan ʼn 7%-afname getoon, met ʼn verwagting van 17,8 miljoen ton. In vergelyking daarmee was die algehele oes vir die vorige seisoen 19,8 miljoen ton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.