VL-Jongboer staan sy medemens by

Jaco Burger is aangewys as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar (Foto: Verskaf)

Vrystaat Landbou (VL) het sy 26ste Jongboer van die Jaar aangewys. Die gelukkige wenner is Jaco Burger wat al die afgelope 13 jaar in die Wepener-omgewing boer, waarvan vier jaar op sy plaas langs die Lesotho-grens is.

Hierdie 34-jarige boer sê passie vir sy boerdery, diere, toewyding en goeie verhoudings met sy werknemers en medeboere is waarop sy boerdery geskoei is.

“Ek is veral trots op my Dohne-Merino-stoet, J.L Trinity, wat in 2017 geregistreer is. Gedurende verwoestende veldbrande in September verlede jaar, was die stoet byna in gedrang aangesien ek ongeveer 90% van my weiding verloor het,” sê hy.

Jaco en sy vrou, Marlize, glo daarin om ’n werksomgewing te skep waar hul werknemers bemagtig word om hul volle potensiaal te bereik. Oop kommunikasiekanale en respek vir mekaar is volgens hom die kernfaktor. Dit is ook vir hom belangrik om sy medeboere by te staan, om hul sukses in die verskaffing van goeie gehalte voedsel op ʼn volhoubare manier te verseker.

Jaco en Marlize Burger met sy trofee. (Foto: Verskaf)

Benewens sy betrokkenheid by georganiseerde landbou as lid van die Wepener-boerevereniging, is Jaco ook lid van die brandvereniging en neem gereeld aan die “wit‑bloulig”‑patrollies saam met die SAPD deel.

Jaco stap onder meer weg met ʼn kontantprys van VL en geskenkbewyse van Kynoch, Brand New SA en Work Accident Support. Hy dring ook outomaties deur na die Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Jaco en Marlize Burger met hul seuntjie, Michael. (Foto: Verskaf)

Volgens prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en hoof van die departement van landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), word finaliste beoordeel in onder meer hul toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Nico

‘n Boer so na aan ons hart – baie geluk Jaco Burger. Jy is ‘n voorbeeld vir ander en ‘n inspirasie vir ons jeug.