VL ontevrede met departementele begroting

Vrystaat Landbou verwag dat daar meer geld aan veeartsenykundige dienste bestee moet word. (Foto: Maroela Media)

Nie almal in die Vrystaat het Skully Nxangisa, provinsiale LUR vir landbou, se begrotingsrede met ope arms verwelkom nie.

Vrystaat Landbou (VL) is van mening dat die begroting, wat hy einde verlede week bekendgemaak het, ʼn klaaglike mislukking is omdat boere nie ten opsigte van misdaadbekamping en biosekerheidsmaatreëls bygestaan sal word nie.

“Alle boere is uitgelewer; nie net aan misdadigers nie, maar ook aan die uitbreek van moontlike dieresiektes onder hul kuddes,” sê Friedl von Maltitz, adjunkpresident van VL.

“Die jongste bek-en-klouseer-uitbreking wat in Potchefstroom geïdentifiseer is, plaas weer hierdie uiters kommerwekkende situasie op die voorgrond.

“VL het al in 2019, saam met die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), ʼn beroep op die regering gedoen vir die instel van kompartemente en beheerde kontrolepunte om die uitbreek van dieresiektes in die Vrystaat te voorkom. Dit blyk dat ten spyte van hierdie versoek, daar steeds wesenlike gevare bestaan dat besmette diere vanuit aangetaste streke vervoer word en sodoende ʼn risiko inhou vir gebiede wat poog om hul gesondheidstatus te behou.”

Volgens Von Maltitz is slegs R4,5 miljoen van die totale begroting van R830,7 miljoen aan die bekamping van veediefstal met hommeltuie, opsporingstoestelle en uitgebreide tegnologiese hulpmiddels toegeken. Hy meen die toekenning skiet hopeloos tekort om in die 88 dorpe in die Vrystaat en op kommunale grond enige impak te maak.

VL het gemengde gevoelens oor die begroting vir veeartsenykundige dienste.

“Die toekenning van R9 miljoen vir veeartse vir die bou en uitbreiding van die laboratorium in Kroonstad is bemoedigend, maar daar word geensins gemeld hoe veeartse en dieregesondheidstegnici opkomende boere op kommunale grond kan bystaan om hul vee in te ent teen dieresiektes nie.”

Verder sê hy programme om te verseker dat opkomende boere oor diere-identifikasiekaarte beskik en hul vee brandmerk om eienaarskap te bewys, wat voorkomend is ten einde veediefstal hok te slaan, word ook nie vermeld nie.

“Die begroting maak ook geensins melding van maatreëls om die diefstal van veral mielies, waaroor VL onlangs berig het, te probeer beperk nie. Opkomende boere word ook soos kommersiële boere wesenlik hierdeur geteiken.

“Laastens versuim die begroting om voorsiening te maak vir die oprigting van kwarantynskutte langs die RSA‑Lesotho‑grens. Diere wat deur die wetstoepassingsagentskappe geskut word, wat oorgrens wei of moontlik gesteel is, moet onder instruksie van die staatsveearts, apart van die gewone skutte in afsondering gehou word. Dit verseker dat hulle aan biosekerheidsreëls en wetgewing voldoen.”

Von Maltitz beklemtoon dat die gevare van die verspreiding van dieresiektes daadwerklike optrede vereis – iets wat die onderskeie organisasies in die landbouwaardeketting al geruime tyd bepleit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.