VL waarsku: Ryp lei tot brande

Foto ter illustrasie (Foto: Maroela Media)

Hierdie winter hou ʼn uitermatige hoë brandgevaar in, want die gras en ander plantegroei groei welig na die goeie reën wat aan die einde van die somer geval het. Dus moet boere so gou moontlik hulle brandbestrydingsverenigings (BBV’s) se toerusting gereedkry en hulle strukture formaliseer. Dit is die dringende boodskap wat Vrystaat Landbou (VL) uitstuur.

Volgens Johan Fourie, streekverteenwoordiger van VL het die Suid-Vrystaat hulle eerste ryp gekry. Die nagtemperature in die laagliggende dele van Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus het laag gedaal en het ryp die afgelope drie nagte voorgekom. Fourie sê dat aanplantings in dié stadium gelukkig nie skade toon nie.

Kempen Nel, VL se streekverteenwoordiger, sê die boere in die Jacobsdal-area hoop vir nog drie weke sonder ryp sodat aanplanting genoegsame tyd het om droog te word.

Intussen waarsku dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, dat boere bewus moet wees van brandgevaar na die ryp. “Die afgelope seisoen se goeie reën het bygedra tot goeie veld- en groeitoestande. Die veld en veral hoë gras langs die paaie hou egter ’n brandgevaar in,” waarsku Armour. “Sanral het aangedui dat hul kontrakteurs eers vanaf 14 Mei die gras sal begin sny nadat dit behoorlik geryp het.”

Armour verduidelik ook dat die laat reën wat gedurende Desember en Januarie in groot dele van die Vrystaat voorgekom het en wat in sommige dele tot vloedskade gelei het, ’n groot invloed op aanplantings het.

“Talle boere se aanvanklike aanplantings het verspoel en moes oorgeplant word. Dit het ’n groot finansiële impak op boere. Indien dit dus te vroeg sou ryp en die laat aanplantings ook skade kry, sal dit vir talle boere ’n groot slag wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.