Vleissentraal en Segard Masurel word wolvennote

Clarence Friskin, uitvoerende hoof, Segard Masurel Wolmakelaars; Anton Vos, besturende direkteur, Vleissentraal; James de Jager, uitvoerende hoof, Segard Masurel Suid-Afrika; Chris Troskie, besturende direkteur, Vleissentraal Port Elizabeth en Gawie van Heerden, bemarkingsdirekteur Konsortium-Merino is baie in hulle skik met die samewerkingskontrak.

Wolboere kan nou baat vind by ʼn samewerkingskontrak wat onlangs tussen Vleissentraal en Segard Masurel gesluit is. Hulle gaan kragte saamsnoer ten opsigte van wolwerwing en -hantering om sodoende ook albei ondernemings se voetspoor in Suid-Afrika uit te brei.

Vleissentraal spog met meer as 80 jaar se ervaring in veebemarking. Chris Troskie, besturende direkteur, sê dit is die eerste keer dat hulle in ʼn kontrakverhouding by die wolbedryf betrokke raak.

“Ons het baie druk van ons kliënte ondervind om betrokke te raak. Dit het sin gemaak, want ons het reeds 130 agente oor die land wat nou ook wolwerwing onder die boere kan doen.

“Ons wou egter nie net nog ’n makelaar wees nie en wou vir boere nog ʼn opsie bied. Ons kan nou wol op die plaas werf en dit regstreeks aan Segard Masurel lewer wat dit deur sy regstreekse kontrakte kan uitvoer. Nou kan ons boere ʼn tree voor die res wees.

“Tans is Segard Masurel ʼn baie sterk speler in die mark en sy koste is heelwat laer as ander makelaars s’n, terwyl die premies hoër is. In sy transaksies is daar ook geen verskuilde koste nie. Dan is daar natuurlik ook die moontlikheid van vooruitkontrakterings in die toekoms,” sê Troskie.

Segard Masurel is sedert 1948 ʼn rolspeler in die Suid-Afrikaanse wolhandel en het in 2009 ook as wolmakelaar diens begin lewer.

“Om voor te bly moet ons toegang tot volumes hê”, sê James de Jager, uitvoerende hoof van Segard Masurel Suid-Afrika.

“Toe Vleissentraal ʼn jaar gelede met ons begin praat het, het ons die geleentheid gesien om ons wolverkryging te vergroot en belangrike insette van boere te verkry. Hulle kan steeds hul wol na ons handelshuis stuur, maar hulle het ook nou ʼn keuse om ʼn premie te verdien op regstreekse verkope.

“Ons kan nou iets anders op die tafel sit en vooruitkontrakte vir boere gee.

“My vooruitskatting is dat 85% van die wol steeds deur die veilings verhandel sal word en dat die wol van die 15%-topboere regstreeks deur ons verkoop sal word,” sê De Jager.

Gawie van Heerden is die uitvoerende direkteur van Konsortium Merino en hy is baie ingenome met die verwikkeling.

“Ons wolboere sal baat by die samewerking. Van die voordele wat ons sal ondervind, is mededingende tariewe, persoonlike diens, kundige advies en waarde wat toegevoeg sal word tot ons skeersels.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.