Vrystaat-boere vier nie vervoermaand

Motoriste moet hul bestuur ken tussen die slaggate op die pad tussen Vrede en Memel. (Foto: Verskaf)

Vrystaatse boere is tans woedend oor die swak vordering wat gemaak word met die instandhouding van landelike paaie. Dit is volgens dr. Jack Armour, Vrystaat Landbou (VL) se kommersiële bestuurder.

“Terwyl die Vrystaatse provinsiale regering gedurende Oktober vervoermaand “gevier” het, is Vrystaatse boere gedwing om noodherstelwerk aan paaie te doen om die lewensgevaarlike toestand daarvan in die provinsie aan te pak.”

In afwagting op verhoogde verkeer oor die feestyd was dit boonop ʼn kritiese onderneming.

“Voorbereidings vir die nuwe plantseisoen het begin en vereis die vervoer van verskeie landbou-insette, asook gestroopte graan na silo’s. Gewoonlik is die natuur boere se grootste bedryfsuitdaging, maar tans word die padinfrastruktuur die grootste struikelblok vir die Vrystaatse landbousektor se vermoë om voedsel vir die land te produseer. Die verwagte somerreën sal waarskynlik die swak toestand van landelike paaie nog verder versleg.”

Volgens Armour is die bestuur van die departement van polisie, paaie en vervoer se begroting en hul aanstelling van onbekwame kontrakteurs die rede vir die krisis. “Begrotings word eers maande ná aanvanklike goedkeuring bestee en dan word kontrakteurs met geen bedryfskapitaal of vermoë nie aangestel om die werk deur die provinsie se Kontrakteurontwikkelingsprogram (KOP) en Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP) te doen.”

Armour meld dat daar een voorval was waar ʼn KOP-kontrakteur besig was om die pad tussen Bultfontein en Wesselsbron te merk sonder die behoorlike naamborde, waarskuwingsvlae of weerkaatsende veiligheidsbaadjies. ʼn Motor het teen hulle vasgery en twee van die kontrakteur se werkers het gesterf en nog een werker is ernstig beseer.

‘n Uitstappie na Ficksburg kan onplesierig begin as jy deur een van dié slaggate ry. (Foto: Verskaf)

“Die departement se gesentraliseerde geelvlootkapasiteit bestaan byna nie meer nie, weens ʼn gebrek aan instandhouding en swak bestuur. Die staat het ook ʼn tekort aan gekwalifiseerde skraperoperateurs.”

Boonop word “pik en graaf”-werkers, vir wie daar begroot is, nie aangestel om stukkende leivore en verstopte afvoerpype te herstel en skoon te maak nie.

“VL het hierdie en ander sistemiese probleme herhaaldelik binne die provinsiale departement op alle vlakke geopper, tot by die minister van vervoer, sonder reaksie.”

Francois Wilken, president van VL, meen die provinsie se KOP- en EPWP-programme het nie net misluk nie, maar staan uit as die kernoorsaak van die padinfrastruktuurverval in die provinsie in die naam van “werkskepping”.

Wilken sê verder dat ʼn swak en vervalle vervoerinfrastruktuur in die Vrystaat die hele landelike gemeenskap drasties raak en ook mense van kritieke dienste ontneem. “Dringende ingryping word vereis. Gegewe die haglike situasie van die paaie, het VL ʼn beroep op die departement gedoen om hierdie skemas te skrap en om terug te keer na ʼn deursigtige en verantwoordbare vryemark-tenderstelsel wat voorsiening sal maak vir die indiensneming van bekwame en gekwalifiseerde siviele ingenieursfirmas om die werk behoorlik te doen. Die regering se taak is nié om meer mense in diens te neem nie, maar om die bemagtigende omgewing te skep waarin landelike ekonomieë kan floreer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

My Amarok se battery is permanent beskadig deur die skok van ‘n slag gat, vervang koste R1600, versekering bybetaling op eninge eis, R5000.
Verbruiker en padgebruiker verloor net.

Eclectus ·

Ons was amper drie jaar gelede Ficksburg toe en toe was die pad al poer in sy m… maai. Die strate in Ficksburg het gelyk of die slag van Verdun daar plaasgevind het.

Mallie ·

Wie was al in Ermeloe en Standerton die laaste ses maande. DIs hoe ons paaie lyk danksy die ANC.

MARELIZE ·

Daai Vrede-Memelpad was donkiejare al die afskeeppad van die PAO. Om nie eens te praat van die deel vanaf Memel tot die Natal/OVS-grens nie! In 1985-86 het Raubex ‘n baie goeie herbou van die Vrede-Memelpad gedoen, maar net tot 25km voor Memel. Sedertdien is die pad eenvoudig nie in stand gehou nie.

Wie kan nog onthou dat padskrapers die padskouers skoon geskraap het? Geen gras het op die skouers gegroei nie – om die teer te beskerm en langer te laat hou. Elke paar jaar is die paaie herseël met ‘n laag teer en klippies. Paaie se leeftyd is so met lang jare en kilometers se rygenot verleng. Wanneer ‘n pad oorgebou moes word, was ompaaie geskep sodat die verkeer weg van die konstruksiewerk gehou kon word. Die pad is as eenheid hanteer en nie twee bane wat langs mekaar lê met ‘n naat in die middel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.