Vrystaat Landbou: Veediefstal ontaard al meer in geweldsmisdaad

Die Brendin Horner moord in Oktober 2020 kan vermoedelik ook verbind word met veediefstal (Foto: Facebook)

Volgens Vrystaat Landbou (VL) ontaard veediefstal toenemend in geweldsmisdaad en is dit ʼn bewys dat die voorgestelde wysigings in die Vuurwapenwet die landbougemeenskap op ʼn hoër risiko plaas, aangesien dié wet die reg op selfverdediging beperk.

Die brutale moord op twee polisiebeamptes in Noordwes dui daarop dat veediefstal toenemend in geweldsmisdaad ontaard. Op 26 Julie 2021 het twee polisiebeamptes, konst. Simon Ngakaemang Ntsekeletsa en sers. Mojalefa Horatius Molete van die Mareetsane-polisiestasie ʼn verdagte voertuig gevolg wat vee vervoer het. Tydens hierdie ondersoek is die beamptes aangeval en vermoor,” het Francois Wilken, VL se president, gesê.

“Vrystaat Landbou het die moorde veroordeel en sy simpatie met naasbestaandes van die twee beamptes betuig. Ons het ook die polisie geloof vir die arrestasie van vyf verdagtes,” het hy gesê.

Volgens Tommie Esterhuyse, adjunkpresident van VL, waarsku die organisasie reeds jare dat veediefstal nie net ʼn eiendomsverwante misdaad is nie. “Die VL Veiligheidslessenaar se ontledings toon dat 14% van plaasaanvalle en -moorde, in die afgelope vyf jaar, verbind kan word met die roof van vee. “Veediewe pleeg plaasaanvalle, hulle daag gewapend by plase op om veral vee te roof en dikwels lei dit tot lewensverlies,” sê hy.

Volgens VL se veiligheidsrisiko-analis, dr. Jane Buys, was daar die afgelope jaar verskeie insidente waartydens veediewe in ʼn skietery met of die SAPD of boere slaags geraak het. Dié insidente het by Kroonstad, Ficksburg, Clocolan, Hobhouse/Vanstadensrus, Bloemfontein (Thaba-Nchu) en in die Zastron-gebied plaasgevind. In die oorgrensstreek is die insidente grootliks meer en veediewe is gewapen. “Die moord op Brendin Horner in Oktober 2020 kan vermoedelik ook verbind word met veediefstal.”

VL het die SAPD versoek om hul mannekrag by stasies, asook by veediefstal-eenhede (VDE) te bemagtig om hulself teen die geweld wat met veediefstal gepaard gaan te beskerm en toereikend op te tree.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, versoek VL-boere om op die volgende bedag te wees:

  • Aanvaar dat veediewe gewapen is en moet hulle nie konfronteer nie.
  • Boere moet gewapen wees om hulself te kan verdedig in geval van noodweer.
  • Boere moet hul landelike beveiligingsplan (LBP) in hul gebied mobiliseer waar daar enige aanduiding is dat hul deur veediewe gekonfronteer kan word.
  • Boere moet ook verdagte bewegings aan die landelike veiligheidskoördineerder van die SAPD rapporteer, asook die veiligheidsverteenwoordiger van die boerevereniging in die gebied.

Om te verseker dat diegene wat teen die vuurwapenbeheerwetsontwerp gekant is se stem gehoor word, het Vrystaat Landbou ʼn petisie op sy webwerf geplaas wat lede van die publiek kan voltooi. Geleentheid vir kommentaar sluit op 2 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vrijburger ·

Dit klink toenemend soos scenarios uit Offerland en Geknelde land.

Harley Davidson ·

Hy sê jy moet nie ‘n veedief konfronteer nie want hulle is gewapende ,die vuurwapen wet sê jy mag jou lewe verdedig as jou lewe bedreig word so as iemand op jou grond is en hy is gewapen is jou lewe in gevaar en mag/moet jy die nodige geweld in hierdie geval gebruik om die oortreder te elimineer.

Esme ·

En nou wil die Regering die kosvoorraad in die land ontwapen en dit, terwyl hulle eie SAPD lede geskiet word. Aarde, elke dag is vol opwinding in die land. Die groot dryfveer op die stadium is die vaksien en dit terwyl Suid-Afrika val.

FM ·

Misdaad is nie rasgedrewe nie en moet deur die verantwoordelike landsburgers uitgeroei word .
Ons betaal belasting en ontvang nie die diens soos in die grondwet uiteengesit is nie.
Indien ek ‘n beter oplossing gehad het sou ek sowaar nie ‘n oomblik huiwer nie.
Die versugting van my hart is dat ons van die lamsak, selfsugtige, gulsige ministers ontslae raak.

Persheks Adri ·

Ons almal moet doen wat ons moet om onsself en ons geliefdes te beskerm punt. Die misdadigers kom drink nie tee of koffie nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.