Waaksaamheid op plase nou kritiek – Vrystaat Landbou

Elke siel op die plaas moet tydens die feestyd waaksaam wees. (Foto: Maroela Media)

Volgens Vrystaat Landbou (VL) is waaksaamheid die wagwoord tydens hierdie feestyd, en Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, doen ʼn ernstige beroep op boere om uiters paraat te wees en seker te maak dat hul veiligheidsplanne gereed is.

“Misdadigheid vier ongelukkig hoogty hierdie tyd van die jaar en veral landbougemeenskappe moet baie paraat en oplettend wees vir enige verdagte mense of voertuie.”

Die Vrystaat is in rou nadat twee boere binne 24 uur in drie aanvalle vermoor is.

Le Roux het sy innige meegevoel met die naasbestaandes van Christian van Tonder op Lindley en Johan Prinsloo op Koppies betuig. Die polisie het een van Prinsloo se aanvallers doodgeskiet, terwyl daar blykbaar nog geen verdagtes vir die Van Tonder-moord aangekeer is nie.

“Enige moord is een te veel,” sê hy.

In ʼn derde aanval is ʼn gesin Maandagoggend in Bothaville oorval en beroof en selfs gedreig dat hul baba gevat gaan word omdat die aanvallers nie “genoeg” geld ontvang het nie.

Vrystaat Landbou herinner boere weer aan die volgende aspekte om veiligheid tydens die feestyd te verbeter:

  • Skakel in by die veiligheidstrukture wat tussen die plaaslike SAPD, landbouers en ander rolspelers in jou gebied geskep is. Woon gereeld maandelikse vergaderings by, raak betrokke by wit- en bloulig patrollies, woon sesmaandelikse inoefeninge by en kom gereeld in kontak met die veiligheidskoördineerders van beide die SAPD en georganiseerde landbou in jou gebied.

 

  • Skakel in by plaaswag-strukture in jou gebied en maak seker dat jou verhouding met jou bure en werkers gesond is.

 

  • Bekom radiokommunikasie, wees ingeskakel by die plaaslike radionetwerk, verhoed dat jy sonder kommunikasie sit wanneer selfoon-netwerke af is weens byvoorbeeld beurtkrag.

 

  • Toets gereeld radiokommunikasie met jou veiligheidsnetwerk, koördineerder en bure.

 

  • Raak deel van Whatsapp-groepe wat pro-aktief inligting rakende verdagte voertuie en persone in jou gebied deurgee, veral ook met kameranetwerke en -monitering.

 

  • Doen gereelde en deurlopend inoefeninge van jou eie gebeurlikheidsplan, wat die hantering van vuurwapens, tesame met jou werkers insluit, en waar moontlik, verskaf aan hulle handradio’s na-ure.

 

  • Skaf ʼn bykomende selfoon aan wat op ʼn strategiese plek in jou huis geplaas kan word en altyd gelaai is, om sodoende in staat te wees om hulp te ontbied, indien jou selfoon wat jy alledaags gebruik geroof word. Vergewis jouself van sekerheid- en noodseine op jou slimfoon, wat ook aan ʼn bestaande veiligheidsnetwerk gekoppel kan word.

 

  • Gee voortdurend inligting aan veiligheidskoördineerders in die landbou en die SAPD deur. Dit is van uiterste belang vir pro-aktiewe optrede.

 

  • Kontakbesonderhede en noodnommers van jou bure, SAPD en veiligheidskoördineerders moet altyd byderhand wees, of op selfone gelaai wees.

 

  • Poog om ʼn UPS te installeer, veral vir moontlike beurtkrag in jou gebied tydens die komende feesseisoen.

 

  • Moenie sommer bykomende werkers inbring of aanstel vir ʼn seisoen voordat jy nie seker gemaak het of hulle nie oor ʼn kriminele rekord beskik nie.

 

  • Wees asseblief paraat en oplettend en rapporteer enige brokkie inligting aan die landelike veiligheidskoördineerder van die SAPD in jou gebied, veral moontlike observasiepunte van misdadigers, asook aan die veiligheidsverteenwoordiger van die georganiseerde landboustruktuur.

Le Roux spreek sy dank uit teenoor die polisie wat, ongeag moeilike werksomstandighede, steeds poog om landbougemeenskappe te ondersteun en by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Hoekom bring die onbevoegde staat nie die komando stelsel terug nie of nog erger hoekom “demand” die sogenaamde leiers dit nie ,hulle aanvaar dit net gelate en gee raad vanuit hulle veilige sones.

quartus ·

Daar behoort saans minstens een persoon op “wagdiens” in die plaashuis te wees. Almal kan nie maar net gaan slaap of sit en televisie kyk nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.