‘Wagyu-vleis gʼn ongesond’

Gesondheidsbewustes mag maar hul monde aan Wagyu-vleis sit. (Foto: foodiesfeed.com)

Tydens die onlangse nasionale Wagyu-kongres is daar ʼn baie rooskleurige toekoms vir hierdie nis-vleisbedryf geskets, te midde van ʼn groot terugslag weens die Covid-19-inperkings.

Die kongres is in die Afridome in Parys gehou en is opgevolg met hul nasionale veiling.

Wagyu-beeste kom oorspronklik uit Japan en is oor duisende jare vir ʼn hoër konsentrasie binnespiervet geteel om hulle bestand teen koue te maak. Vandag is Wagyu-vleis uiters gesog en duur weens sy uitsonderlike vetinhoud (marmering) wat dit besonder sag en sappig maak.

Johan de Vos, president van die Wagyu-telergenootskap, het tydens die kongres gesê hierdie relatief jong ras in Suid-Afrika het tans 182 gesertifiseerde lede met 5 729 koeie wat ouer as 18 maande is en 1 936 geregistreerde bulle wat vir teeldoeleindes gebruik word.

“Sedert 2019 tot en met April 2020 het ons baie diere in die voerkrale gehad en ʼn verbruikersgolf het ons getref. Toe Covid-19 uitbreek, het die aanvraag heeltemal opgedroog. Ons het nie geweet wat om te doen nie. Van die diere het massas van 1 000 kg bereik en ons moes toe noodgedwonge begin slag en het selfs van die vleis verniet uitgedeel.”

ʼn Groep telers het toe bymekaargekom en met mening aan slaghuise, supermarkte, restaurante en buitelandse verbruikers begin bemark.

“Hierdie uitsonderlike poging deur ons bestuur en lede wat ʼn strategiese insig gehad het, het verseker dat ons in 2021 altesaam 90% meer karkasse as in 2020 deur die Gesertifiseerde Wagyu-vleis- (CWB-)stelsel kon stuur. Op ʼn jaar-tot-jaar-grondslag was die groei in Januarie vanjaar meer as 100%, dermate dat ons in Januarie vanjaar 540 diere kon slag, wat ʼn rekord is.”

Elandri de Bruyn, die hoofbedryfsbeampte van die Wagyu’s het vir Maroela Media gesê dat daar 430 diere in Februarie en 400 diere tot dusver in Maart geslag is.

De Vos sê as daar tans ongeveer 8 000 koeie en 1 500 bulle is, beteken dit dat daar ongeveer 5 500 slagdiere per jaar beskikbaar is. “Teen die huidige slagkoers gaan ons teen Augustus, September uit voorraad wees.”

Verlede jaar is daar 1 300 ton Wagyu-vleis uitgeslag.

Volgens De Vos het die plaaslike verbruikers nou Wagyu-vleis ontdek en die aanvraag groei sterk. Wêreldwyd begin gesondheidsbewustes ook nou in Wagyu-vleis belangstel. “Die aanvraag uit die buiteland is so groot dat baie uitvoerders al kontrakte moes wegwys. Die binnelandse mark sal egter altyd vir ons baie belangrik bly.”

Maroela Media het by De Vos vasgestel waarom hoëklasverbruikers nie ʼn probleem met die hoë vetinhoud van Wagyu-vleis nie.

“Jy moet onthou dat daar twee soorte vet in Wagyu-vleis is. Buite-om die snitte is daar die gewone versadigde vette, maar daar is ʼn hoë konsentrasie van gesonde mono-onversadigde vette tussen die vleis, wat vergelyk met die vette wat in avokadopere voorkom. Dit sal sommer in jou hand smelt.

 

Uitstekende genetika

“Hoewel Suid-Afrika ʼn baie klein gedeelte van die wêreld se Wagyu-vleis produseer, is ons genetika die beste in die wêreld,” sê De Vos. “Dit is vermoedelik omdat ons diere langer op gras loop.

“Daar was wel ʼn tyd toe die bedryf wêreldwyd marmering nagejaag het, maar ons telers het besef dat jy die ander eienskappe soos melkproduksie en karkasgewig en -groei ook in balans moet hou. Ons gebruik ook die grootte van die oogspier (ribeye) om die waarde van ʼn karkas te bepaal.”

Ná die kongres is die eerste ten volle virtuele, nasionale Wagyu-veiling gehou. Die duurste drie bulle is elk vir R150 000 verkoop en die gemiddelde prys was R86 000.

Een van die drie bulle wat tydens die Wagyu-veiling vir die hoogste bedrag van R150 000 verkoop is. (Foto: auctions.swiftvee.com)

Die duurste vers is vir R120 000 verkoop, wat ook dragtig was. Die gemiddelde prys vir dragtige verse was R81 667 en R30 000 vir oop verse. Die duurste koei is vir R70 000 verkoop en die gemiddelde prys was R70 000.

Die hoogste embrio-lot is vir R65 000 verkoop en die gemiddeld was R7 615. Die hoogste semen-lot was R5 500 met ʼn gemiddeld van R2 673.

“Daar was ook opkomende boere teenwoordig wat ons help om as Wagyu-boere op die been te kom,” sê De Vos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Dis baie lekker vleis. Maar jy BETAAL vir hom. Ek kry dit net ver spesiale geleenthede. Maar dis uitsonderlik.

Chris

Ek gaan nog van die vleis koop en eet. Ek verstaan dit is nogal duur. Sal beslis spaarvarkie vol maak. Ek sal nie vir mammie saamvat wanneer ek die vlies gaan koop nie. Daar is gewoonlik ‘n onderonsie in die slaghuis oordat ek ‘n paar skaap kotelette wil koop. Sy wys my vinnig op die prys. My teenargument is dat ek nie ‘n kilogram koop nie ek koop net twee of drie. Verstaan glad nie waaroor die bohaai gaan nie. Maar as van die ras se slagvee tot R60 duisend kos sal daardie vleis baie taai moet wees. Ek wil… Lees meer »

JouPa

So die organisasie wat die vleis wil bevorder sê dit is gesond. Ek vertou nie mense wat hul eie huiswerk merk nie

Eend Bessinger

Alle Wagyu en ingevoerde vleis is peperduur. Betaal is die wet van Transvaal…

SwartBees

Teen amper R400/kg sal ek dit maar laat vaar. Daai prys is ongesond vir my hart, Ek geniet n rump baie meer.