Wes-Kaap maak deurbraak teen sprinkane

Sprinkane is besig om uit die Wes-Kaap te wyk. (Argieffoto)

Die grootte en voorkoms van sprinkaanswerms in die Wes-Kaap het daadwerklik afgeneem en dit is te danke aan die R5 miljoen wat die Wes-Kaapse regering twee weke gelede bewillig het vir die bekamping van die plaag in dié provinsie.

Die aankondiging is deur die Wes-Kaapse departement van landbou gemaak nadat daar ʼn duidelike afname in aanmeldings in Murraysburg, die Tuinroete-distrik en Beaufort-Wes was. Daar is ook geen verdere swerms by Laingsburg opgemerk nie.

Swerms word steeds naby die grense van die omliggende provinsies opgemerk en daar heers kommer dat hulle op pad is om skade in die Oos-Kaap aan te rig.

Een swerm is in Prins Albert en twee swerms in Merweville opgemerk. Nog ʼn groot swerm wat in ʼn suidoostelike rigting beweeg, is 30 km buite Beaufort-Wes opgemerk. Sprinkane in die voetgangerstadium is in die Kliprand-omgewing in die noorde, naby die grens van die Noord-Kaap opgemerk.

Dr. Ivan Meyer, LUR van landbou in die Wes-Kaap, het egter gewaarsku dat die bedreiging nog lank nie verby is nie en dat herbesetting moontlik is.

“Nieteenstaande hierdie positiewe verwikkelinge bly ons bekommerd dat swerms sprinkane na die Oos-Kaap beweeg het, en ons is ook bewus daarvan dat eiers dormant lê en in ideale weersomstandighede sal uitbroei,” sê hy.

“My departement en die provinsiale rampbestuursentrum is derhalwe besig om die jongste bepalingsverslag te finaliseer, om die volle omvang van die verliese wat die landbousektor gely het en die vooruitsigte wat voorlê te bepaal. Hierdie verslag sal as basis dien om die Wes-Kaap in staat te stel om die nasionale rampbestuursentrum te nader om ʼn rampklassifikasie in vennootskap met die rampbestuursentrums in die Oos- en Noord-Kaap aan te vra.”

Meyer is vol lof vir al die betrokkenes wat besig is om hierdie ramp af te weer. “Ek is dankbaar teenoor my amptenare en sektorvennote, soos georganiseerde landbou, Departement, landbou, grondhervorming, en landelike ontwikeling, distriksmunisipaliteite, distriksprinkaanbeamptes en die provinsiale rampbestuursentrum vir die doen van die nodige stappe om die sprinkaanbesetting in die Wes-Kaap te verlaag.

“Die Wes-Kaap sal voortgaan om met ons belanghebbendes saam te werk om ’n volhoubare oplossing te vind om die landbousektor in die Wes-Kaap te beskerm,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Hulle moet die regering in beheer stel van die massa verspreiding van sprinkane. Maklikste manier om te verseker daar sal nooit weer sprinkane wees nie.

Smurf ·

Jammer dat daar nie n manier bestaan hoe jy springkane kan oes en verwerk nie….goeie bemesting ………..en o ja , hulle is voedsaam…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.