Wes-Kaap steun op groei in landbou

Die sagtevrugtebedryf het aansienlik bygedra tot die groei in landbou in die Wes-Kaap. (Foto: Maroela Media)

Die Wes-Kaap het sy eerste kwartaal se ekonomiese groeisyfers in die landbousektor bekendgemaak en sake lyk baie belowend en selfs beter as oor dieselfde tydperk in 2020.

Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, sê as die groeisyfer op ʼn jaargrondslag beskou word, ondersteun die jongste BBP-gegewens hulle siening dat die landbousektor sal bydra tot die ekonomiese herstel van die Wes-Kaap.

Tshepo Morokong, Wes-Kaapse ekonoom van die departement van landbou, sê dat ʼn ontleding van data van sommige vrugte en groente, wat vir die Wes-Kaap belangrik is, ook ʼn kwartaalverhoging op ʼn jaargrondslag in die eerste kwartaal van 2021 toon.

“Die nominale landbou-bruto inkomste uit rooibostee (140%), sagtevrugte en ander vrugte (16%), groente (6%), blomme en bolle (24%) toon ʼn toename in vergelyking met dieselfde kwartaal in 2020,” sê Morokong.

Suid-Afrikaanse uitvoervolumes van enkele geselekteerde landbouprodukte wat noodsaaklik is vir die Wes-Kaap se ekonomie van Januarie tot Maart 2020 en in dieselfde tydperk in 2021, toon ook positiewe groei.

Uitvoervolumes toon ʼn toename in pruimedante en sleepruime (115%), verwerkte perskes en nektariene (67%), vars perskes en nektariene (34%) en bessies (2%).

“Met die durende goeie reën sal landbou na verwagting in die komende kwartale nog beter presteer,” sê Morokong.

“Landbou in Suid-Afrika is onder druk weens beleidsonsekerheid wat veroorsaak word deur uitsprake oor onteiening sonder vergoeding. Die landbou in die Wes-Kaap bly egter veerkragtig, soos blyk uit ons jongste gegewens,” sê Meyer.

Landbou BBP groei eintlik

Rakende die BBP van die nasionale landbousektor het Maroela Media eergister berig dat dit in die eerste kwartaal met 3,2% gekrimp het, maar dat dit aan seisoenale veranderinge toegeskryf kan word.

Sake lyk egter heeltemal anders as jy dit op ʼn jaargrondslag vergelyk. Meyer sê dat die kwartaallikse groeikoersbenadering, wat die eerste kwartaal van 2021 met dieselfde kwartaal in 2020 vergelyk, toon dat die nasionale landbou-ekonomiese produksie met 7,5% gestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.