Wes-Kaap woeker met landbouposte

Plaaswerk in die Wes-Kaap het oor die afgelope dekade meer geword. (Foto: Maroela Media)

In ʼn tydperk waarin werkloosheid die Suid-Afrikaanse arbeidsmag lamlê, is die Wes-Kaap se landbousektor ʼn baken van hoop. Volgens Andricus van der Westhuizen, die DA se woordvoerder vir landbou in die Wes-Kaap, het werksgeleenthede sedert 2012 met meer as 60% gegroei.

Hy sê die Wes-Kaapse landbousektor het die afgelope dekade merkwaardige veerkragtigheid getoon. Terwyl werkloosheid die grootste uitdaging in dié provinsie bly, het hierdie sektor ʼn anker as ʼn betroubare bron van werkskepping geword.

Op ʼn vraag wat in die parlement aan die Wes-Kaapse departement van landbou gestel is, kon daar bevestig word dat dié provinsie 70 987 nuwe poste sedert 2012 geskep het. Dit is gelyk aan ʼn 60,7%-verhoging.

“Wat hierdie prestasie selfs meer indrukwekkend maak, is dat groei teen ʼn veel hoër tempo as in enige ander provinsie plaasgevind het. Gauteng is die naasbeste presterende provinsie, met slegs ʼn groei van 10% in werksgeleenthede oor dieselfde tydperk,” sê Van der Westhuizen.

Sake kan egter baie beter lyk as die nasionale regering saamwerk. Hy sê in die Wes-Kaap is die grootste beperkende faktor vir groei in die landbousektor ʼn tekort aan water. Dit kan egter vinnig opgelos word as die nasionale regering nie so lank sloer met projekte soos om die Clanwilliamdam se wal te verhoog nie.

“Verder is ʼn bemagtigende waardeketting-omgewing nodig om groei te maksimeer. Twee kommerwekkende faktore wat dit verhoed, is die Kaapstad-hawe wat ondoeltreffend funksioneer en onbetroubare spoorvervoer – twee gebiede wat deur die nasionale regering reggestel moet word.

“Die provinsiale departement van landbou moet ook geloof word vir hul getroue ondersteuning aan boere in die provinsie, wat ongetwyfeld tot die sukses van die sektor bygedra het. Die DA in die Wes-Kaap is trots daarop dat waar ons regeer, die landbou floreer,” sê Van der Westhuizen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Manie ·

Mnr van der Westhuizen weet nie waarvan hy praat nie. Waar die DA regeer die Landbou floreer? Verduidelik dan aan my mnr van der Westhuizen hoekom het Wes-Kaapse Boere sulke groot verliese gely met uitvoer vrugte? Dis weens Kaapstad hawe se onvermoë om uitvoere betyds uit die hawe te kry. Gaan praat jou tjol op ‘n ander plek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.