Wes-Kaapse landbou voer 24% meer uit

Kaapstad se Skeepsvraghawe. (Foto: Google maps)

In sy jongste verslag oor werksgeleenthede en uitvoere in die Wes-Kaap het die departement van landbou se landbou-ekonoom, Tshepo Morokong, gesê dat die Wes-Kaap gekombineerde landbou- en landbouverwerkingsprodukte ter waarde van R78,68 miljard in 2020 uitgevoer het.

“Dit is goeie nuus en ek wil ons boere en landbouwerkers bedank vir hul toewyding in die verbouing van ons landbouprodukte in die Wes-Kaap,” sê dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou.

Volgens Meyer is daar produkte ter waarde van R63,23 miljard in 2019 en van R78,68 miljard in 2020 uitgevoer. “Dit is ʼn verhoging van 24%, wat die kritieke rol wat landbou in die ekonomiese herstel van die Wes-Kaap speel, bevestig. Landbou-uitvoere is een van my ministeriële prioriteite, en ons sal alles moontlik doen om ons uitvoere te laat groei en werksgeleenthede te skep.”

Volgens Morokong is die Wes-Kaapse landbousektor uitvoergeoriënteerd en dra 44% tot nasionale landbou-uitvoere by.

“In 2020 het die provinsie se primêre landbou-uitvoere 53% van nasionale uitvoere uitgemaak, drank 70%, verwerkte vleis, vis en vrugteprodukte 44%, leer en verwante produkte 31% en suiwel 22%,” sê hy.

In sy kommentaar oor die kwessie of indiensnemingsgetalle verbeter het danksy die ekonomiese groei in 2020, beklemtoon Morokong dat die provinsie meer as 20% tot die nasionale landbou-indiensneming bydra.

Meyer sê meer beleggings in landbouverwerking kan tot meer werkgeleenthede in die Wes-Kaap lei.

“Primêre landbou is vir 10% van die provinsie se indiensneming verantwoordelik en landbouverwerking vir 4%, wat saam 14% van die indiensneming in 2020 uitmaak. Meer beleggings in landbouverwerkingsaktiwiteite kan dus meer werksgeleenthede skep en die ekonomie laat groei. Daarom gaan die Wes-Kaapse departement van landbou steeds ondersteuning aan landbou-ondernemings in hierdie subsektor verskaf,” sê Meyer.

“Afrika bied ʼn beduidende mark vir Wes-Kaapse landbouprodukte. Dit is om hierdie rede dat ons meer uitvoergeleenthede op die Afrika-kontinent sal ondersoek, aangesien ons kan baat by die Afrika-Vryhandelsooreenkoms (AfCFTA),” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Dit is net nog n rede vir die weskaap om af te stig van die piesang Republiek en n onafhanklike staat te word.

Windhond

Ek wonder hoekom?