Wolmark reageer positief ná China verbod ophef

Wol se markaanwyser het gesond gestyg nadat China ei verbod op invoere opgehef het. (Foto: Youtube-skermskoot)

Op die tweede veiling van die 2022-’23-wolseisoen wat vroeër vandeesweek in Gqeberha (Port Elizabeth) plaasgevind het, is 6 828 bale aangebied waarvan 95% verkoop is, terwyl die markaanwyser ook mooi gestyg het.

Die algehele omset van die vetwol op die veiling was R95 920 158 met ʼn algehele massa van 988 371 kg.

Volgens Cape Wools se veilingsverslag kan dié styging aan die swakker rand teenoor die Amerikaanse dollar toegeskryf word, asook ʼn positiewe sentiment in die mark. Die Australiese dollar het egter onveranderd gebly.

China se opheffing van die verbod op die invoer van vetwol vanuit Suid-Afrika, weens die wanopvatting oor die gevare van bek-en-klouseer, het groot verligting gebring en boonop was daar sterk mededinging onder die kopers.

Die gemiddelde markaanwyser vir die wol wat volgens die Responsible Wool Standard- (RWS-)skema gesertifiseer is, het met 7,7% gestyg tot 18 433 c/kg en die ongesertifiseerde wol met 6,8% tot 16 574 c/kg.

Die groot presteerders was RWS-wol met ʼn veseldikte van 19,5 mikron (µ), 20 µ en 21 µ, wat onderskeidelik met 6,1%, 4,6% en 5,5% gestyg het.

Onder die ongesertifiseerde wol het die 19,5 µ-, 20 µ- en 20,5 µ-diktes onderskeidelik met 6,4%, 6,2% en 5,2% gestyg.

Altesaam 53% van die merinowol wat aangebied is, was gesertifiseer as volhoubaar geproduseer, wat ʼn noemenswaardige volume is.

Die grootste kopers op die veiling was: Standard Wool SA, Lempriere SA, Stucken & Co en Modiano SA, wat onderskeidelik 2 097, 1 395, 1 101 en 844 bale gekoop het.

Op die BKB-veiling was dit Acmax Investments wat die hoogste prys van 24 710c vir sy MF4S.74-tipe met ʼn veseldikte van 16,6 µ en ʼn treksterkte van 32 en ʼn skoonwolpersentasie van 73,3 behaal het.

Weens ʼn tekort aan vragskepe sal dit nog ʼn geruime tyd duur om die agterstand met verskeping van die wol in te haal.

Die volgende veiling is vir 31 Augustus geskeduleer, waar ʼn beplande 6 153 bale aangebied sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

vuurvliegie ·

SA moet net een jaar weier om aan China wol te lewer dan sal China sy speletjies stop.

Piet parys ·

Bek en klou manipulasie van China af net om prys druk toe te pas en nou is daar skielik n tekort dan sing hulle n ander deuntjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.