Wolprys styg weer gesond

Die merinowol-markaanwyser het goed gestyg tydens die jongste wolveiling by die Wolbeurs in Port Elizabeth. (Foto: Facebook/BKB)

Op die 12de veiling van die 2021-’22-verkoopseisoen op 3 November, het die merinowol-markaanwyser met 3,3% gestyg en op 17388c per kg skoonwol gesluit.

Volgens BKB se veilingsverslag was die laaste keer dat dit ook noemenswaardig gestyg het, tydens die sesde veiling op 28 September, toe dit met 4,2% gestyg het en op 16919c per kg skoonwol gesluit het.

Die gemiddelde skoonwolmarkaanwyser vir lang vagwol (MF4/MF5) van goeie gehalte met ʼn treksterkte van 35 (NKT) staan nou soos volg:

  • 18 mikron se skoonwolprys (SWP) staan tans op 24062c en ʼn prysbeweging (PB) van +0,2%
  • 19 mikron se SWP staan op 21942c met ʼn PB van +2,4%
  • 20 mikron se SWP staan op 17189c met ʼn PB van +4,2%
  • 21 mikron se SWP staan op 16065c met ʼn PB van +0,3%
  • 22 mikron se SWP staan op 13240c met ʼn PB van +1,1%

Die grootste kopers op die veiling was G Modiano met 2 551 bale, Lempriere Wool Services SA met 1 776 bale, en Standard Wool het suksesvol op 1 297 bale gebie.

Die BKB-verkopers wat die hoogste pryse behaal het, was Coldstream Trust in die Sterkstroom-gebied wat 25500c vir 78,9% skoonwol, met ʼn dikte van 16,6 mikron, asook 24900c vir 16,1 mikron met ʼn skoonwolpersentasie van 76,4 gekry het.

In die derde plek was RBH Stretton Farming van Molteno wat 24490c vir 16,5 mikron met ʼn skoonwolpersentasie van 75 gekry het.

Hoewel boere hulle wol ongewas (vetwol) op die veiling aanbied, word dit eers aan toetse onderwerp om te bepaal wat die persentasie skoonwol, sonder die onsuiwerhede, is. Die kopers betaal dan daarvolgens.

Leon du Plessis, BKB se wolafslaer, het aan Maroela Media gesê die markaanwyser se verhoging kan toegeskryf word aan die rand wat einde September en onlangs teen die dollar verswak het. “Die wolpryse is baie afhanklik van die wisselkoers en 2% tot 2,5% van die verhoging kan daaraan toegeskryf word. Die res kan toegeskryf word aan die bestendiging van omstandighede ná die inperkings.”

Hy sê die Europeërs, wat tradisioneel fynwol verkies, koop nou teen rekordvlakke aan. “ʼn Ruk gelede het die fynwol geweldig gesukkel, maar die mense keer nou weer terug winkels toe om klere te koop.

“Die Chinese verkies weer growwer wol, in die 21 mikron-klas en hulle kom ook nou aggressief terug mark toe.”

Van die 8 721 bale wat BKB se kliënte aangebied het, is 8 579 verkoop, oftewel 98%.

Die volgende wolveilings sal op 10 November 2021, ook by die Wolbeurs in Port Elizabeth, plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.