WRSA help bewaringsboompie plant

Hencke Marais van Tshwane-natuurbewaring wys hoe lyk ‘n pofadder (Foto: Du Preez de Villiers)

In die gees van Wêreldnatuurbewaringopvoedingsdag op 26 Januarie het Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) en Conservation Kids ʼn skoleprojek bekendgestel om kinders in natuurbewaring op te voed.

Die eerste skool wat hulle besoek het, was Laerskool Generaal Jacques Pienaar in Pretoria.

Leerders van Laerskool Generaal Jacques Pienaar in Pretoria luister aandagtig na ʼn praatjie oor die belangrikheid van natuurbewaring. (Foto: Du Preez de Villiers)

Richard York, hoof van WRSA, het vir Maroela Media gesê dat hulle graag aan die gemeenskap wil teruggee. “Jy gee net terug deur die volgende geslag se opvattings oor die natuur te verander. Natuurbewaring gaan alles oor kinders se opvoeding.”

Die boodskap wat hy aan die meelewende kinders oorgedra het, is dat ons kos van plante en diere op plase af kom en dat wildboere en wildplase nie daar is om net die wild te gebruik nie. “Ons het die status quo verander en ʼn habitat vir wild geskep om na die wild om te sien, om dit sodoende te benut. Ons wil nie wild vernietig nie, want dan het ons nie ʼn toekoms nie.”

Hy sê sedert boere met wild begin boer het, het die getalle dramaties verhoog. Suid-Afrika het tans meer wild as 100 jaar gelede. Die oorgrote meerderheid van wild en skaars wild is vandag op privaat plase in plaas van reservate.

Richard York, hoof van WRSA. (Foto: Du Preez de Villiers)

York is baie opgewonde oor hul samewerking met Conservation Kids. “Ek het verlede jaar vir Jacky Masibi by ʼn geleentheid ontmoet en my idee van ʼn ‘Wildkids’-projek met haar gedeel. Sy sê toe sy het reeds ʼn organisasie, Conservation Kids, gestig. Ons het toe besluit om saam te werk.”

Conservation Kids is ʼn niewinsgewende organisasie wat deur Masibi gedryf word. Sy is die gesig wat by verskeie skole gesien word. Sy het ook ʼn kinderboek geskryf, My book of African Wildlife. “Ons hoofdoel is omgewingsopvoeding en ons moet besef dat ons nie die natuur geërf het nie, ons leen dit by ons kinders,” sê sy.

Jacky Masibi, stigter van Conservation Kids, het die kinders se aandag geboei met haar lewendige manier om die boodskap van natuurbewaring oor te dra. (Foto: Du Preez de Villiers)

Ankie Stroebel, WRSA se ledewerwing-en-bemarkingsbestuurder, het vir Maroela Media gesê dat daar 22 WRSA-streeksbelangegroepe oor die hele land is, wat skole en ander organisasies by soortgelyke projekte betrek. “Skole kan ons ook bel as hulle betrokke wil raak.”

Die kinders het hulle vergaap aan ʼn wildbewaarder wat verskeie slange reg voor hulle hanteer het, terwyl hy onbekende feite oor hierdie oënskynlik vreesaanjaende reptiele met hulle gedeel het.

Hencke Marais van Tshwane-natuurbewaring het ʼn paar giftige slange, soos hierdie rinkhals hanteer terwyl hy vir die kinders vertel het hoe jy teenoor slange moet optree. (Foto: Du Preez de Villiers)

Anneline Pienaar en haar span van K9 Tracking is ook uitgenooi om met die kinders te gesels oor die hantering van honde en het gewys hoe slim en gehoorsaam hul werkshonde is wat in verskeie diensterreine opgelei is.

Uzi van K9 Tracking wys hoe hy ʼn verdagte, soos ʼn wilddief wat weerstand bied, “in hegtenis neem”. (Foto: Du Preez de Villiers)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.