Zambië verklaar rekord-mielieoes

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Uitstekende reënval en ʼn sterk opkomende kommersiële boerderysektor het daartoe bygedra dat Zambië vanjaar die meeste mielies wat aangeteken is, geoes het. Meer as 3,6 miljoen ton is geproduseer, waarvan ʼn geskatte 1,5 miljoen ton beskikbaar vir uitvoer sal wees.

Dit is die inligting volgens ʼn wêreldwye landbounetwerkverslag wat deur die buitelandse landboudiens van die Amerikaanse departement van landbou (USDA) uitgereik is.

Oor die afgelope 20 jaar het Zambië se mielieproduksie meer as verdubbel vanweë ’n kombinasie van groter oppervlakte en verhoogde produktiwiteit, wat die land ’n netto uitvoerder van mielies gemaak het.

Volgens Indexmundi was 2017 die jaar waarin die tweede grootste mielieoes, 3,607 miljoen ton, aangeteken is en verlede jaar is die derde grootste oes, 3,387 miljoen ton, aangeteken.

In die 2019-’20-seisoen het Zambië 840 000 hektaar aangeplant wat verlede jaar tot 1,29 miljoen hektaar opgeskiet het. Vanjaar is 1,3 miljoen hektaar aangeplant. Die opbrengs per hektaar het oor die afgelope drie jaar heel gesond van 2,38 ton tot 2,62 ton en tot 2,78 ton gestyg.

In die 2019-’20-seisoen is 2 miljoen ton geoes, verlede jaar 3,39 miljoen ton en vanjaar 3,62 miljoen ton.

Weens die goeie reënval en mielieoeste in Zambië se uitvoerlande het die USDA geraam dat die uitvoer tot ongeveer 700 000 ton beperk sou wees en dat die binnelandse voorraadvlakke aan die einde van die 2021-’22-bemarkingsjaar met 57%, tot 1,3 miljoen ton sou styg.

Dit is veral die landbouprivaatsektor uit Suid-Afrika en ander ontwikkelde lande wat produkte en dienste vir opkomende boere in Suider-Afrika ontwikkel en pasmaak, wat ʼn reusebydrae tot produktiwiteitsvlakke maak.

Suid-Afrika se sesde oesskatting wys dat daar vanjaar na verwagting 8,9 miljoen ton witmielies en 7,5 miljoen ton geelmielies geproduseer gaan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudolf ·

Ek verneem van die afgeskopte voormalige Zimbabwiese boere speel ook `n groot rol in Zambia se produktiwiteit……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.