Zimbabwe-boere sê dankie met landbou-oscar

Dr. Theo de Jager (Foto: Argief)

Die Commercial Farmers Union of Zimbabwe (CFU) het vir dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, met sy Landbou Oscar-2021-toekenning vereer. Dié prestigetoekenning word jaarliks toegeken aan ’n persoon wat die horisonne van landbou in Zimbabwe verbreed.

Hierdie toekenning is verlede week tydens CFU se 78ste kongres oorhandig.

Die CFU verteenwoordig onder andere slagoffers van gewelddadige grondgrypgevalle en volgens dié organisasie is sowat 6 000 wit boere sedert 2000 van hul plase verdryf. Dit het aanleiding gegee tot omvattende sanksies, ekonomiese verval, werkloosheid en armoede in Zimbabwe.

Wyle Perrance Shiri, Zimbabwiese minister van landbou en dr. Theo de Jager by n vorige geleentheid. (Foto: Verskaf)

De Jager is vereer vir sy rol in onderhandelinge tussen die CFU en die Zimbabwiese regering rakende vergoeding aan slagoffers van onteiening, wat tot die Global Compensation Agreement van 30 Julie 2020 aanleiding gegee het.

 Die CFU sê hoewel die Zimbabwiese regering teen die verstrykingsdatum van die vergoedingsooreenkoms op 30 Julie 2021 nie presteer het nie, het hulle vir ’n verlenging tot Mei 2022 gevra. Die skikking sluit vergoeding vir die waarde van grond uit.

Die toekenning gee ook erkenning aan die manier waarop De Jager sedert 2017 Zimbabwiese boere by die Wêreldlandbou-organisasie verteenwoordig en hul belange op internasionale platforms gedra en bevorder het.

De Jager is aanvanklik deur die CFU genomineer om Afrika-belange in die direksie van die Wêreldlandbou-organisasie te verteenwoordig, maar is toe tot president van dié organisasie verkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.