Alpakkas, veeldoelig as waghonde met wol

Sowat 80% van die alpakkas op Kleinlimietrivier is ooie en 20% is ramme. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die skril geluid wat ʼn alpakka maak as hy bedreig voel, is een van die beste afskrikmiddels vir klein roofdiere soos jakkalse.

Dit is die mening van Linda Nessworthy wat in 2011 met hierdie Suid-Amerikaanse familielid van die kameel begin boer het. Sy het ʼn geweldige passie vir dié diere en het sedert 2004 selfs van hulle as troeteldiere op hul werf in Kaapstad aangehou. “Hoewel alpakkas in Suid-Afrika sterk as troeteldiere bevorder word, fokus ek nou eerder op ʼn kommersiële boerdery,” sê sy.

Linda en haar man, Stephen, boer op die plaas Klein Limietrivier naby Wellington. Sy is ʼn boer in murg en been en saam met haar vier werkers behartig sy die boerderykant. Hy is ʼn rekenmeester van nering en doen al die finansies en bemarking.

 

Linda en Stephen Nessworthy het by Nampo Kaap vir Maroela Media vertel hoe jy wins met alpakkas kan maak. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Vir haar lê alpakkas se waarde eerstens in die oppas van kleinvee. “Die voordeel van alpakkas bo enige waghond is dat hulle dieselfde kos as skape eet en nie saans terugkeer na die opstal nie.”

ʼn Alpakka sal selfs na ʼn roofdier skop as dit moet. “Jy wil nie deur ʼn alpakka geskop word nie en die terugvoer wat ons van boere af kry, is dat hul verliese aan skape met 85% gedaal het sedert hulle dié diere aangeskaf het.”

Teel vir onbeskoftheid

Soos met enige dier waarmee geboer en geteel word, is daar faktore en eienskappe wat gevolg moet word om die diere te bevorder en te verbeter.

 

Die twee alpakka-ramme wat by Nampo Kaap vertoon is, is om en by drie jaar oud en is gereed om ʼn skaaptrop op te pas. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Jy kan nie enige alpakka as ʼn “waghond” aanhou nie. “Jy kan slegs ramme gebruik en ons teel en selekteer dan vir groot en onvriendelike diere wat ons aan die boere verkoop,” sê Linda.

Manlike diere moet egter ook hul kant in die trop bring en vir teeldiere word daar na skrotumgrootte gekyk, wat ʼn belangrike aanduiding van vrugbaarheid is. ʼn Reguit rug is ook belangrik en met haar kennersoog moet sy ook die proporsies van die bene, lyf en nek in ag neem.

“Sterk en stewige bene is ʼn moet, veral omdat party diere met ‘spaghetti-bene’ gebore word.”

Histories is alpakkas met lamas gekruis, wat ʼn groot uitdaging bied as jy op soek is na suiwer diere.

 

Wanneer alpakkas gelukkig is, maak hulle ʼn gonsgeluid en wanneer hulle ontsteld of bang is, maak hulle ʼn harde, skril geluid waarvoor jakkalse baie bang is. (Foto: Verskaf)

 

“ʼn Lama-gesigvorm is die eerste eienskap waarna jy kyk, want party lyk soos perde en ek vermoed daar is lama-voorsate in dié diere. Suiwer alpakkas se ore is ook reguit en regop. Hulle moenie piesangore hê wat inwaarts buig soos ʼn lama sʼn nie.”

ʼn Ander goeie aanduiding van suiwerheid is dat alpakkas wol reg tot op hul pote het, terwyl ʼn lama hare op hul bene het.

“Ek stel ook belang in die sterk ooie, wat sonder probleme kan lam, die lammers grootmaak en baie melk kan gee,” sê Linda.

Die ooie word eers na twee tot twee en ʼn half jaar vir teling gebruik en dra ʼn lam vir ʼn 11 en ʼn half maande en kry net een kleintjie in ʼn seisoen. Sy sê in uitsonderlike gevalle word daar ʼn tweeling gebore, waarvan slegs een gewoonlik oorleef. ʼn Ooi is dan drie tot drie en ʼn half voor sy die eerste keer lam. Dit neem dus lank om ʼn kudde op te bou of om diere waarvoor daar ʼn aanvraag is te verkoop.

 

Buiten vir hul gesogtheid as troeteldiere, kan alpakkas ook op ‘n kommersiele skaal geboer word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Ek gee nie om oor die lengte van die ooghare, of hoe mooi die gesig of oë is nie. Ek stel belang in die produksiewaarde van ʼn dier,” beklemtoon sy. “Die diere kry ook nie name nie, slegs ʼn oorplaatjie met ʼn nommer.”

Klein Limietrivier se produksiediere word slegs tot op die sewende jaar gebruik, maar Linda het vroulike diere wat op 13 jaar steeds met gemak ʼn lam in die wêreld gebring het.

“Ons selekteer dus eerstens vir struktuur en dan vir wolgehalte.”

Anders as skaapwol

Linda sê alpakkawol is droëer as skaapwol omdat dit nie lanolien bevat nie en is ook fyner. Volgens haar het wetenskaplikes bepaal dat alpakkawol sewe keer warmer as skaapwol is, so jy het nie ʼn dik bedekking nodig om warm te kry nie.

Vanaf skeer, verwerking tot die vervaardiging van kledingstukke gebeur alles op die plaas. Hulle produseer onder andere sokkies, komberse en breiwol.

Sy en Stephen doen al die verwerking van die wol self en kry slegs drie dae ʼn week ʼn vrou in om die verpakking te doen en etikette te plak.

 

Die alpakkawol word op die plaas deur die hele produksieketting geneem. (Foto: Verskaf)

 

September is skeerseisoen en alpakkas is nie so maklik om te skeer soos skape nie, maar Linda sê dit is makliker as jy weet hoe.

“Hulle is geweldig sterk en jy wil nie deur een geskop word nie. Ons moet hulle voete en bene vasmaak en dit neem tussen nege en 15 minute om een te skeer. Dit neem langer om diere met fyner wol te skeer as dié met growwe wol. “

Omdat alpakkas se wol in 26 kleure en skakerings onderskei kan word, volg Linda ʼn ander metode as skaapboere as dit by die klassifisering van wol kom en boonop kapitaliseer sy daarop, want puriste betaal ʼn premie vir natuurlike wol.

“Ons gooi nie al die wol in ʼn baal soos met skaapskeer nie. Die metode wat ons tans volg, is om elke dier se wol in sy eie sak te sit en dit met die dier se oorplaatjienommer te merk.

“Dan neem ek ʼn wolmonster van elke dier op dieselfde plek op sy lyf en stuur dit weg na die wolburo om dit te toets. Eers as ons die resultate terugkry, kan ons die wol klas.

 

Die Nessworthy’s was en kleur hul alpakkas se wol en verkoop dit onder die Cape Alpaca-handelsmerk.

 

“Vandag het ek 13 jaar se rekords van elke dier wat ek geskeer het en ek gebruik die veselresultate vir teeldoeleindes.”

Goeie voer versnel produksie

Linda glo voorsorg teen siektes is beter as nasorg en sy pas dit in haar voeding toe. “Ons voer die diere ʼn proteïenkonsentraat waarin ons al vir jare diatomiese grond meng om die inwendige parasiete te beheer. Ons hoef dus nie medisynes soos ivermektien te gebruik nie,” sê sy.

Die manlike diere kry elke dag 50 gram meel om die diatome te dra en die dragtige ooie kry 200 gram meel soggens en 200 gram saans, met lusern gemeng, om melkproduksie te stimuleer.

“Die lammers groei ook vinniger en ek kan dus vinniger speen as ek vir hulle beter voer gee.”

Alpakkas is mal oor kikoejoegras en verder kry hulle lusern en hawerhooi wat deur ʼn hamermeul fyngemaal word sodat die diere nie die lekker deeltjies kan uitsoek nie.

Hulle hoef geen spesiale voer in die winter te kry nie.

Alpakka-toerisme

Elke jaar word daar ‘n fees op Klein Limietrivier gehou waar toere aangebied word en die hele verwerkingsproses gedemonstreer word. “Mense koop ons produkte, maar hulle weet nie regtig wat met die wol gebeur nie. Dit is dus belangrik dat hulle verstaan en beleef wat gebeur.

 

Sokkies is een van Cape Alpacas se gewilde produkte. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Die kinders kry ook die voorreg om die diere name te gee en hulle dink dit is fantasties,” sê Linda.

Die oudste dier op die plaas is ʼn ooi van 13 jaar oud en sy hou dit spesiaal vir toeriste aan wat wil weet en sien hoe oud ʼn alpakka kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.