Argumente teen diereproteïene bekyk

Daar was nog nooit ‘n tyd in die mens se geskiedenis waar diereproteïene nie deel van ons dieet was nie. (Foto: Shutterbug75, Pixabay)

In dié artikel, die laaste een van drie in ʼn reeks, bekyk en ontleed dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbou-organisasie, die argumente teen diereproduksie.

Daar is veral drie argumente waarop die strewe om diereproteïene af te skaal, berus:

  • dit is ongesond,
  • dit is nadelig vir die klimaat, natuur en biodiversiteit, en
  • dit verskerp ongelykheid, armoede, honger en konflik.

En natuurlik is daar altyd ’n geldige vraag oor wins, kapitaal en beheer in elke voedselstelsel.

Daar was nooit ’n tydvak in die mens se dieet waar diereproteïene uitgesluit was nie. Inderwaarheid is rooivleis ons bron van vitamien B12. Die gesondheidsargument hou dus geen water nie.

Die wetenskapkomitee van die VN se Voedselsistemeberaad, wat oor die wetenskaplike verantwoordbaarheid van die gesprekke en uitkomste van die beraad moes waak, het in geeneen van hulle dokumente tot dusvêr kritiek teen die gesondheidskwessie van diereproteïene uitgespreek nie.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbou-organisasie. (Argieffoto)

Die kweekhuisgasse-argument, veral met verwysing na metaangasvrystellings van herkouers, is ’n ernstiger debat, maar berus op ’n paar fundamentele ongeregtighede. Eerstens kan die kort siklus van grasvelde wat afgewei word, wat nuwe groei en dus meer fotosintese stimuleer en derhalwe meer koolstof uit die atmosfeer sekwestreer, nie met die verbranding van fossielbrandstowwe, onder meer steenkool en olie in die energie- en vervoersektore, vergelyk word nie.

Tweedens is metaangas, met sy 10 tot 12 jaar leeftyd in die atmosfeer, nie dieselfde as koolsuurgas, wat vir honderdduisende jare in die atmosfeer bly nie. Derdens is daar nog geen internasionaal gestandaardiseerde rekenkundestelsel vir kweekhuisgasse nie en wat jy nie kan meet nie, kan jy nie bestuur nie. Dat die veebedryf meer moet doen om sy klimaatvoetspoor te verklein, staan soos ’n paal bo water, maar om veeboere as die hoofverdagtes in die klimaatveranderingsuitdaging uit te sonder, is bitter onregverdig.

Om miljoene meer hektare se monogewasse te verwerk om plantmateriaal as ʼn alternatief vir diereproteïene te bied, kan niks goeds vir biodiversiteit, ontbossing en natuurvriendelike boerdery inhou nie. Boonop het niemand nog die omgewingsimpak, kweekhuisgasvrystellings of doeltreffendheid daarvan probeer meet nie.

Armoede en honger

Om agter die kap van die byl te kom oor die verhoogde spanning in die verhouding tussen mens en dier, moet jy bloot die geldspoor volg.

Ons beleef ʼn déjà vu van die kompetisie wat margarien in die vroeë 1970’s as plantgebaseerde alternatief vir botter geword het. Tot vandag word die gesondheidsvoordeel as ʼn aggressiewe bemarkingslenter ingespan, al het die wetenskap die geldigheid daarvan lankal vol gate geskiet.

Die werklike kwessie is die sentralisering van mag, kapitaal en wins in die waardeketting. Enige kleinskaalboer in die Kongo of Gaboen, wat een koei besit, kan sy eie botter maak. Om margarien te maak en te versprei verg baie kapitaal wat slegs vir groot, hoëtegnologiefabrieke moontlik is. Margarien sal altyd die speelveld van die multinasionale korporasies bly, tot voordeel van hulle beleggers en aandeelhouers.

Ten spyte van drukgroepe se mening, sal kleinskaalse melkboere die keuse uitoefen om hul eie botter te maak. (Foto: Yolanda Coervers, Pixabay)

Hierdie enkele, groot voedselmaatskappye is ongelukkig ook die vernaamste bron van befondsing vir navorsing en ontwikkeling, want wetenskap kos geld. Dit het noodwendig ʼn uitwerking op die wat, wanneer en waarom van wetenskaplike ondersoek, en stel die onafhanklikheid van resultate, uitkomste en oorsig in gevaar.

Boonop het die stem van die wetenskap in die algemene geraas oor voedselstelsels, diereproteïene en veeboerdery verdwyn. So asof dit op dieselfde vlak beoordeel moet word as die emosionele appèl op verbruikers, die dryf na winsgewendheid vir aandeelhouers en die lawaai van oningeligtes op sosiale media.

Die werklike uitdaging vir die wetenskap rakende ons voedselstelsels is hoe ons meer op minder en met minder kan produseer. Twee miljard meer mense moet oor die volgende 30 jaar gevoed word.

Ongeveer 900 miljoen mense ly tans honger, terwyl kosvoorrade in die orde van 35% verlore gaan of vermors word. Dít is wat ons moet dwing om nuut oor ons voedselstelsels te dink.

Ons durf nie koud staan of wegskram van beskuldigings en persepsies dat boere in die produksieproses onverantwoordelik met sintetiese kunsmis, spuitstowwe, bewerkingsmetodes en grondgesondheid omgaan nie. Ons kan wel beter doen en elke boer behoort daarna te streef om sy plaas in ʼn beter toestand aan die volgende geslag oor te dra. Eweneens moet die verbruiker en die kritiese wêreld begin agterkom en raaksien dat die welstand en gemak van ons vee vir ons ʼn ernstige saak is. Anders sal ons sukkel om die belangrike plek wat diereproteïene in die voedselstelsels beklee, te beskerm en te bevorder.

Ongelukkig is daar geen een-grootte-pas-almal, of eenvoudige oplossings vir die aanpassing van voedselstelsels nie. Oplossings vir die vraagstukke in die VSA sal noodwendig verskil van dié in Afrika, en oplossings in Asië kan nie dieselfde as in Europa wees nie. Dit is waarom produsente aktief betrokke moet wees in die soeke na oplossings en ʼn plek om die gesprektafel moet hê.

Die heel belangrikste is egter nie die plek aan die tafel nie, maar die inhoud van ons insette. Dit moet op wetenskap gegrond wees, anders is dit oor 10, 50 of 100 jaar nie meer geldig nie. Dit moet sin maak, vir onsself, vir verbruikers en vir beleidmakers.

Die pad na die VN se Voedselsistemeberaad is besaai met oplossings wat net nie sin maak nie!

Voedselsekerheid is in gedrang op plekke waar peste en plae nie met tegnologie en wetenskaplike metodes bestry word nie. (Foto: Wolfgang Eckert, Pixabay)

Neem byvoorbeeld Nederland se verbintenis om sy nasionale beeskudde te halveer, nogal met begrip dat ʼn land soos Ethiopië dit nie kan bekostig nie en selfs meer beeste in dié land moet toelaat. Die melkbeeste in Nederland lewer gemiddeld digby 30 liter melk per dag, teenoor een liter in Etiopië. Om ʼn uitgebreide gesin in Etiopië van 100 liter melk te voorsien, het jy 110 beeste nodig, of drie uit ʼn melkery in Nederland. Dit maak nie sin om die Nederlandse beeste te verminder en die Etiopiese beeste meer te maak nie. Ons moet Nederlandse genetika, produksiepraktyke en tegnologie in Ethiopië kry, maar daarvoor is ʼn gunstige klimaat vir beleggings nodig.

Dit maak nie sin om te sê ons gaan ʼn gebied so groot soos Suid-Amerika uit produksie haal en aan die natuur terugbesorg, en deur agro-ekologiese produksiepraktyke wegdoen met kunsmis en spuitstowwe, terwyl twee miljard meer mense gevoed sal word nie.

Die somme klop nie. Om meer te produseer met minder op minder, het ons beter tegnologie nodig, so ook beter genetiese tegnologie. Om alles te kroon het ons die nuutste en beste opleidingstelsels nodig wat meer vaardige boere kan oplewer, sodat hulle op die snypunte van nuwe tegnologie kan presteer.

Hierdie uitdaging plaas die wetenskaplike aan die voorpunt. Die wetenskap en tegnologie is die flits in die hand van ʼn nuwe geslag boere wat hul weg uit die doolhof van emosionele, politieke en aktivistiese druk moet vind. Die stem van die wetenskap moet klokhelder bo al die ander stemme in die geraas oor kos, voeding en diereproduksie gehoor word. Boere mag nooit ʼn kompromis met die wetenskap soek of toelaat nie; jy respekteer dit of daag dit uit met beter data.

Van die wetenskaplikes verwag ons nie wonderwerke nie, ook nie om gewild te wees nie. Hulle moet net reg wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swagger

Die probleem is nie vleis nie. Die probleem is te veel mense. Hopeloos te veel. Weereens word die simptome aangespreek en nie die probleem nie. Minder mense sal baaaanja probleme op hierdie planeet oplos. Maar nee, almal dink mos babatjies is tog sooooo skattig.

VaalDonkie

Ek hou van vleis eet. Dis genoeg van ‘n argument. Ek het nie nodig toestemming te vra nie. Ek eet in elk geval net “free range” of wild wat gejag is.

Hennie

Volgens Mr Klaus is daar te veel useless eaters

RS

Mense wat aandag soek.

Sylvia

Dit is al ‘n argument vandat ek my verstand gekry het. Die sogenaamde “gesonde eters” het julle al regtig gekyk hoe groente/vrugte hanteer en behandel word? Dit is nie noodwendig oorbevolking nie, mense is te lui om te werk, ek bedoel hard te werk, regtig goed ingelig te wees van hoe om met jou grond te werk sodat jy die beste oeste en weiding voortdurend kan hê. O, ja, nou is dit weer die kwessie van “het nie geld vir opleiding nie” dit is mos nie deel van almal se subsidie nie. Om met bees, bok, skaap,, vark is baie… Lees meer »