Bekamp longontsteking in vee betyds

Moniteer jou diere en gee vir hulle die regte aanvullings om ernstige verliese weens longontsteking te voorkom. (Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Deur dr. Hanré Ferreira, veearts en tegniese produkbestuurder: Lewendehawe Virbac

Gedurende die koue maande van die jaar ondervind veeprodusente groot uitdagings, want dit is veral longontsteking wat dan voorkom. Om jou vee warm, gemaklik, goed gevoed en gesond te hou, vereis beplanning en voorsorg.

In die oorgangsmaande, soos vanaf herfs na winter en winter na lente, word ʼn toename in longontsteking gesien, maar dit kom ook dwarsdeur die jaar in Suid-Afrika voor. Indien die dag- en die nagtemperatuur begin om met meer as 10 grade Celsius, en veral meer as 20 grade Celsius te verskil, is die risiko vir longontsteking groter.

Wanneer die eerste geval van longontsteking onder veldtoestande op ʼn plaas of in ʼn gebied voorkom, moet die waarneming van siek diere verskerp word, omdat dit ʼn aanduiding is dat die omgewingstoestande nou gunstig is vir die voorkoms van siekte.

Daar is faktore wat ʼn dier se vermoë onderdruk om weerstand teen die ontwikkeling van dié siekte te bied. Dit sluit in stres, wat die dier se normale witbloedselwerking strem, voedingstekorte, veral proteïen- en vitamien- en mineraaltekorte, stof en koue.

Namate dit droëer en kouer word, is daar meer stof wat die slymvliese kan irriteer en die werking daarvan beïnvloed. Die slymvliese moet die organismes wat siektes veroorsaak uit die longe hou. Slymvliesgesondheid is daarom kardinaal om die asemhalingstelsel siektevry te hou.

Voorkoming en behandeling

Vitamien A-aanvullings in die droë maande, wanneer groen gras nie volop is nie, is belangrik. Nuwe studies het getoon dat vitamien A selfs aangevul moet word om goeie opname te verseker uit die gras of voer, ongeag van die groen gras en beta-karoteen wat teenwoordig is. Vitamien A hou die slymvliese gesond.

Sink en selenium speel ʼn kritiese rol in die funksionering van die immuunstelsel. Maak seker jou diere het nie ʼn tekort nie. Gebruik produkte soos beskikbaar in die Multimin- of Optilumen-reeks of iets soortgelyk om tekorte aan te vul.

Inenting met ʼn doeltreffende entstof wat die geïnaktiveerde toksien (leukotoksien), bevat, wat deur die belangrikste bakterieë uitgeskei word, is belangrik. Leukotoksien onderdruk die immuunstelsel, wat probeer weerstand bied teen dié siekte, omdat dit die witbloedselle vernietig. Inflammasie veroorsaak die meeste longskade, en moet met medikasie bestuur word.

Ent betyds in, aan die begin van die winter, sodat die immuunstelsel van die dier geheraktiveer kan word, sodat daar hoë vlakke van teenliggaampies in die bloed sirkuleer. Inenting kan nie die siekte totaal voorkom nie, maar dit lewer ʼn groot bydrae om weerstand te verhoog en om longskade te beperk.

Daar is verskeie inentings beskikbaar. Bespreek met jou veearts wat die beste produk vir jou kudde sal wees. Jou kuddeveearts kan tydens ʼn nadoodse ondersoek monsters na ʼn laboratorium wegstuur sodat daar bepaal kan word wat die regte entstof en antibiotikum is om te gebruik.

Vroeë behandeling met ʼn antibiotikum is kritiek en daarom moet siek diere betyds identifiseer word. Kyk uit vir vroeë siektetekens soos ore en koppe wat hang, diere wat stadiger beweeg en nie eet nie. Neem hierdie diere se temperatuur en indien daar ʼn koorsreaksie is, is behandeling noodsaaklik.

Die keuse van antibiotikum is belangrik. Daar is antibiotikums wat oor die toonbank beskikbaar is soos tetrasikliene (bv Terralon LA G(2676)(Wet 36/1947)) en sulfonamiede (byvoorbeeld Sulmetrim plus G3636 (Wet 36/1947)). Hierdie middels kan die groei van die bakterieë wat longontsteking veroorsaak, onderdruk.

Dit mag nodig wees om ʼn antibiotikum te gebruik wat slegs op voorskrif van jou veearts bekom kan word. Kontak dus jou veearts sodra jy vermoed daar het longontsteking in jou kudde uitgebreek.

Anti-inflammatoriese middels kan ook gebruik word en sal deur jou veearts voorgeskryf word om koors en inflammasie te verminder. Ná toediening herstel siek diere vinniger en longskade word verminder.

Longontsteking is ʼn belangrike siekte wat ʼn groot impak op produktiwiteit in die kudde hê. Die regte bestuur van aanleidende faktore is belangrik, maar so ook die gebruik van entstowwe omdat dit ʼn groot rol in die verhoging van die dier se spesifieke weerstand teen die siekte speel.

Vroeë waarneming van siektetekens en konsultasie met jou kuddeveearts om ʼn geskikte behandelingsplan saam te stel, sal verseker dat jou kudde die regte behandeling betyds ontvang, verliese beperk en produksie beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.