Beveg veediefstal ‘van bo af’

Om veediefstal beter te bekamp moet die invul van dokumentasie by veilings, soos veeverwyderingsertifikate, meer noukeurig gemonitor word. (Foto: Maroela Media)

Deur Jess de Klerk, veiligheidsverteenwoordiger van Saai vir die Vrystaat

Veediefstal is ’n emosionele saak, maar die meeste boere is apaties teenoor die probleem en word eers kwaad as daar by hulle gesteel word. Daarbenewens besef boere nie die volle impak van die krisis nie.

Daar word ontsettend baie energie, tyd en hulpbronne ingespan deur boere en die SAPD om veediefstal te bekamp, maar tans is dit ’n verlore stryd.

Die meeste operasies en patrollies fokus op die “runners” wat vee steel, maar ons sal van strategie moet verander om die vlaag van veediefstal te stuit en dit kan slegs gedoen word deur eerder na die omvang, modus operandi van die sindikate en afsetpunte van gesteelde vee te kyk.

 

Wat is die omvang en waarde van gesteelde vee?

Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie word daar jaarliks meer as 131 000 veediefstalgevalle gerapporteer en in die Vrystaat alleen word daar gemiddeld 4 000 sake aangemeld.

 ’n Beduidende hoeveelheid veediefstalle word nie aangemeld nie omdat boere voel dat daar in elk geval niks daaraan gedoen gaan word nie, wat beteken dat daar nog duisende gevalle bygevoeg moet word. Volgens Statistieke Suid-Afrika is die nie-rapporteringskoers sowat 70,7%.

Unisa beraam die waarde van vee wat gedurende 2019 – ’20 gesteel is, op sowat R 1 179 458 600 en daar word gemiddeld sowat 182 beeste, 282 skape en 138 bokke per dag in Suid Afrika gesteel.

Die pad tussen Ficksburg en Senekal word gemonitor en daar is gemiddeld 40 voertuie en waentjies per maand wat skape vervoer. Die waentjies het ten minste 30 skape op wat op ’n totaal van 14 400 skape per jaar neerkom.

 

Waar kom die skape vandaan en waar is die afsetgebied?

Die oorgrote meerderheid van die publiek dink dat die vee wat gesteel word in die informele nedersettings in kospotte eindig. Wanneer ons egter na die syfers kyk, is dit duidelik dat daar nie so groot informele mark vir vee bestaan nie.

Bheki Cele, minister van polisie, het tydens sy besoek aan Bethlehem, ná die moord op Brendin Horner, gevra waarheen die gesteelde vee gaan en hoe die diefstalle plaasvind. Ons het agtergekom dat vee deur “runners” gesteel word wat so min as R500 per nag verdien.

Hierdie persone steel genoeg vee om aan die bestelling te voldoen en versteek dit dan vir ’n wyle, of laai dit op bakkies en waentjies om versprei te word. Skape wat oorbly nadat daar aan die bestellings voldoen is, word in die plaaslike informele nedersettings verkoop.

Vee word vir etlike kilometers aangejaag en jong lammers wat die proses stadiger maak word summier doodgeslaan. Vee word dan na buurlande en plase vervoer tot die saak afgekoel het. Burgers van Lesotho is baie keer betrokke by veediefstal in die Vrystaat en boere in Lesotho gaan gebuk onder dieselfde sindikate.

Slagpale sal ook die herkoms van die vee wat daar aanland, beter moet naspeur. (Foto: Maroela Media)

 

Waar gaan die gesteelde vee dan heen?

Die omvang van veediefstal is net te groot dat al die diere op die informele mark verkoop kan word. Die gesteelde vee word meesal van voor af gemerk en weer in die produksieketting ingebring waar dit op veilings aan boere, veespekulante en slagpale verkoop word. Daar is gevalle waar die vel rondom die brandmerk uitgesny word en met steke toegewerk word.

Veediefstal is dus ’n gespesialiseerde, georganiseerde misdaad. Cele het genoem dat veediefstal net so groot, indien nie ʼn groter impak as transitorooftogte het nie en dus moet dit in ’n ernstige lig gesien word. Om veediefstal dus doeltreffend te bekamp sal daar na alternatiewe benaderings of strategieë gekyk moet word.

Dit is duidelik dat daar op die vervoer, afsetpunte, kopers en identifikasie van vee gefokus moet word, om sodoende die hele veediefstalkring te destabiliseer.

Die Vrystaat se provinsiale SAPD-kantoor het reeds baie in dié verband gedoen. Daar was die afgelope jaar verskeie operasies regdeur die provinsie gehou. Een van die operasies het behels dat daar vir ’n paar maande voertuie met waentjies wat vee vervoer voorgekeer is om hulle dokumentasie en vragte na te gaan. Talle van hierdie voertuigbestuurders het nie die korrekte dokumentasie gehad nie. Mettertyd het heelwat van hierdie persone, selfs die Lesotho-burgers, hul eie brandmerke geregistreer en dokumentasie gereed gehad.

Boetes is uitgereik, maar dié sake was vir verskeie redes teruggetrek of die boetes is bloot nie betaal nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) weier soms volstrek om hierdie persone te vervolg of skrap sake van die hofrol – hierdie neiging moet ook onder meer dringende aandag kry. Sake wat net teruggetrek, of geskrap word maak die harde werk van die SAPD ongedaan en ontmoedig hulle om in die toekoms iets aan hierdie probleem te doen.

Dit is veeboere wat op die ou end die gevolge van swak vervolging dra.

Al hoe die probleem daadwerklik opgelos sal word, is om te verseker dat die oortreders voor die hof gebring word. Dokumentasie en eienaarskap van vee sal noukeurig nagegaan moet word en oortreders moet vervolg word. Veediefstal moet deur die nodige kundiges as georganiseerde misdaad ondersoek word.

 

Wie is die veedief?

Dit kan jou buurman, jou plaaslike veespekulant of afslaer wees. Moenie die een wees wat die gesteelde items op die straathoek koop nie. Boere moet verantwoordelikheid neem en hulle vee merk en dokumentasie reg invul, anders kan hulle met ’n misdaadrekord sit. Afslaers en spekulante kan nie meer hul skouers optrek en sê hulle het nie geweet nie. Dit is hoog tyd dat die bedryf skoongemaak word.

Die plaaslike veediefstaleenhede van die SAPD is nie in staat om dié probleem alleen te beveg nie, weens verskeie redes, soos swak leierskap, tekorte aan personeel en die nodige kundigheid. Operasies moet dus uit multidissiplinêre spanne, wat die SAPD op hoër vlak, misdaadintelligensie, SAID, die departement van binnelandse sake en landbouveiligheidstrukture insluit.

Eksterne SAPD-lede onder provinsiale leiding het veral goeie werk in die oostelike deel van die Vrystaat verrig, waar afsetpunte en die vervoer van vee gemonitor word om die legitimiteit daarvan te verseker. Verskeie arrestasies en lasbriewe is tydens hierdie operasie uitgereik.

Hierdie oortreders moet deur veediefstaleenhede voor stok gebring word, maar ongelukkig versuim hulle al vir jare om hul pligte uit te voer.

Die veediewe en sindikate is gewetenloos en gewelddadig en sal nie skroom om te moor nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Deon ·

Daar is metodes wat kan help om veediefstal te bekamp soos die gebruik van sensors wat om skape se nekke geplaas word en wat a alarm boodskap na die boer toe stuur waneer die skape angstig raak . Daar kan ook mikrochips gebruik word om die skape te identifiseer . Somige boere a Blou verkleurmiddel wat die hele skaap ,wol en vel verkleur en a mens kan verskillende kleur kodes en kombinasies gebruik .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.