Mikroskopiese organismes soos aalwurms wat in die grond woon, hou ʼn groter gevaar vir Suid-Afrikaanse produsente in as wat hulle moontlik besef.
Volgens prof. Driekie Fourie, aalwurmkundige en tegniese produkleier vir Seedcare by Syngenta, strek die probleme wat plantparasitiese aalwurms veroorsaak veel verder as die bekende en kan dit ook ʼn beduidende uitwerking op langtermyn-oesopbrengs hê.
Prof. Fourie se jongste navorsing toon dat wanneer aalwurms in die grond teenwoordig is, dit bykans onmoontlik is om hulle uit te wis. Dit lei nie net tot grootskaalse opbrengsverliese nie, maar bedreig volhoubare gewasverbouing. “Ongeveer 12% van opbrengsverliese in Suid-Afrika word aan plantparasitiese aalwurms toegeskryf en in hoogs besmette lande kan verliese tot 60% en meer wees,” sê sy.
Aalwurms het ook ʼn geweldig nadelige uitwerking op mielies se wortelstelsels. Die klein worteltjies van jong saailinge is besonder weerloos teen aalwurmbesmetting en parasitisme. Tweesaadlobbige gewasse, soos sojabone, is ook uiters vatbaar vir aalwurmbesmettings.
Die aalwurms wat die ernstigste probleme in Suid-Afrika veroorsaak, kan in twee hoofgroepe verdeel word. Die een is knopwortelaalwurms wat in hoogs besmette dele van ʼn land voorkom en bogrondse plantdele laat vergeel, verdwerg en/of verwelk. Die wyfiewurms kan tot 1 800 eiers op ʼn slag in ʼn enkele eiermassa lê, soos wat prof. Fourie self op die wortels van ʼn vatbare sojaboonkultivar waargeneem het. Die tweede groep is letselaalwurms. Hierdie wyfies lê een eier op ʼn slag, maar doen dit voortdurend oor ʼn lang tydperk.
Sekere dekgewasse soos koring kan help om aalwurmbevolkings in toom te hou – maar kan hulle ook onderhou. Ander gewilde dekgewasse, soos sunnhennep, sal knopwortelaalwurms verminder, maar letselaalwurms toelaat om te vermeerder.
Graangewasproduksie in Suid-Afrika word veral aan bande gelê deur die bogenoemde twee endoparasitiese aalwurmgroepe, maar ook deur ektoparasitiese aalwurms. Prof. Fourie noem dat dit lyk asof ektoparasitiese bevolkings in sekere bewaringsboerderygebiede aan die toeneem is waar sy besig was met navorsingsprojekte.
“Die verskyning van nuwe aalwurmspesies, soos die hoogs patogeniese knopwortelaalwurm (Meloidogyne enterolobii) onderstreep die noodsaaklikheid om hierdie organismes deegliker te bestudeer en na te vors,” sê sy. “Dit is veral kritiek belangrik om die verband tussen aalwurmgetalle en -verskeidenheid en ʼn wye reeks faktore te ondersoek en beter te verstaan. Sodanige faktore sluit droogte, hoë reënval, besproeiing en ander omgewingsfaktore, asook chemiese, fisiese en biologiese grondparameters in.”
Dit is ook baie belangrik vir produsente om kennis oor die oorlewingsvermoë van aalwurms te bekom. Opnames wat in plaaslike graanproduksiegebiede gedoen is, trek boonop ʼn verband tussen hoër reënval en besproeiing en ʼn toename in aalwurmbevolkings.
“Hierdie mikroskopiese organismes het die vermoë om tydens ongunstige toestande soos droogte en koue te oorleef en gaan net voort om in graangewasse se wortels te voed sodra dit weer reën en warmer temperature aangeteken word.

Prof Driekie Fourie is ‘n aalwurmkundige en tegniese produkleier vir Seedcare by Syngenta. (Foto: Du Preez de Villiers)
“Aalwurms oorleef ook in die wortels of ander ondergrondse dele van dekgewasse wat goeie aalwurmgashere is, asook in grond met hoër temperature. ‘Warmer’ grond is onder meer die gevolg van bewaringsboerderypraktyke wat bepaal dat landbougrond nie onbedek gelaat moet word nie.
“Hoewel ons akademiese begrip van aalwurms verbeter het, skiet kennis op plaasvlak nog tekort. Produsente moet oor aalwurms en hul potensiële uitwerking op grond- en wortelgesondheid ingelig word,” sê prof. Fourie. “In belang van doeltreffende bestuur en navorsing is dit noodsaaklik om nuwe aalwurmspesies te identifiseer en te verstaan.”
Die voortgesette uitdaging van klimaatsverandering wat geografiese verskuiwings in rygewasproduksie teweegbring, kan nie uit die oog verloor word nie. Terselfdertyd is die koste verbonde aan aalwurmbeheerpraktyke, veral op droëlandplase, ʼn groot kopseer. Bestaande wisselboustelsels bevorder ongelukkig die opbou van aalwurmbevolkings, omdat die oorheersende en ekonomies belangrike knopwortel- en letselaalwurms wat algemeen in lande voorkom, ʼn wye gasheerspektrum het. Hierdie twee aalwurmgroepe se getalle bou dus in plaaslike graanproduksiegebiede op en hou uiteindelik groot skade vir produsente in.
Die goeie nuus is dat skade beperk kan word deur wisselgewasse te plant wat óf bestand is teen aalwurms óf swak gashere is. Belowende navorsingsresultate het byvoorbeeld al gewys dat weerstandbiedende sojaboonkultivars ʼn 39%-toename in opbrengs lewer.
“Die ontdekking van M. enterolobii in die Hoëveldstreek van Mpumalanga en in ander graanproduksiegebiede beklemtoon dat volgehoue navorsing en waaksaamheid onontbeerlik is,” sê sy. “Dit is belangrik om ʼn holistiese benadering tot plantparasitiese aalwurms te volg, aangesien hulle dikwels die weg baan vir sekondêre swaminfeksies.”
Om aalwurms in toom te hou kan boere in graanproduksiegebiede hul grond se organiese inhoud verhoog deur dekgewasse wat bestand teen aalwurms of slegte gashere is te plant en chemiese aalwurmdoders met gunstige omgewingsprofiele, wat geen negatiewe uitwerking op diere en mense het nie, en voordelige organismes is, te gebruik.
Sy sê die beste voorbeeld is Syngenta se AVICTA®-saadbehandeling. “Hierdie uiters doeltreffende aalwurmdoder verg geen moeite van die produsent nie en beskerm saailinge ook teen saad- en saailingsiektes, asook insekte.
“Die toenemende fokus op omgewingsvriendelike produkte met aalwurmdodende eienskappe is ook ʼn belangrike stap in die regte rigting, naamlik om die gesondheid en gehalte van ons grond te optimaliseer. Dit is belangrik om dié werklikheid in gedagte te hou, siende dat dit onmoontlik is om hierdie onsigbare vyande met hul uitstekende oorlewingseienskappe heeltemal uit te wis.
“Deur kennis, doeltreffende bestuurstrategieë en samewerking te kombineer, kan ons die uitdagings wat aalwurms inhou beter aanpak en die langtermyn-volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse landbou verseker,” sê prof. Fourie.
Op m stadium gehoor dat Lantana tee op die grond uitgespuit, is n oplossing. Lantana is n indringerplant en ek en ander boere is moedeloos om dit te probeer uitroei.