Boere moet beheer neem van datastormloop

Boere gaan toenemend in ‘n stryd gewikkel word om die data wat op hul plase gegenereer word, te beskerm. (Foto: mohamed_hassan, Pixabay)

Die potensiële probleme en kwessies wat uit die magdom versamelde data op plase kan spruit, was ʼn warm onderwerp tydens ʼn boeredag wat deur Case IH in Dullstroom aangebied is.

ʼn Paneel kenners in die landbou het die verband tussen volhoubaarheid en tegnologie bespreek terwyl die gesprek intyds na bymekaarkompunte in Somerset-Wes, Parys en Bergville uitgesaai is.

ʼn Datastormloop is wêreldwyd in landbou ontketen, wat die fondament is waarop Landbou 4.0 gebou word.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbou-organisasie, is die drie rykste landbou-organisasies wêreldwyd by dataversameling betrokke. “JA-Zenchu in Japan, Farm Bureau in Amerika en Coldiretti in Italië het ryk geword deur hul organisasies in groot data-oesmasjiene te omskep. Hulle samel dit in, verwerk dit, verpak dit en verkoop dit stroomop en stroomaf in die waardeketting.”

Hy sê ná ʼn gesprek wat hy met Bill Gates gehad het, het dit vir hom duidelik geword dat Gates nie wil hê boere moet in hierdie datastormloop betrokke raak nie. “Hy sê boere moet steeds die fabriek wat hierdie data vervaardig, finansier. Hulle moet geld maak deur die grawe te verkoop waarmee hierdie data gemyn kan word.

“Gates sê nóg hy nóg Microsoft het die kapasiteit om van plaashek tot plaashek te gaan om hierdie data in te samel, maar ek glo landbou-organisasies kan een groot hek wees om die data reg te versprei. Hoe meer boere betrokke raak, hoe beter word die integriteit van hierdie data.

“Hierdie data is divers, dit sluit versekeringsdata, markdata, biodata, geografiese data en die profiel van die boer in. Dan kom die passiewe data nog by wat deur en tussen masjiene gegenereer word, wat tans in die niet verdamp. Wanneer jy dit kan bysit, kan jy die volledige prentjie kry.”

Op pad na SA

In Suid-Afrika is ons naby daaraan om die volle omvang van hierdie stormloop te ervaar en Tony Esmeralda, sakeleier van Corteva in Suider-Afrika, sê die kwessie rakende data in Suid-Afrika moet nog deurgetrap word.

“Corteva het vier jaar gelede die landbousagteware-ontwikkelingsmaatskappy Granular bekom en gaan binnekort sy oopbronplatform, Granular, in Suid-Afrika bekendstel. Dit gaan boere in staat stel om hul data te bestuur.

“Daar is reeds oulike modelle in Europa en ons by Corteva sê die data behoort aan die boer. Hy kan dit beskikbaar stel aan wie hy wil. Net soos ek op Facebook iemand kan uitnooi om na my foto’s te kyk, kan ʼn boer ons uitnooi om na die saadspasiëring van sy wisselbare planter te kyk om regstellings te doen.”

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) samel reeds vir ʼn wyle data in en het vyf jaar gelede ʼn datawetenskap-eenheid begin, juis met die verwagting van die komende verwikkelinge. “Ons het wiskundiges, bedryfsingenieurs en mense wat met geografiese inligtingstelsels (GIS) werk, aangestel,” sê dr. Ferdi Meyer, die besturende direkteur.

“Die werklikheid is egter dat dataversameling en die verwerking daarvan na bruikbare inligting ingewikkeld is. Ons het Nasa-satellietbeelde gebruik om na oesskattings in Afrika te kyk. Daarna het ons die werklike data uit Kenia gaan versamel en agtergekom dat dit uitstekend met mielies werk, maar daar was heelwat probleme met soja. Die satelliete is nooit geleer om tussen soja en byvoorbeeld ander boontjies te onderskei nie.”

Hy sê boere is gereed om data te voorsien, maar die uiteindelike uitdagings gaan wees om dit uit die masjien te kry. “Dit is die werklikheid en dit gaan tyd neem.”

Gerrit Bezuidenhout, programleier, dr Ferdi Meyer van BFAP, dr Theo de Jager van Saai, Tony Esmeralda van Corteva en Derek Mathews van Graan SA in druk gesprek oor die rol wat tegnologie in die volhoubaarheid van landbou speel. (Foto: Du Preez de Villiers)

Wetgewing en beleid

Meyer sê vertroulikheid is ʼn baie belangrike aspek in die datawêreld en hulle moes ʼn hele afsonderlike maatskappy stig om aan die wetlike vereistes, soos die Popi-wet, te voldoen. “Daar word tans heelwat data op maniere geskraap, dit is die ‘regte term’,  verpak en verkoop, wat nie wettig is nie.”

De Jager sê soos hy boere ken, gaan hulle nie net gelate van hierdie data afstand doen nie. “Ná 25 jaar in landbou-organisasies kan ek nou al sê boere sal wil deel in die eienaarskap van hierdie data en bepaal wat daarvan word.

“My data moet myne bly en in my spreekwoordelike silo gestort word. Derde partye kan dwarssnitte deur my silo maak en op verskillende vlakke aftap, maar dit kan nie oop data wees nie, want dan kan ander partye daarin krap.

“Ek wil altyd die voordeel hê en dit as ʼn paneelbord gebruik om my dag te beplan.”

Daar is saamgestem dat georganiseerde landbou ʼn sterk databeleid moet opstel wat die regering moet beïnvloed, lank voordat hulle daarmee gaan begin. “Ons sal die regering drie stappe voor moet wees sodat ons gereed is met ons insette voor die regering met hulle beleidsvormingsproses begin,” sê De Jager.

Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, sê as boer is dit egter nie so maklik om net op die datatrein te klim nie.

“Dit is nie bekostigbaar om eensklaps ʼn groot trekker en planter te koop wat wisselbare plasing kan doen nie. Ek vat my eie plaas as ʼn voorbeeld, ons het begin by die kartering van die grond om die regte inligting te kry en toe haak ons vas by ʼn punt waar ek al die data kan bymekaarmaak, maar ek kan nie by die punt kom om my planter toe te rus om wisselend toe te dien nie. Dit was een tree te ver en ek moes toe ʼn ander oplossing soek.”

Optimalisering teenoor wins

Mathews sê data sal boere moet help in hulle stryd tussen “winsgewend en opbrengs”.

“Die maatstaf is nie meer opbrengs per hektaar soos in die ou dae waar die markte gereguleer is nie. Toe het boere net opbrengste gejaag en hulle was uitstekend daarmee. Vandag is dit nie noodwendig die hoogste opbrengs wat die meeste wins lewer nie. Nou gaan dit oor optimalisering en al die data wat moet saamwerk om daardie inligting vir jou te kan gee, sodat ʼn boer uiteindelik volhoubaar kan wees.”

Esmeralda sê hul Granular-platform gaan boere hiermee bystaan.

Met ʼn platform soos dié kan alle moontlike faktore, soos markpryse, die saad-, kunsmis- en dieselkoste, asook die dravermoë van die grond, gebruik word om intyds vir ʼn boer se wisselbare planter aanwysings te gee om ʼn “winsgewende” plantestand te handhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danny ·

Wees wakker met waarmee julle jul besig hou.. en waar dit op die ou-end gaan opeindig. Wakker slaap, tyd van skape is verby!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.