Boere moet noodweer verstaan en toepas

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Suid-Afrikaners is onlangs weereens gekonfronteer met ʼn abnormale hoë moordsyfer wat steeds styg. Volgens kenners toon dit onomwonde dat die SAPD besig is om beheer oor misdaad te verloor en dat die voor die hand liggende oplossing hiervoor is dat die publiek self na hul veiligheid moet omsien.

Volgens adv. Francois, Kriel, wat ‘n lid van die Noord-Gautengse vereniging van advokate is, gaan dit dus belangriker word dat Suid-Afrikaners die beginsels van noodweer, of selfverdediging soos dit in die volksmond bekend staan, onder die knie kry.

“Ons woon in een van die gevaarlikste lande in die wêreld en die realiteit is dat een of meer van ons in die afsienbare toekoms gedwing gaan word om ʼn vuurwapen in selfverdediging te gebruik.”

Hy het tydens AfriForum se konferensie met die tema “Die boer en die reg” gesê dit is uiters belangrik om te weet wanneer jy jouself regmatig mag verdedig en dat jy die wetlike aspekte daarvan moet verstaan.

“In daardie oomblik waarin jy moet handel, kan jy nie ingewikkelde regspraak in jou kop beantwoord voor jy ʼn besluit neem nie – dit is juis waaroor noodweer gaan. Dit is ʼn uitsonderlike situasie waarin die reg jou toelaat om die reg in eie hande te neem indien die normale regsremedies nie vir jou beskikbaar is nie.

“Die definisie van noodweer is wanneer iemand geweld gebruik om homself teen ʼn onregmatige aanval te verweer, wat reeds ʼn aanvang geneem het of wat onmiddellik dreigend is,” sê hy.

 

Tydens AfriForum se kongres by die AfriForum-teater, het regslei, leierboere en kenners belangrike inligting oor wetlike aspekte wat op landbou van toepassing is, met boere gedeel. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Elemente van noodweer

Hierdie definisie bevat ʼn paar belangrike elemente wat van naderby beskou moet word om te bepaal wanneer ʼn regmatige selfverdedigingsituasie hom voordoen.

In die meeste gevalle vind noodweer plaas wanneer die slagoffer sy lewe of sy liggaamlike integriteit tydens ʼn plaasaanval, gepoogde kaping of verkragting beskerm.

“Eerstens kyk ons na die vereistes van ʼn aanval. Jy kan nie die optrede van die SAPD of balju as ʼn aanval beskou nie, maar wanneer hulle hul perke oorskry, kan jy jouself wettiglik daarteen verdedig.”

Jy mag jouself verdedig teen ʼn kind, of iemand wat dink hy treë regmatig op, of iemand wat nie die kapasiteit het om tussen reg en verkeerd te onderskei nie, of onder die invloed van dwelms of drank is.

Jy kan ook uit noodweer ʼn derde persoon beskerm, mits daardie persoon toestemming verleen dat jy hom mag beskerm.

Noodweer is ook van toepassing wanneer jou bates en belange in gedrang is.

ʼn Goeie voorbeeld is wanneer brandstigting verhoed moet word en jou eiendom beskerm moet word of wanneer iemand jou vryheid wil beperk soos in gevalle van menseroof. Jy mag dit ook aanwend om iemand te keer om jou eiendom te betree.

ʼn Volgende element is dat die aanval reeds ʼn aanvang moes neem, of onmiddellik dreigend is. Jy kan nie uit noodweer teen ʼn toekomstige aanval optree nie, maar jy hoef nie te wag vir die eerste skoot om af te gaan nie, jy moet verhoed dat jy geskiet word.

Dan is daar die element van ʼn geldige verdedigingshandeling. Dit moet eerstens teen jou aanvaller, asook teen ʼn onregmatige handeling gemik wees.

ʼn Uitvloeisel hieruit is ʼn gewilde besprekingspunt, naamlik minimum geweld.

“Soms kan die aanval afgeweer word deur slegs jou vuurwapen uit te haal en langs jou te hou om te wys dat jy een het. Dan moet jy ook in ʼn breukdeel van ʼn sekonde kan besluit of dit nodig is om die persoon te dood, of net te wond, maar dan moet jy doodseker maak dat slegs ʼn wond voldoende is om die aanval af te weer,” sê hy.

Veg of vlug

Kriel sê die reg is nie baie duidelik oor wanneer dit jou plig is om te vlug of te retireer nie, maar volgens sy mening is daar nie so plig nie.

“Wat wel belangrik is, is dat jy nooit in die rigting van ooglopende gevaar moet beweeg nie, as jy die geleentheid het om te retireer, beweeg eerder weg, maar wanneer jy in ʼn situasie is waar jy jouself in risiko plaas deur te retireer, is daar geen plig om te vlug nie.”

Binne huis

“Ek word gereeld gevra oor wat die voorwaardes vir noodweer is wanneer die aanvaller in jou huis is. Vir gevalle binne die huis is die wetlike gesag rotsvas daaroor. Jou huis is jou veilige skuiling en daar is geen plig dat jy moet reïtereer nie. Die aanvaller het ʼn ingeligte besluit geneem om in jou persoonlike ruimte te kom en hy is nie daar om koffie te drink nie.

“In so ʼn situasie is dit wel belangrik om te onthou dat jy steeds nie die perke van noodweer mag oorskry nie. Maak seker dat die geweld wat jy toepas, nie meer is as wat nodig is om die dreigende aanval af te weer nie. As jy weet jou handeling oorskry daardie perke, kan jy skuldig bevind word aan moord of in sekere gevalle manslag.”

Hy voeg by dat dit baie belangrik is om eers die bedreiging te identifiseer en dan ʼn besluit te neem oor die hoeveelheid geweld wat jy gaan toepas om dit af te weer.

Putatiewe noodweer

Kriel sê hy het al ʼn paar moordsake hanteer waar ʼn persoon gedink het hy in gevaar is, of onregmatig aangeval word, maar dat dit nie werklik so was nie.

Hy gebruik die voorbeeld waar iemand ʼn beweging na die agterkant van sy rug maak, hoewel hy nie gewapen is nie. “Wanneer jy redelike gronde gehad om so te dink en jy skiet daardie persoon, is jy nie skuldig aan ʼn misdryf nie.”

Dit geld veral in gevalle vir dames en ouer mense want hulle word nie noodwendig op dieselfde basis getoets as ʼn weerbare persoon nie.

“Daarmee saam, as jy in ʼn situasie kom waar jy vermoed daar mede-aanvallers is, of vermoed dat die persoon wat in jou huis inkom gewapen is, is jy geregtig om jou jouself te verdedig.”

 Redelike persoon

ʼn Noodweerhandeling is ʼn baie belangrike besluit wat jy in ʼn baie kort tydjie moet neem, maar Kriel sê ʼn maklike toets om te bepaal of jy regmatig sal optree, is om jouself net te vra wat die redelike persoon in dieselfde situasie sou doen. “As jy in daardie oomblik in jou kop die tevredenheid het dat die redelike man die aanvaller gaan doodskiet of wond, mag jy daarvolgens handel.”

Die rede hiervoor is as jy aangekla word van ʼn misdryf, of dit nou manslag of moord, of poging tot moord is, moet die voorsittende beampte of regter hom in jou skoene plaas. Hy kan nie soos ʼn leunstoelkritikus net daar sit en die saak vanuit ʼn objektiewe oogpunt benader nie. Sodoende kan hy besluit of jou daad redelik en regmatig was.

Daarom is dit die enigste besluit wat jy moet neem voor jy die sneller trek.

 

Advokaat Francois Kriel is ‘n kenner op die gebied van noodweer. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Wat doen jy daarna

Kriel sê nadat die sneller getrek is en die aanval afgeweer is, is jou verantwoordelikhede nog nie verby nie.

Eerstens moet jy seker maak die toneel is veilig en alle gevare is geneutraliseer. Let spesifiek op dat die wapens van die aanvallers weggeskop is. Daarna kan jy aandag aan jou geliefdes gee om toe te sien dat hulle veilig en onbeseer is.

Dan eers word daar mediese aandag aan die aanvaller gegee, want hy het ʼn ingeligte besluit geneem het om jou plaas of huis te betree.

Maak dan ʼn opsomming van jou toneel. Bepaal hoeveel verdagtes is gewond, gedood of nog op vrye voet wat die toneel verlaat het. Kontak dan jou naaste nooddienste soos jou plaaswag, AfriForum se plaasveiligheidsinsiatief of maak gebruik van ʼn nooddiens-selfoon‑app.

Gee dan soveel as moontlik inligting deur, maar weet dat die adrenalien gaan vloei. Laat hulle dan die SAPD ontbied.

Laastens moet jy jou wapen veilig maak, want jy wil nie die nooddienste moet jou met ʼn plaasaanvaller verwar nie. Bly ook op die toneel tot hulle daar aankom.

“Moet onder geen omstandighede aan ʼn toneel peuter nie. Ek het al verskeie kere boere verdedig waarin die slagoffer dan na die tyd beskuldig word dat hy met ʼn toneel gepeuter het. Moenie doppies optel of liggame skuif nie en moet ook nie aan die wapens raak nie. Skop dit weg van die liggame af.”

Verklaring aflê

Hy voer aan dat jy ʼn verklaring op die toneel mag aflê as jy gevra word, maar jy mag nie gedwing word nie. “My raad is om dit eers te doen wanneer jy regsadvies bekom het, of in die teenwoordigheid van ʼn regsverteenwoordiger is en bedaar het, sodat jou verstand helder is. Dit is waarom daar dienste en fasiliteite soos AfriForum is. Laat hulle jou help in die proses om die verklaring aan die polisie te oorhandig sodat daar geen onduidelikhede in is nie.”

Hoewel jy niks verkeerds gedoen het nie en regmatig opgetree het, kan daar later ʼn verkeerde beslissing gemaak word en jy aangekla word vir iets wat jy nie gedoen het nie.

Onskuldige boer in ʼn vangwa

“Mense vra my altyd waarom boere of lede van die publiek van moord, poging tot moord of manslag aangekla word as hulle regmatig opgetree het. Dit is ʼn standaard operasionele praktyk (SOP) en die SAPD moet ʼn dossier op ʼn toneel oopmaak in lyn met die aard van die skietvoorval.

“Dan kom dit by die aanklaer uit wat volgens die feite besluit of dit ʼn prima facie-saak is wat vervolg moet word al dan nie,” sê hy.

Ongelukkig is daar baie gevalle waar onkundige polisielede ʼn toneel hanteer of wanneer daar twyfel is oor die legitimiteit van ʼn toneel, wat dan aanleiding gee dat ʼn boer in hegtenis geneem word.

Kry dan so gou moontlik regsverteenwoordiging en moenie ʼn verklaring aflê nie.

“As ʼn persoon in ʼn situasie kom waar hy gedwing word om sy vuurwapen te gebruik, moet hy ʼn baie moeilike besluit neem, maar jy kan in die regte omstandighede skiet.

“Dit is baie beter om deur een geoordeel word as om deur ses na jou graf gedra te word,” sê Kriel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Du Preez de Villiers ·

Dankie vir die uitwysing Kremetart, ons maak reg.

Pieter ·

Ek wil weet, die plaaswerkers besluit om te staak. Hulle kom na my plaas toe,en betree my perseel. Die stakers raak agresief en geweldadig, begin eiendom soos store en implemente en trekkers brand, mag ek hulle skiet om te verhoed om verder te plunder?

Frank ·

Dis nag, iets breek voor in jou huis. Jy gryp jou wapen en gaan ondersoek instel. In die donkerte van die tv kamer is daar so 7 persone wat in jou rigting beweeg. Dit lyk of iets in een se hand blink…….. is dit nou ‘n mes, pistool of kandelaar?
Nou moet jy steeds vinnig, deur die slaap, sonder jou bril besluit of jou lewe in gevaar is???? Besluit om een te skiet, maar almal is ge-dagga en kom steeds jou rigting?????
Met ons land se huidige regstelsel is die verdediger in ‘n verloor situasie. Al die pad.

Hannes ·

Hierdie artikel is baie insiggewend. Ek sê altyd vir my dogter vir enige opterde, STOP, DINK … DOEN.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.