Boeta wil boere in nood vinniger help

Noodhelikopter- mediese dienste (HEMS) word al hoe gewilder en is hier om te bly. Dít is die mening van Boeta Dippenaar, voormalige Protea-krieketspeler en nou uitvoerende hoof van Henley Air. Hy het tydens Nampo se eerste dag vir die media gesê met die plattelandse paaie en ander infrastruktuur wat versleg, word dit al hoe moeiliker om in ʼn noodgeval betyds by mense uit te kom. “Ons het besef daar is ʼn ongelooflike behoefte vir die diens wat ons bied, juis weens die verval van die staat.”

Boeta Dippenaar span nou al sy tyd in om ʼn noodhelikopterdiens vir onder andere boere te bedryf.

Hierdie maatskappy vlieg tans 38 helikopters, waarvan hulle 18 besit. Daarbenewens het hulle ʼn mediese arm, Rocket Hems, met 11 helikopters, waarvan agt in ʼn ambulans omgeskakel kan word. Dit sluit drie Bell 230’s en agt Bell 222’s (die Airwolf-helikopters) in.

“Ons werk vanaf twee basisse, een uit Johannesburg en een uit Kimberley, wat gemik is om mense op die platteland so gou moontlik by ʼn hospitaal te kry. Dít terwyl die helikopters volgens internasionale standaard toegerus is om as ʼn lugambulans te dien,” sê Dippenaar.

Dr. Johan Horn, mediese hoof van Rocket Hems, wys van die mediese toerusting wat nodig is om een van dié maatskappy se Bell 230’s as ʼn volledige lugambulans toe te rus.

Rocket Hems fokus uitsluitlik op een doel en dit is om met so min moontlik administratiewe rompslomp sy lede se lewens te red.

“Ons probeer om die mediese fonds se goedkeuringsproses, wat in daardie uiters kritieke oomblikke lank kan neem, te oorbrug. Vir ons lede kan ons ʼn helikopter binne agt minute in die lug plaas,” het Hendrik Louw, uitvoerende hoof, vir Maroela Media gesê.

Maroela Media het vir Dippenaar gevra hoe hy, vanaf professionele krieket, ʼn leier in die lugvaartbedryf geword het.

“Jong, dit was per toeval. Met die 2003-Wêreldbeker het ons ʼn spanbousessie in die Drakensberge gehad en as deel daarvan is ons geblinddoek in ʼn helikopter gelaai en iewers in die bos afgelaai om ons pad terug te vind. Dit was vir my baie interessant.

Die span van Rocket Hems by Nampo is Werner Venter, vlieënier; Stanley, die mediese opleidingspop; Ettiene van der Merwe, paramedikus; Björn Gussenhoven, operasionele hoof; Hendrik Louw, uitvoerende hoof; Johan Horn, mediese hoof, en Boeta Dippenaar, uitvoerende hoof van Henley Air.

“In 2004, toe ons in Wellington wou speel, was die veld nat en hulle het ʼn helikopter ingekry om die veld droog te waai. Toe die loods uitgeklim het, het ek met hom gaan gesels en dit was ook vir my bitter interessant.

“In 2005 het ek ʼn geleentheid vir ʼn demonstrasievlug by Henley Air gekry en besef dit is wat ek wil doen. Ek het dus begin om vir my helikopterlisensie te kwalifiseer, terwyl ek nog krieket gespeel het en vandag, 17 jaar later, is ek die hoof van Henley Air,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trompie12344 ·

Baie goeie gebaar maar nie veel plaase in Jhb nie stel iets op in noordwes provinsie asook limpopo

Miena ·

Ons het al n paar keer van hul diens gebruik op die N4 tussen Bronkhorstpruit en Witbank in groot ongelukke en hul diens is puik… Baie dankie vir julle Boeta!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.