Diplomate smul aan volstruisgeregte

Volstruisvleis is bekend vir sy gesondheidseienskappe. (Foto: ostrichsa.co.za)

Die volstruisbedryf, wat hoofsaaklik uitvoergedrewe is, het met mening teen die inperking-terugslag geveg met ʼn uitnodiging aan talle diplomate van konsulate in Suid-Afrika om ʼn volstruis-geselligheid by te woon. Die geleentheid is by die premierswoning, Leeuwenhof, aan die voet van Tafelberg gehou.

“Hoewel die meeste van hulle al volstruisvleis geproe het, het ons hulle op ʼn wye verskeidenheid volstruisgeregte getrakteer,” het Pieter Kleyn, die hoof‑ uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer (SAVSK), aan Maroela Media gesê.

“Carpaccio [dun gesnyde rou repiesvleis], filet, frikkadelle wat in deeg gebak is, biltong en droëwors is aan die diplomate van onder andere Duitsland, Frankryk, België, Nederland, Switserland, Italië, Spanje Namibië, Angola, Mosambiek, Indië en Taiwan voorgesit.”

Die Wes-Kaapse departement van landbou, onder leiding van LUR Ivan Meyer, het die geleentheid saam met die SAVBK aangebied en gesê dat dit noodsaaklik is om buitelandse diplomate aan eiesoortige Wes-Kaapse produkte bekend te stel om marktoegang te vergemaklik en Suid-Afrika se uitvoere te bevorder.

“Die volstruisbedryf lewer ʼn belangrike bydrae tot die Klein-Karoo se plaaslike ekonomie, sowel as dié van die provinsie. In die 2021-tydperk het die uitvoer van vleis, vere en leer R578,8 miljoen beloop,” sê Meyer.

Dr. Francois de Wet, voorsitter van die SAVSK, het ʼn kort agtergrond van die bedryf verskaf.

“Aan die suidelike punt van Afrika is volstruise mak gemaak en daar is reeds in 1864 met volstruise begin boer. Om ʼn volstruisbedryf te vestig, moet jy genoeg volstruisboere hê wat naby aan volstruisslagplase, looierye en volstruisveerverwerkingsaanlegte moet wees. ʼn Mens moet volstruise teel, verwerk en hul produkte doeltreffend bemark, anders sal jy nie ʼn volhoubare volstruisbedryf kan hê nie.

Dr. Francois de Wet, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer. (Foto: Verskaf)

“Dit is hoe die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf oorleef het. Vandag het ons die mees uitgebreide volstruisbedryf in die wêreld.”

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het by die geleentheid gesê die Wes-Kaap is oop vir sake.

“Ons het nou op die punt gekom waar ons Covid-19-inentings op die vlak is waar die risiko afgeneem het; ons kan dus terugkeer werk toe en op die ekonomie fokus,” sê hy. “Ons moet dus landbou-ondernemings soos ons volstruisbedryf ondersteun.”

Kleyn sê die bedryf het baie swaar gekry omdat die karnavalle soos die een in Rio de Janeiro, waarin baie vere gebruik word, gestaak is. Restaurante wat volstruisvleis, ʼn spesialisgereg, bedien se bestellings het ook skerp gedaal en die Amerikaanse stewelbedryf, waarin volstruisleer baie gewild is, het ook ʼn knou gekry.

“Die mark herstel egter mooi en die verkope van gebruiksartikels soos verestoffers is weer normaal. Die aanvraag na produkte vir die Europese modebedryf tel ook mooi op.”

Hy sê volstruisvleis is bekend vir sy lae cholesterolvlakke en op Suid-Afrikaanse winkelrakke vergelyk die prys goed met wat jy vir beesvleis sal betaal. Volstruisvleis het ook geen snitte wat been in het nie.

Premier Allan Winde, LUR Ivan Meyer, Rico Basson, dr. Mogale Sebopetsa, CG Ashok Babu van Indië en CG Mathias Bogaert van België. (Foto: Verskaf)

“Daar word ernstig gekyk na uitbreiding in die dierevoedselmark, waar die slagpale se afval vir produkte soos versnaperinge vir honde aangewend word,” sê hy.

“Ons bedryf word streng gereguleer en hoewel ons baie terugslae beleef het, werk die boere mooi saam om aan naspeurbaarheidsvoorwaardes en oorsese regulasies te voldoen. Die Wes-Kaap se departement van landbou ondersteun ons ook baie deur byvoorbeeld burokratiese prosesse te vergemaklik.

“Verlede jaar is daar 162 000 volstruise geslag en ek skat dat ons vanjaar 140 000 sal slag, maar as ons na die kuikens kyk, gaan volgende jaar baie goed lyk,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.