Genetiese bevordering in varke ‘broodnodig’ – PIC

Varke se genetika moet deurlopend verbeter word vir boere om winsgewend te bly. (Foto: Yair Ventura Filho, Pixabay)

Deur Marguerite Schwarzer, tegniese raadgewer en bemarkingsbestuurder vir PIC by Alzu in Middelburg MP.

Genetiese bevordering is een van dié belangrikste faktore in enige varkboerdery. PIC Internasionaal, ʼn maatskappy wat varkgenetika verbeter en deur sy plaaslike agent, Alzu in Middelburg MP, aan die bedryf beskikbaar stel, stel geweldig baie geld vir navorsing beskikbaar, sodat sy produkte amper op ʼn daaglikse basis verbeter word.

In die PIC-groep word meer navorsing gedoen as by enige tersiêre instelling ter wêreld. As die genetiese potensiaal van die dier nie verbeter nie, het die verbetering van boerderypraktyke minimale voordele.

PIC het oor die afgelope tyd met meer as 20 indekspunte per jaar op die genetiese potensiaal van sy diere verbeter, waar hy spesifiek klem lê op eienskappe van ekonomiese belang – sodat sy klante finansieel kan baat. PIC besef hierdie erns, deur op ʼn baie gereelde basis bevrore semen in te voer, sodat sy klante deurlopend met die res van die wêreld kan meeding.

Dit maak ook nie ekonomies sin nie dat ʼn dier op slegs een eienskap uitblink, en nie so goed presteer op ander eienskappe wat ook van ekonomiese belang is nie.

Genetiese bevordering kan net tot sy volle reg kom indien die vervangingstempo van kuddes na wense is. Hoe hoër die vervangingstempo, hoe vinniger kan die boer die voordeel van verbeterde ingevoerde genetika geniet. Daarom word in die algemeen ʼn sogvervangingstempo van minstens 50% per jaar aanbeveel, maar in baie gevalle is ʼn heelwat hoër tempo sinvol.

Dit bied die geleentheid om van ou en swak produseerders ontslae te raak. Dit moet wel besef word dat hoe hoër die vervangingstempo, hoe jonger is die kudde – en dit hou weer bestuursuitdagings in.

Wanneer die semen van bere in beerstasies wyd versprei word, daal die genetiese verskeidenheid, wat weer  ʼn geweldige invloed op die winsgewendheid van varkboere inhou. Daarom handhaaf PIC ʼn  vervangingstempo van ten minste 150% in sy beerstasies. Dit beteken dat ʼn beer gemiddeld slegs agt maande as ʼn KI-beer diens doen voordat hy deur ʼn jong beer, met beter genetiese meriete, vervang word.

Een van die belangrike eienskappe waar genetiese bevordering ʼn geweldige groot rol speel, is in soglanglewendheid. Dit bepaal hoe suksesvol en ekonomies die sog, asook die boerdery, is.

PIC het oor die dekades heen bewys dat sy sôe oor uitsonderlike langlewendheid beskik en hy sien gereeld dat sôe 20 varkies per werpsel produseer teen pariteite agt, nege en selfs ouer. Die spoed waarteen genetika bevorder word, beklemtoon die belangrikheid daarvan dat ouer sôe met jonger sôe van hoër genetiese meriete vervang moet word. Soglanglewendheid is steeds baie belangrik om goeie produksiesyfers te kan volhou, totdat die sog uitgeskot word.

PIC fokus dus daarop dat sy moederlyndiere algehele ekonomiese voordele vir sy boere moet inhou deur groot, lewenskragtige werpsels te produseer, maar ook daardie werpsels self te kan grootmaak en goeie speengewigte te kan behaal.

In die beerlyne is die fokus om diere te produseer wat vinnig groei, goeie voeromset het en ʼn karkasgehalte lewer wat by die verbruiker gesog is.

Daar is reeds plase met ʼn voeromset van onder drie, bedoelende dat vir elke 3 kg voer, een 1 kg vleis geproduseer word. Elke PIC‑boer moet hierdie syfer in die nabye toekoms behaal.

PIC Internasionaal het geen voorneme om die tempo van sy genetiese bevordering te verlaag nie. Teen 2030 behoort dit ʼn algemene verskynsel te wees dat PIC se sôe 40 varkies per sog per jaar speen. Dit motiveer hom om voort te bou op sy leuse van “Never stop improving.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.