Grondontleding antwoord op duur insette

Theuns van Wyk, senior grondwetenskaplike by Agri Technovation trek ‘n grondprofiel by die innovasiestasies op Grootpan naby Lichtenburg. (Foto: Du Preez de Villiers)

Navorsingsinstansies, studente, opkomende boere en landbou-agente het verlede week by Grootpan buite Lichtenburg bymekaargekom om te sien hoe presisielandbou verfyn kan word om boere op hul plase te hou. Hul gasheer was Agri Technovation, ʼn maatskappy wat daarop fokus om elke moontlike veranderlike op jou plaas te laat saamwerk in ʼn holistiese boerderybenadering, om optimale winste te verseker.

Maroela Media is ook uitgenooi om die geleentheid by te woon.

Met behulp van “innovasiestasies”, waar verskeie proewe met mielies, boontjies en dekgewasse onder bepaalde omstandighede aangeplant is, is daar getoon hoe insetkoste verlaag kan word.

Kunsmis, diesel, landbouchemikalieë, minimum lone en elektrisiteit het oor die afgelope tyd amper onbekostigbaar duur geword en boere word genoodsaak om alles in die stryd te werp om sinvol verder te boer.

Maroela Media het vroeër berig hoe boere toenemend sukkel om al die toutjies bymekaar te hou.

Agri Technovation is ʼn internasionale maatskappy wat in Suid-Afrika ontstaan het en bied die volle pakket vir presisielandbou, wat plaaskarterings, grondklassifikasie en -beskrywings, ʼn rekenaarbestuursprogram, grond-, plant- en waterontledings, ʼn spesialisraadgewersdiens en ʼn verskeidenheid produkte waarin Laeveld Agrochem as vennoot betrek is.

Boere op pad na die Agri Technovation se innovasiestasies by Grootpan naby Lichtenburg. (Du Preez de Villiers)

 

Dit begin by grond

Selfs oor klein gebiede heen verskil grondtipes noemenswaardig en daarom moet elke landery op elke plaas se bepaalde behoeftes hanteer word, vir presisielandbou om doeltreffend te wees.

“Jy kan nie ʼn bepaalde streek of bepaalde boerderygemeenskap se probleem oplos as jy net nasionaal werk nie. Daarom het ons die innovasiestasies voorberei om uit te vind wat die hekkies vir dié boeregemeenskap is, hetsy dit die verkeerde plantestand, grondprobleme soos ontoereikende diepte, waterhouvermoë of beperkende lae is. Ons kyk ook na die verskillende behandelings en verskillende maniere van grondbewerking,” het Teunis Vahrmeijer, hoof van grane by Agri Technovation, aan Maroela Media gesê.

“Wat ook belangrik is, is dat enige persoon met ʼn boor agterop sy bakkie grondmonsters kan trek, maar die wetenskaplike ontledings en interpretasie daarvan is waar die verskil inkom.”

Grondklassifikasie is natuurlik die eerste stap in presisielandbou en om dit deeglik te doen, trek en ontleed Agri Technovation grondprofiele op ʼn ruit, afhangende van die landskap en topografie reg oor ʼn plaas se landerye. Dan word al die beskikbare gronddata, saam met inligting vanaf die plaas se plant- en stroperkaarte in hul MyFarmweb-app ingetrek om ʼn geheelbeeld van die plaas te skep.

 

Boere versamel om ‘n profielgat terwyl Agri Technovation se Francois Groenewald, landboukundige en Carl Hörstmann, hoof van navorsing en ontwikkeling, wys wat die invloed van akkurate bemesting en invoortoediening op mielies is. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Met al die kunsmismalligheid daar buite is dit die regte ding om te kyk waar ons op die basiese dinge, soos die benutting van ons grondsoorte, beter kan doen,” sê Marnus Ferreira, hoofgrondkundige by Agri Technovation.

Hy het gesê dat opbrengsverskille tussen 0,8 ton en 1,4 ton oor die verskillende grondsoorte soos Hutton, Bainsvlei en Clovelly bestaan, wat hy reg oor die innovasiestasies geklassifiseer het. Daarom bestaan daar ‘n geleentheid om jou saad en kunsmisplasings volgens jou grondpotensiaal te doen.

“In een gevallestudie op ʼn plaas is daar oor lang termyn, met gekalibreerde oesdata, ʼn gemiddeld van 4,75 ton se mielies oor 1 100 hektaar gestroop. Die boer het wel wisselend geplant en kunsmis toegedien, maar omdat hy nie sy grond se verskillende profiele geken en in berekening gebring het nie, het hy elke jaar al hoe laer opbrengste op sy grond met die meeste potensiaal gekry.

Derhalwe het hy volgens sy opbrengskaarte se voorskrif, al hoe minder kunsmis en saad op die gebiede neergesit, wat noodwendig gelei het dat dit oor die jare al hoe swakker presteer het.

“Ons het toe die plaas se grond begin ontleed en meer kunsmis en saad op die goeie kolle neergesit en die swak kolle se kunsmis en plantestand verlaag. Die hoërpotensiaalgebiede het swakker begin presteer weens kritiese beperkinge in die voedingstatus van die grond. Dit kon ons slegs met presisie-ontledings agterkom. Laepotensiaalgrond kan net soveel mielies akkommodeer voor dit uitgeput raak. Jy verloor dus geld met ʼn stand en kunsmisplasing wat te hoog is vir lae potensiaalgrond.”

Aan die einde van die seisoen is ʼn gemiddeld van 7,71 ton oor die 1 100 hektaar gestroop.

“ʼn Maksimum plantestand van 43 000 en ʼn minimum van 23 000 is oor die 1 100 ha gewissel en die kunsmis het met tot 40% per ha gewissel. Tipies sal ons begin met 5% tot 10% inkremente en van daar af bou soos ons meer inligting begin versamel.

“In hierdie geval het ons strategies besluit om meer kunsmis as in die verlede neer te sit, omdat daar onbenutte hoëpotensiaal gronde was. Die algehele kunsmisrekening het met 27% oor die 1 100 ha gestyg. Hoewel dit hoër was, het sy oes met amper drie ton per hektaar toegeneem. Ons het wel kunsmis op die laerpotensiaalgrond gesny, maar die besluite is gedryf deur wetenskaplike inligting.”

Teen R4 000 per ton, is dit ʼn verhoging van byna R12 000 per ha.

Marnus Ferreira verduidelik met voorbeelde hoe jy jou opbrengste aansienlik kan verhoog deur die spesifieke grondsoorte in jou lande optimaal te benut. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Daar is ook bespreek hoe ʼn boer by sy saadagent moet aandring om die grondprofiel se ontleding te sien waarop die nuwe kultivar, wat hy voorstel, resultate behaal het.

“As ʼn boer die koste vir presisiedienste soos ons sʼn aangaan, kan hy dit selfs binne ʼn jaar afbetaal. Ons het voorbeelde waar ʼn verhoging van tot twee ton per ha behaal is waar net ʼn skeurploeg deur die land gestuur is, of selfs net ʼn klein verandering in sy bemesting gemaak is,” sê Vahrmeijer.

“Ons grondpotensiaal is ʼn gegewe, ons kan dit nie beheer nie, maar ons kan dit bestuur en ingeligte besluite neem en tot ons voordeel gebruik,” sê Ferreira.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.