GWK belê in plaaskinders

Die lede van die De Villiers-familie tydens die opening van die VKO-sentrum op 31 Januarie is Charl, Annatjie, Pierre, Marelize en Johan. (Foto: Verskaf)

Die plaas Remhoogte, sowat 20 km buite Prieska, het die tuiste van Klouter-Bouters, ʼn sentrum vir vroeë kinderontwikkeling (VKO) geword.

Dié projek, die derde van sy soort, is deur GWK in samewerking met De Meul-boerdery geïnisieer. Marelize de Villiers wat namens die De Villiers-familie van De Meul Boerdery die projek lei, sê die opening van hierdie sentrum is ʼn jare lange droom wat bewaarheid en gedryf is met die ondersteuning van die hele familie en haar passie vir kinders en opvoeding.

“Dít is meer as ʼn skool, maar eerder ʼn sentrum waar Bybelstudie, naaldwerk en Kinderkrans aangebied word,” sê De Villiers.

Die moderne gebou waarin die sentrum ingerig is, is omgewingsvriendelik en maak gebruik van groen-tegnologie soos sonkrag en natuurlike lig.

Klouter-Bouters gaan aanvanklik elke weeksdag 14 kinders tussen die ouderdom van twee en vyf jaar onderrig, waar ʼn opgeleide opvoedkundige en ʼn assistent sal seker maak dat die kinders gestimuleer word om op ʼn holistiese wyse te ontwikkel.

Die kinders sal ook elke dag gebalanseerde maaltye ontvang wat deur ʼn gekwalifiseerde dieetkundige ontwikkel is en ontbyt, teetydverversings en middagete insluit.

Verder sal kinders van die nabygeleë primêre skool, Bloukrans, in die namiddae by die sentrum aansluit vir nasorg, waar hulle ondersteuning met hul huiswerk sal kry. Hulle sal later ook aan gespesialiseerde ontwikkelingsprogramme, onder meer lees- en wiskundevaardighede, blootstelling kry namate die behoefte ontstaan.

De Villiers sê kinders van Remhoogte wat by Bloukrans Laerskool skoolgaan, sal ook in ʼn veilige omgewing kan speel en studiehulp ontvang. “Ons visie en droom vir die kinders is om hul vlerke te sprei, om groter te droom en te besef daar is ʼn wêreld daar buite.”

Vir die volgende 18 maande sal Klouter-Bouters ondersteun word deur Zelda Johnson, ʼn  geakkrediteerde maatskaplike praktisyn en GWK se koördineerder van hierdie projekte. Sy speel ʼn integrale rol om die onderwysers by al die VKO-sentrums waarby GWK betrokke is, te mentor en met volledige lesplanne by te staan, wat spesiaal ontwikkel is om ʼn wye reeks kritiese vaardighede vir kinders op grondslagfase op ʼn praktiese manier te leer.

 

Llewellyn Brooks, GWK-groep se besturende direkteur; Annatjie en Charl de Villiers sien baie uit na die positiewe invloed wat Klouter-Bouters op hul gemeenskap sal hê. (Foto: Verskaf)

 

Johnson sê vir 2023 het GWK ʼn unieke nuwe leerprogram vir kinders op plase geskep. “Die leerplan is opwindend, baie kleurryk en hope pret,” sê sy. “Dit bied ruimte vir vryspel, groot en fyn motoriese aktiwiteite, asook sensoriese, visueel-perseptuele en ouditiewe ontwikkeling wat uiters belangrik is tydens die grondslagfase.”

Ná die tydperk van 18 maande sal die boerdery die verantwoordelikheid amptelik oorneem, met die GWK-span wat steeds in ʼn raadgewende en ondersteunende rol betrokke sal bly.

GWK is ʼn openbare maatskappy wat deur boere besit word en dit voorsien hulle van al die nodige insette, ondersteun hulle met landboukundige oplossings en skep plaaslike en internasionale markkanale vir hul produkte.

Die inisiatief om VKO-sentrums te vestig het reeds in 2020 lewe gekry toe die eerste sentrum deur GWK en Genade Boerdery buite Douglas gevestig is, met die doelwit om vanaf grondslagfase ʼn deurslaggewende verskil in die opvoeding van kinders op plase in die Noord-Kaap en ook Suid-Afrika te maak.

Neil de Klerk, GWK se uitvoerende hoof van bemarking en kommunikasie, sê GWK se ambisie is om 100 VKO-skole op plase te vestig. “Met die samewerking van boerderye en met die hulp en finansiering van ander vennote wil ons hande vat om dít ʼn werklikheid te maak.

“Hierdie projekte skep ʼn ekosisteem wat werk vir mense in die gemeenskap skep, onder meer vir die mense wat betrokke was by die oprigting van die fasiliteite en nou die onderwyspersoneel.

“Verder het dit ʼn belangrike invloed op plaaskinders se lewe, wat die geleentheid het om deur die régte grondslagonderwys en gebalanseerde maaltye gereed te wees vir ʼn opwindende toekoms en alles wat daaruit gaan voortvloei,” voeg De Klerk by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.