Hoëvlakveldtogte teen diereproteïene en vee

  • Diereregte-aktiviste bedreig die tradisionele boerederylandskap. (Foto: Maroela Media)

    In dié artikel, die tweede een van drie in ʼn reeks, neem dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbou-organisasie, ʼn aantal veldtogte onder die loep wat goed befonds en fyn georganiseer is om ʼn herbesinning oor veeboerdery teweeg te bring.

 

Veeboerdery kom internasionaal onder skoot en in die gange van die VN, die Europese Unie en hul agentskappe word druk opgebou om diereproteïene af te skaal, of uit die menslike dieet te verwyder.

Verskeie veldtogte word reeds gevoer om die wêreldwye beleid te beïnvloed om veekuddes te verminder, of om diereproduksie onder verdenking te plaas.

’n Veldtog wat oor die afgelope agt maande groot momentum in Europa en die VSA gekry het, is die “No cages, no chains”-veldtog. ’n Aankondiging van ’n EU-plan in die Washington Post van 1 Julie verlede jaar, om hokke en bewegingsbeperkinge van diere uit te faseer, is met groot entoesiasme in die VSA ontvang en behels onder andere vrye beweging vir hoenders, varke, hase, kwartels en ganse.

ʼn Verlengstuk daarvan is die dryf na gesertifiseerde vrylopendheid van veral henne en varke, in ’n goed beplande internasionale veldtog teen batteryboerdery, of sogenaamde fabrieksboerdery, waar ’n dier deur sy hele lewensiklus in ’n draadhok produseer of geproduseer word. Minder as 8% van selfs ’n ryk land soos die VSA se 300 miljoen lê-henne, voldoen aan van die minimum vereistes wat dié veldtog vir diere-akkommodasie stel.

Dit is moontlik om met vrylopende boerderypraktyke genoeg te produseer om die wêreld te voed, maar bitter min verbruikers kan daarvoor betaal.

Die persepsie wat gevorm word dat vee dieselfde behoeftes as mense het, rig baie skade aan. (Foto: Maroela Media)

Die swaartepunt van die druk op veeboerdery is op beeste gefokus, in die vleis- sowel as die  suiwelbedryf. Melk het ’n uitsonderlik emosionele impak op die debat – dit is tog die eerste proteïene wat mens en dier na geboorte onafhanklik opneem. Wêreldwyd is meer as 80% van reproduksie in die melkbedryf egter op kunsmatige inseminasie aangewese in ’n stelsel waar die kalf binne enkele dae van die moederdier verwyder word, sodat maksimale volumes melk geoes kan word.

Vir diereregte-aktiviste soos People for the Ethical Treatment of Animals (PETA) gaan dit oor die sistematiese verkragting van die vroulike liggaam en die verwesing van haar aanwas, om optimale winste op winkelrakke te verseker – ’n stelsel waarsonder die wêreldwye suiwelbedryf nie kan bestaan nie.

Hierdie druk op die verhouding tussen mens en dier moet aan twee faktore toegeskryf word –  verstedeliking en Walt Disney.

Sedert ongeveer 2007 woon daar wêreldwyd meer mense in stede as op die platteland. Daar is nou meer as een geslag mense in stede wat geen oupa, oom of ander familie iewers op ’n plaas gehad het nie. Die skakel tussen die winkelrak, waar hulle hul kos kry, en die produksieproses uit die grond, bestaan nie meer vir hulle nie. Die begrip van kos produseer is buite die eie ervaring en vorm deel van ’n vreemde wêreld.

Voeg daarby nóg ’n kinderervaring waar diere op animasieskerms in mensestemme met mekaar praat, met groot oë en lang oogwimpers en jy het ’n perfekte storm teen diegene wat diere doodmaak om hulle te eet.

Die minderheid in die wêreld wat diere besit en daarmee boer, moet ’n opdraande stryd voer om ’n verstedelikte meerderheid te oortuig dat diere nie ’n ander soort mens is nie en dat natuur en kultuur twee radikaal verskillende domeine is.

Die verstedelikte mens is selfs al verwyderd van die siklus van lewe en dood – hulle beleef dit nie. Anders as plaaskinders, sien stedelinge nie geboortes of sterftes nie, dit gebeur in ’n hospitaal of ’n laboratorium, asof dit nie deel van die regte lewe is nie. Die lewe het letterlik ’n ander betekenis in die stad gekry en ’n groot deel van die druk op die verhouding tussen mens en dier spruit daaruit.

Dr. Theo de Jager. (Foto: Saai)

Daarom is die Voedselsistemeberaad van die VN, en veral September se geleentheid in New York, so belangrik uit ’n boerdery-oogpunt. Daar word geskud aan die basis van die menslike dieet, en vir boere is die implikasies nader aan die lyf as wat die meeste mense besef.

Die eerste groot salvo op die slagveld is met die publikasie van die EAT-Lancet verslag in Januarie 2019 afgevuur, waarin 39 voorste wetenskaplikes van oor die wêreld die stap gedoen het om aan te beveel dat die mens van diergebaseerde proteïene wegbeweeg. Die verslag was in ’n japtrap hoogmode in die VN en sy agentskappe, die EU en veral die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF), met duisende gewilde en bekende sterre wat al wat vleis, suiwel of eiers is, afgesweer en laakbaar gemaak het.

By die ses dinees wat ek in Januarie 2020 by die WEF in Davos bygewoon het, was daar nie ’n krieseltjie diereproteïene iewers op ’n bord nie. Genadiglik het die EAT-Lancet se aanbevelings se wind opgeraak en was daar by die voorberaad in Rome min oor gesê. Maar die sentrale dryfkrag bly dieselfde; vervang diereproteïene met plantgebaseerde proteïene en skep so ’n meer gesonde, gelyke en natuurvriendelike wêreld. Die slagspreuk daarvoor is: Transformasie van ons voedselstelsels om volhoubaarheid te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

Die mens word deur owerhede aangepraat om weg te bly van God se voedsel en eerder n fabrieks produk te gebruik.. If it’s got a barcode it’s a product and not a food.

Anel ·

Die wêreld het mal geword. Nou wil hulle al vir jou voorskryf wat jy mag eet en wat nie. Loop vlieg man! As julle nie vleis wil eet nie en plante wil eet dien dit. Maar lis ons ander uit. Is nou al net mooi keelvol vir mense wat dink dit is hulle reg om ins lewens te beheer. So komunistiese!!!

Herman L ·

God het diere en plante aan die mens gegee om te gebruik. Sommige mense probeer diere verhef tot iets wat dit nie is nie.

OW ·

Goeie skrywe dr de Jager.Ek het in my loopbaan oa by hoenderboere uitgekom en die lêhenne wat in die batterystelsel gehou word, was vir my altyd ‘n nie – humane stelsel, wat ruimte en beweging betref.As dit vergelyk word met vrylopende hoenders is laasgenoemde,’n 100% beter metode vir lewe en versorging.Die hoenders in die batterystelsel het altyd ongelukkig en kroes gelyk.In Afrika word gewoonlik iets wat werk,afgeskaf maar dit sal ‘n blye dag wees wanneer die lêhen batterystelsel verbied en afgeskaf word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.