Knoffel blaas weer lewe in Murraysburg

Murraysburg Garlic kan hulle knoffel met gemak vanuit die opgegradeerde waterskema besproei. (Foto: Verskaf)

Dorpe in die Karoo gaan swaar gebuk onder werkloosheid en nypende armoede. Geleenthede is beperk en landbou-aktiwiteite word minder weens langdurige droogtes. Een van hierdie dorpe is Murraysburg wat as een van die armste gemeenskappe in die Wes-Kaap gereken word. Die sosio-ekonomiese verval is duidelik sigbaar.

Die strawwe, droë klimaat en laat ryp in Murraysburg, wat op die noordoostelike punt van die Wes-Kaap lê, bemoeilik sake ook, maar ondanks die halfwoestyntoestande het die gedeelte van die dorp wat teen die Buffelsrivier lê wel vrugbare grond. Boonop kan die dorp met die Murraysburg Volhoubare Ontwikkelingsraad (MSDC) spog, wat hard werk om nuwe lewe in die dorp en sy gemeenskap te blaas.

Onder die leiding en ondersteuning van die plaaslike sakestrateeg en futuris, Chris Barr, dryf MSDC verskeie projekte om eerstens die natuurlike hulpbronne te bewaar en om armoede op ʼn volhoubare manier te beveg.

Een van Barr se deurslaggewende suksesse was toe hy in 2017 die Wes-Kaapse departement van landbou kon oortuig om R1,5 miljoen rand te bewillig om die keerwal in die Buffelsrivier te herstel en tot ʼn meer omvattende skema te ontwikkel sodat besproeiingswater op ʼn meer volhoubare manier aan die dorp gelewer kon word.

ʼn Keerwal met ʼn leiwaterstelsel is in die 1850’s in die Buffelsrivier gebou om water na die dorp te lei. In 1899 is die keerwal hoër gemaak toe die vraag na water verhoog het. Dit het landbou-aktiwiteite in die dorp gestimuleer en groen boomlanings het langs die strate gepryk. Ongelukkig het ’n vloed in 1988 die keerwal verspoel en die dorpie het stadigaan agteruitgegaan.

In die Karoo is water lewe en die dorp kon sy kop optel toe die Rooidam-projek se nuwe kanaal, opgaardamme en leivore op pad na die “nat erwe” in 2017 weer volgeloop het.

Een van MSDC se verwante projekte, wat kort daarna uit die beskikbaarheid van die standhoudende waterbron kon voordeel trek, was Murraysburg Garlic. Die broers Craig en Ryan Newborn het dit in 2016 op die been gebring.

Murraysburg Garlic se knoffel is van uitstaande gehalte. (Foto: msdc.org.za)

“Ons oupa, Oscar Smuts, was ʼn kommersiële skaapboer in die distrik en met sy aftrede wou hy nie sy werkers, wat al soos familie geword het, hulpeloos agterlaat nie. Ons het toe destyds besluit om ’n geleentheid vir hulle te skep, sodat hulle steeds ’n inkomste sal hê wanneer hy eendag sterf,” sê Ryan. Oupa Smuts kon toe in 2018 rustig heengaan toe Murraysburg Garlic mooi op dreef was.

Een van die werkers, Martha Booysen, werk al 50 jaar vir die familie. “Ek is sedert die begin by die projek betrokke. Ons is baie bly om deel van hierdie projek te wees. Ons werk hard en ons is trots op ons prestasies. Daar is planne om ’n ten volle toegeruste verwerkingsaanleg te bou om die bedrywighede uit te brei. Die doel is om die onderneming te laat groei en meer jong mense aan die knoffelbedryf bekend te stel.”

Martha Booysen en die Wes-Kaapse minister van landbou, Ivan Meyer, is baie bly oor die volhoubare werksgeleenthede wat die knoffelprojek skep. (Foto: Verskaf)

Murraysburg se vrugbare grond is geskik en bekend vir knoffelverbouing en Murraysburg Garlic het weggeval en in 2017 1 000m2 aangeplant, waarvan ʼn indrukwekkende 1,5 ton geoes is.

In 2018 is een hektaar aangeplant waarvan 10 ton afgehaal is en ʼn drogingsaanleg en stoorgeriewe vir 80 ton knoffel is gebou.

Vanjaar is ses hektaar aangeplant en daar word met afwagting na die oes in November uitgesien.

“Ons is nou in ons vyfde produksieseisoen en dit gaan baie goed. Ek en my broer bemark en bestuur die boerdery vanuit die Kaap, maar ons belange en die daaglikse aktiwiteite word deur ons ses werkers hanteer,” sê Craig.

Die werknemers van Murraysburg Garlic is trots op hulle onderneming en kan met die netjiese verpakking spog. (Foto Verskaf)

In die seisoen verskaf die projek werk aan verskeie vroue in die pakstoor en aan mans in die lande.

Murraysburg Garlic doen primêre produksie, verwerking en bemarking. Hulle lewer aan die groot kettingwinkelgroepe soos Pick n Pay, Woolworths en Spar.

Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het Murraysburg Garlic onlangs besoek en daar is sprake van ʼn noemenswaardige inspuiting om die projek uit te brei sodat kleinskaalboere as verskaffers bemagtig kan word.

“Die projek het vyf permanente en 35 seisoenale werksgeleenthede verseker. Werkskepping is van sleutelbelang vir die Wes-Kaapse regering. Die toewyding wat deur alle betrokkenes getoon word, sal die onderneming suksesvol laat groei en tot nog meer werkgeleenthede lei. Die Wes-Kaap het drie strategiese prioriteite: werk, veiligheid en waardigheid, asook welstand. As ons werk skep, skep ons veiliger gemeenskappe.”

Daar is tans nege munisipale landbou-erwe wat die potensiaal het om volhoubaar en op ʼn kommersiële skaal knoffel te verbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.