Kultuurgroepe vat hande rondom moderne landbou

Prins Bambindlovu Zulu en sy span, Barend Uys van AfriForum en personeel van Agrico (Foto: Verskaf)

Net buite die KwaKhangelamankengane-paleis naby Nongoma, 45 km suid van Pongola in KwaZulu-Natal, is daar ʼn moderne drupbesproeiingstelsel aangelê om die drome van aspirantboere te laat waar word.

In ʼn samewerkingsooreenkoms tussen prins Bambindlovu Zulu, Saai, AfriForum, plaaslike kommersiële boere en Agrico is dit nou moontlik om 1 ha se groente meer doeltreffend te verbou, selfs tydens die versengende somermaande wat so eie is aan die gebied.

Zulu en sy span lewer reeds sedert 2017 groente soos aartappels en kool aan die plaaslike Spar en die gemeenskap, maar hulle het baie probleme met die voorsiening van water na die landerye ondervind.

Hulle moes water uit die nabygeleë rivier onttrek en die gewasse met die hand deur vloedbesproeiing benat, wat meer water gebruik en dit minder eweredig versprei.

In ʼn stadium moes hulle ook hul aartappelproduksie staak omdat dit te veel water benodig het.

 

Agrico se span koppel die besproeiingstelsel se pype aan mekaar. (Foto: Verskaf)

 

Die 41 jarige Zulu se ma is koningin Mantfombi Dlamini en hy is een van 28 kinders wat die ontslape koning Goodwill Zwelithini by ses vroue gehad het.

“Ek is eintlik opgelei as ʼn binnehuisversierder en wou nie veel van landbou weet nie, maar noudat ek ouer is, begin ek al hoe meer daarin belangstel,” het hy aan Maroela Media gesê.

Zulu sê sy pa was ʼn man wat sy sake self behartig en bestuur het en die prinse kon nie regtig ʼn prominente rol vervul nie, maar ná sy dood verlede jaar aan Covid-19, het Zulu sy plek as ʼn leier, bemagtiger en inspireerder begin inneem.

“Ek het drie jaar gelede begin om mense wat daarin belangstel om te boer, opleiding te gee terwyl ons kommersieel groente verbou. Hierdie is ʼn harde leerskool, maar ek wil groepe van tien boere oplei, waarna hulle dan op hul eie grond verder gaan boer om kos aan hul plaaslike gemeenskappe te verskaf en sodoende by te dra tot voedselsekerheid.”

Sy drome is ongelukkig gereeld deur vloedwater meegesleur. “Dit was moeilik om water uit die rivier, wat ongeveer 80 m van die landerye af loop, daar te kry en tydens oorstromings het die pompe waarmee ons die water uit die rivier haal weggespoel. Die pype het ook gereeld vol modder geword.”

 

Die aspirant boere leer hoe werk die drupbesproeiingstelsel. (Foto: Verskaf)

 

Hy wou ook sy produksie verhoog en water meer optimaal benut en terselfdertyd hê die boere moet ʼn kopskuif maak en nuwe tegnologie verstaan en gebruik.

Dit was juis met sy pa se afsterwe, toe AfriForum sy meegevoel kom betuig het, wat Zulu aan Barend Uys, AfriForum se hoof van interkulturele verhoudings en samewerking,  bekendgestel is.

“Ek het nie geweet hulle verleen hulp aan boere nie,” sê Zulu.

Die familieboernetwerk Saai is ook betrek en ná ʼn uitgebreide konsultasieproses en voorleggings het albei organisasies ingestem om ʼn  drupbesproeiingstelsel aan die KwaKhangelamankengane-landbouprojek te skenk.

Uys sê hulle wou juis aan dié boere hulp verleen omdat hulle reeds suksesvolle boere was en gewys het wat hulle kan doen.

“Daarmee saam doen ons die onderneming van samewerking met die Zoeloe-kultuurgemeenskap, wat ons aan wyle koning Goodwill Zwelithini gemaak het, gestand.

“Ons is nie met iets nuuts of vreemd hier besig nie, ons voorouers het ook goeie verhoudings met onder andere koning Mpande en koning Dinuzulu gehandhaaf en ons is optimisties oor die goeie verhoudings en samewerking wat ook gevestig gaan word in die tyd van koning Misuzulu.”

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê hy is van mening dat mense wat graag kommersiële boere wil wees, ondersteun moet word. “Hulle moet ontwikkel tot volwaardige landbouers, wat nie net in staat is om vir hulself welvaart te skep nie, maar om ook tot voedselsekerheid in die land by te dra. Hier is ontwikkelende boere wat graag wil verbeter en daarom is ons hier betrokke.”

Die nuwe stelsel word aan ʼn reservoir gekoppel en die water word deur ʼn filter gesstuur voordat dit na die landerye gepomp word. Daar word dit deur fyn druppers gestuur wat water in afgemete hoeveelhede aan elke plant verskaf.

“Ek is opgewonde oor die verhoging in produktiwiteit wat deur die installering van die besproeiingstelsel moontlik gemaak sal word. Dit is vir my ’n voorreg om saam met my span te werk en daardeur vir gemeenskapslede ’n voorbeeld te stel dat vooruitgang deur harde werk moontlik gemaak word. Ek is baie dankbaar vir AfriForum en Saai se ondersteuning,” sê Zulu.

“Dit was die koning se droom dat die Afrikaners, wat boere is, eendag skouer aan skouer saam met die Zoeloes sal werk.”

 

Een hektaar is onder drupbesproeiing geplaas wat ‘n dramatiese verhoging in produktiwiteit teweeg gaan bring. (Foto: Verskaf)

 

Die opmeting van die grond is deur die departement landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gedoen en die besproeiingstelsel is ontwerp, verskaf en geïnstalleer deur Aqua Nyoni, wat deel van Agrico is.

Die regering is veronderstel om konsultasie, kunsmis en gewasbeskermingsprodukte aan die boere te verskaf, maar as hulle laat is, moet Zulu maar self Pongola toe ry om te gaan koop.

Daar was nog altyd ʼn goeie verstandhouding tussen Zulu en die kommersiële boere in Pongola, wat graag saad en ander benodigdhede aan die projek skenk.

Zulu sê hulle gaan nou kool plant wat in September geoes gaan word. Verder plant hulle ook spinasie en botterskorsies na gelang van die seisoen en die mark se vereistes.

Hy streef na die vestiging van landbou-onderneming wat hy Gejalesizwe, wil noem, wat beteken “ploeg van die nasie”. Hy het ʼn kontrak met die Spar op Nongoma wat die groente wat hy verbou koop. Surplusse word vanuit die paleis aan die plaaslike gemeenskap verkoop. Hy en die boere deel dan die wins.

Zulu is ook betrokke by die plaaslike laerskool en het die hoof oortuig om die leerders in graad 5, 6 en 7 aan sy projek bloot te stel en landboubeginsels te leer, om hulle solank opgewonde oor hierdie belangrike beroep te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adri ·

Nou wonder ek waarom ons moet verwag dat hierdie poging gaan slaag. Geen vorige pogings om “ontwikkelende boere” te help, het enige noemenswaardige resultate opgelewer nie.

annie ·

Waarom kom kool altyd eerste op in Afrika se kop wanneer plant ter sprake is? Natuurlik sal cannabis binnekort ook ‘n ereplekkie op die land kry. Die heerlike aroma van kool en dagga gemeng sal elke honger magie tuis na die besige dag weer nuwe stukrag gee.

Harley Davidson ·

As ek nou Afriforum was het ek die huidige benaadeelde boere bygestaan om te meganiseer en weg te beweeg van hande arbeid veral gesien hoe hulle deur die regering behandel word en hoe dit al moeiliker vir hulle gemaak word om winsgewend te boer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.