Kyk: Robot brand onkruid met ‘weerligstraaltjie’ dood

Die Small Robot Company is deur Ben Scott-Robinson, ʼn ervare entrepreneur, en Sam Watson Jones, ʼn vierdegenerasieboer, op die been gebring. Hulle deel ʼn passie vir presisielandbou en om trekkers en ander werktuie met hoogs akkurate liggewig-robotte te vervang.

Hulle het eers na verskeie boere oor die hele Brittanje se behoeftes geluister en die konsep, Farming as a Service (FaaS), daaruit ontwikkel. Ná baie harde werk en lang ure het die konsep ʼn werklikheid geword en Tom, Dick en Wilma is gebore.

Tom is ʼn robot wat teen 20 ha per dag elke plantjie op ʼn land skandeer en sodoende miljarde datapunte genereer. Hy stuur die rou data dan na Wilma wat dit in bruikbare inligting verwerk en dan as aanwysings vir Dick stuur.

Tom skandeer die veld om elke onkruidplantjie te identifiseer. (Foto: smallrobotcompany.com)

Dick is die wêreld se eerste niechemiese onkruidbeheerrobot wat die aanwysings volg en dan bo-oor elke ongewenste plantjie ry om dit met ʼn elektriese straal te skiet, wat regdeur, van sy kroontjie tot in sy wortelpunt, beweeg, net soos ʼn weerligstraal.

Dick ry na elke afsonderlike onkruidplantjie om dit dood te brand. (Foto: smallrobotcompany.com)

Met toekomstige ontwikkelinge in gedagte word die robotte modulêr ontwerp sodat verskillende robotte met verskillende toepassings en tegnologieë op een platform gebou kan word.

ʼn Boer kan die proses deurlopend monitor en ook kies indien hy sekere onkruide nie wil doodmaak nie. Hy kan die robotte se operasie ook met sy bestaande plaasbestuurstelsels integreer.

In ʼn era waarin onkruidweerstandigheid ʼn al groter wordende probleem raak en onkruiddoders se koste die hoogte inskiet, bied Tom, Dick en Wilma dalk net die antwoord.

Die stelsel is in die proeffase, maar sal binne die volgende drie jaar kommersieel beskikbaar wees.

Kyk hier hoe slim en fluks werk die blikbreine en hulle beheerstelsel saam:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ilena ·

Dis oulik, hou van die idee dat geen onkruiddoder gebruik word nie. Wonder wat sal enetjie vir my tuin kos?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.