Landbou-uitvoere na Afrika kort hupstoot

Foto ter illustrasie. (Foto: Andy Li, Unsplash)

Suid-Afrika se landbou-uitvoere na die res van Afrika neem af, terwyl landbouhandel in Afrika teen 2050 met soveel as 30% sal toeneem. Dít volgens Desmond Annandale, ʼn navorser in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Hy sê die oplossing is om landbou-uitvoere te diversifiseer na nuwe markte wat voorheen gesluit was. “Dit is belangrik om die lande en produkte te identifiseer wat ons die beste geleenthede bied om ons landbou-uitvoere te verhoog.”

Hy voer ook aan dat die Afrika-vryehandelsooreenkoms (AfCFTA), waaronder lede verlaagde tariewe en nie-tariefversperrings geniet, geleentheid bied om uitvoere te verhoog. Maar hy waarsku dat dit nie ʼn kitsoplossing is nie.

Annandale het verskeie sleutelhandelsindekse gebruik om die aard van Suid-Afrika se handel met lande in elk van Afrika se agt streeksekonomiese gemeenskappe (SEG’e) te bepaal: die Suider-Afrikaanse ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), die Unie van die Arabiese Maghreb, die Gemeenskapsmark vir Oos- en Suider-Afrika (COMESA), die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikastate (ECOWAS), die Gemeenskap van Sahel-Sahara‑state (CEN-SAD), die Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrikaanse State (ECCAS), die Tussenregeringsowerheid oor Ontwikkeling en die Oos-Afrika-gemeenskap.

“Dié indekse meet die vlak van handel tussen lande in elke SEG, en dui ook die aard van die handel in ’n spesifieke produk binne ’n land ten opsigte van in- en uitvoere aan.

“Verder toon dit die oriëntasie van Suid-Afrika se uitvoere na die verskillende SEG’e en stel die land in staat om die lande te identifiseer waarheen die meeste van sy landbouprodukte uitgevoer word. Dit help om Suid-Afrika se markaandeel vir landbouprodukte in lande binne die verskillende SEG’e te bepaal.”

Annandale het ook data van onder meer die Internasionale Handelsentrum, die Wêreldbank en die Wêreld- Ekonomiese Forum gebruik om ’n saamgestelde landprioriteitsindeks-instrument (CCPI) te ontwikkel, om lande identifiseer en hulle volgens hul aantreklikheid as ’n uitvoermark vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte te rangskik. Hy het hierdie ranglys met die waarde van die landbou-uitvoere na elke mark vergelyk.

“Dit het my in staat gestel om daardie markte te identifiseer waarop ons landbousektor te veel fokus (wat Suid-Afrika aan die risiko van oorafhanklikheid van ’n spesifieke mark blootstel) en dié wat minder geprioritiseer word.

“Die resultate toon dat Suid-Afrika se uitvoere van verwerkte en onverwerkte landbouprodukte na verskillende lande nie op dieselfde manier geprioritiseer word nie en dat verskillende streke verskillende geleenthede vir handelsuitbreiding inhou. Laastens is gevind dat uitvoervolumes na sekere lande baie groter is as wat die landprioriteitsindeks aandui,” sê hy.

“Ons voer meestal landbouprodukte met ’n laer waarde soos mielies, mieliegort en saadmielies uit. Ondanks die feit dat Suid-Afrika sy eie geproduseerde koring en koringmeel uitvoer, voer ons ook koring in. Verder voer ons rietsuiker in soliede vorm en halfgemaalde of ten volle gemaalde rys na Afrikalande uit, terwyl produkte soos wyn, sitrus en ander vrugte meestal in oorsese markte soos in die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk land.

“Uitgesoekte landbouprodukte gaan meestal na SAOG-lande en sekere onverwerkte landbouprodukte hoofsaaklik na die ECOWAS- en CEN-SAD-lande.”

Annandale sê ʼn vergelyking van die CCPI-resultate met Suid-Afrika se ware handelsyfers met ander lande in Afrika toon dat eersgenoemde te veel blootgestel is in sekere markte vir die uitvoer van verwerkte en/of onverwerkte landbouprodukte. Dit kan weens ʼn onstabiele politieke omgewing, swak logistiek en/of slegte marktoestande in ’n spesifieke land wees.

“Gegewe die vinnige uitbreiding van markte in Afrika ten opsigte van bruto binnelandse produk en bevolking, asook die groter handelsintegrasie wat onder die AfCFTA voorsien word, moet ons ons landbou-uitvoere diversifiseer na nuwe ekonomieë wat voorheen afgesluit was.

“In lande waar die handelsrangorde met die resultate van die CCPI ooreengestem het, moet ons ons huidige markaandeel handhaaf en dit oorweeg om die soort landbouprodukte wat ons uitvoer, uit te brei of te diversifiseer.”

Annandale sê meer marknavorsing is nodig om te bepaal of dit haalbaar sal wees om Suid-Afrika se uitvoere na lande te verhoog waar die land nie genoeg blootstelling geniet nie.

Volgens hom is daar ’n hoë vlak van handelsintroversie (die vlak waarop lande in ’n SEG of streeksgroepering onder mekaar handel dryf) in alle SEG’e vir verwerkte landbouprodukte, wat daarop dui dat Suid-Afrika dit moeilik kan vind om markgeleenthede te ontgin ondanks tariefverlagings.

Die teenoorgestelde geld egter vir onverwerkte landbouprodukte, behalwe miskien vir Oos-Afrika. Oor die algemeen toon onverwerkte landbouprodukte die meeste potensiaal vir markuitbreiding.

Annandale sê indien die tariefverlagings wat onder die AfCFTA in die vooruitsig gestel word sou realiseer, kan Suid-Afrika se mededingendheid in Afrika-markte, waar daar geen vorige handelsooreenkoms bestaan nie, verbeter. Dit sal egter ook belangrik wees om duur en lang vervoertye weens vertragings by grensposte, doeaneprosedures en omslagtige papierwerkvereistes die hoof te bied.

Sy gevolgtrekking is dat hoewel die AfCFTA wel geleenthede vir die uitbreiding van Suid-Afrikaanse uitvoere op die vasteland inhou, dit nie ’n eenvoudige en magiese oplossing –minstens op kort tot mediumtermyn – is om dit aansienlik uit te brei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Dit sal binnekort nie nodig wees nie want al die afrika burgers gaan in gauteng wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.