Landbouleerders wys meer wins met laer opbrengs

Hoërskool Ermelo Landbou-akademie se leerders is baie trots op die resultaat van hul proewe. (Foto: Verskaf)

Dr. Gawie du Toit, ʼn grondkundige van die maatskappy Faktor2, het ʼn onblusbare passie vir gesonde ekonomiese beginsels as dit by gewasboerdery kom. Sy visie vir boere is om so min as moontlik insette so doeltreffend moontlik aan te wend.

Du Toit is al meer as 40 jaar by proewe betrokke, waarvan die meeste oor etlike jare gestrek het, om onder andere hierdie punt te bewys. Hy het dit onlangs weer reggekry en om die boodskap aan die jongspan te illustreer het hy dit saam met TLU SA en landbouleerders van die Hoërskool Ermelo op Gerrie Janse van Rensburg se plaas gedoen.

 

Leerders van die Hoërskool Ermelo se Landbou-akademie luister aandagtig na wat dr Gawie du Toit en Gerrie Janse van Rensburg vir hulle leer. (Foto: Verskaf)

 

Maroela Media het ook die dag bygewoon toe die resultate getoon en bespreek is.

Du Toit is veral baie uitgesproke oor die feit dat boere heeltemal te veel kunsmis, byvoorbeeld fosfate, in hul grond sit, wat natuurlik baie kos. “Die regstel en opbou van grondfosfor (P) is heeltemal onnodig. Netso word ook heeltemal te veel stikstof (N) toegedien, veral op lande wat die vorige jaar sojabone op gehad het,” sê hy.

Met die kunsmisprys wat deesdae hemelhoog is, moet boere hul sommetjies baie fyn maak om iets in hul sakke te sit, of minstens gelyk te breek om te oorleef.

“Boere wil graag aan die maksimumopbrengs-klub behoort, maar dit is waar jou finansiële probleme begin,” sê hy.

Proewe verg tyd, maar dit is deur en deur die moeite werd en Janse van Rensburg het die potensiaal in hierdie proef gesien en al die operasionele werk gedoen. “Gerrie was die spil waarom hierdie proewe gedraai het en met sy geesdrif en toegewydheid het hy die ondersteuning vir ons gebied om dit enduit deur te voer,” sê Du Toit.

Onthou wel jou kalk

Een van die insette wat egter vir Du Toit noodsaaklik is, is die toediening van die kalk om die grond se pH reg te kry.

“Die regstelling van suur grond na ʼn pH van 6,5 (in water gemeet) deur die toediening van die regte hoeveelheid landboukalk van ʼn goeie gehalte, is nie onderhandelbaar nie,” sê hy.

 

‘n Kalkproef wat op die Nooitgedach-navorsingstasie by Ermelo uitgevoer is, toon duidelik wat die waarde van kalk vir landerye inhou. (Skets: Verskaf)

 

“ʼn Gesonde pH is die fondament en steunpilaar van ʼn volhoubare mielie-oes en is die grootste enkele faktor wat sukses, al dan nie, van graanprodukte in Suid-Afrika bepaal.”

 

Die resultaat van ‘n vorige kalkproef deur dr Gawie du Toit is duidelik. (Foto: Verskaf)

 

Werkswyse

Vyf proefplotte is uitgelê waarop verskillende hoeveelhede stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) vir die mielies toegedien is. Op ʼn sesde plot (kontrole) is daar geen kunsmis toegedien nie.

 

Die proefplotte word uitgemeet. (Foto: Verskaf)

 

In Oktober verlede jaar is elke plot sorgvuldig beplant en doodseker gemaak dat die enigste veranderlike die kunsmis is.

Met oestyd, einde Julie, is die koppe sorgvuldig met die hand geoes en gedors en die pitte geweeg. Daarna is die randwaarde van elke plot se oes asook die insette bereken.

 

Die geplukte koppe word met die hand gedors. (Foto: Verskaf)

 

Gerrie Janse van Rensburg, dr Gawie du Toit en die leerders van Hoërskool Ermelo se Landbou-Akademie weeg hul mielies sorgvuldig. (Foto: Verskaf)

 

Die opbrengste vir die verskillende NPK-behandelings het vanaf 5,1 t/ha tot 7,6 t/ha gewissel. Dit was opmerklik dat die kontrole (0 kg/ha NPK) ‘n baie verdienstelike opbrengs gelewer het.

 

Die oesresultaat van elke plot. (Skets: Verskaf)

 

Met geen insette het die kontroleproef ʼn inkomste en wins van R15 180 getoon.

Die plotte met die hoogste twee opbrengste van 6,9 ton/ha en 7,6 ton/ha word van nader beskou, soos vir NPK-koste en wins getoon.

Op die 6,9 ton/ha plot waarop 77N:10P:6K toegedien is, is ʼn wins van R17 174 getoon. Die kunsmiskoste het op R3 532 te staan gekom.

Op die 7,6 ton/ha plot waarop 108N:33P:0K toegedien is, is ʼn wins van R17 073 getoon. Die kunsmiskoste het op R5 697 te staan gekom.

 

Hiermee word die NPK-koste en wins getoon. (Skets: Verskaf)

 

Vir verdere helderheid oor die swakker finansiële posisie van die maksimum oes (7,6 t/ha) as gevolg van hoë NPK-inset, teenoor ‘n meer konserwatiewe NPK-inset se laer, maar meer winsgewende oes (6,9 t/ha), is dit duidelik dat die hoë NPK-koste (R5 697/ha) ‘n aardige R3/ha kon lewer vir elke R1 aan NPK spandeer, maar dat die beskeie inset (R3 532/ha) bykans dubbeld soveel teen R5,70/ha kon lewer.

 

Die randinkomste vir elke rand aan NPK spandeer in die twee proewe waarin die meenste kunsmis toegedien is. (Skets: Verskaf)

 

Hou ook in gedagte dat die hoër inset van sowat R2 000/ha ‘n baie groot risiko inhou weens die onvoorspelbare reënval en klimaat wat met droëlandsaaiery in Suid-Afrika gepaardgaan. Daar is dus geen sekerheid dat ‘n groter oes behaal gaan word nie – en dan is wins ook nie beter met hoër NPK-insette nie.

Die kenners sê

“Ons het meer as een doel met die proef gehad,” sê Du Toit. “Dit dien as ’n plek vir ʼn plaasbelewenis en as ʼn praktiese demonstrasie vir die leerders van die Hoërskool Ermelo se Landbou-akademie.”

Die groei en ontwikkeling van die plante is gedurende die seisoen noukeurig dopgehou en foto’s is geneem. Dit is ’n manier vir hulle om te kan ervaar hoe ’n plant op bemesting reageer om sodoende ʼn oes te lewer.

“Met die finale oes het ons vasgestel of ’n groot NPK-inset – om ’n maksimum oes te behaal – finansieel geregverdig kan word. Dit is ’n aspek wat toenemend voorgehou word as die aangewese metode vir mielieproduksie.

“Dit is weereens bewys dat onnodige en ʼn oormaat bemesting een van die vernaamste oorsake is vir die enorme mielieskuld, wat volgens Statistieke SA en ander waarnemers in die omgewing van R120 miljard beloop. Die oplossing lê tog duidelik daarin dat buitensporige NPK-inset vir najaag van maksimum oeste getemper moet word met realistiese bemesting vir maksimum wins.”

TLU SA se president Henry Geldenhuys het ook die dag bygewoon en sê insetkoste speel ʼn groot rol om suksesvol te boer en dit verander voortdurend. “Inderwaarheid neem insetkoste toe.”

 

Henry Geldenhuys, president van TLU SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Voedselpryse het ook toegeneem. Dit is ’n gegewe wat ons nie kan verander nie. Daarom is dit belangrik dat as ons wil aanhou boer, ons mooi moet somme maak. Dit is belangrik om insetkoste so laag as moontlik te probeer hou. Om die rede is proewe soos dié waardevol vir landbou in die land,” sê hy.

Derek Matthews, voorsitter van Graan SA, het uit persoonlike ervaring vertel hoe hy op ʼn plaas grootgeword het waar uitmergelende droogtes sy voorsate gedwing het om in hierdie rigting te dink.  “Hoogste opbrengs is nie die meeste wins nie. Dit is die werklikheid. Dit is so belangrik dat boere data – waarvan daar nie ’n tekort is nie – tot hul beskikking moet gebruik,” het hy bygevoeg.

 

Derek Mathews, voorsitter van Graan SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

  • Na publikasie is daar regstellings aan die artikel gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

vuurvliegie ·

Dan is Landbou VS en die boere die eerste om oor te kla oor Eskom wat hulle geld kos.
Voedselpryse word kunsmatig verhoog om meer wins te gee aan die boere.
As daar weer kos en vleis goedkoper ingevoer word dan huil almal weer.

Adriaan ·

Hierdie berig belig die werk wat Dr Gawie du Toit sy lewe lank aan gewy het om landbou en spesifiek mielieproduksie in SA volhoubaar te maak en die skuldlas van boere te verminder.
Hy het baie teenstand deur die jare ondervind van onder andere die kunsmisbedryf en sy adviseurs wat kommissie verdien op verkope en winste najaag asook, selfs vanaf individue in die ou Departement van Landbou. Hy het uiteindelik uit die Departement bedank omdat hy nie aan sy feitelik nagevorste beginsels wou toegee nie en self gaan boer waar hy sy navorsing in die praktyk gaan toepas het. Hy het die wetenskap en winsgewendheid verstaan wat nodig is vir volhoubare boerdery. Ons moet ons hoed afhaal vir hom om op sy ouderdom lank na sy aftrede nog steeds ‘n bydrae in die landbou te wil maak en boere uit hulle finansiële skuldlas te help uitkom en graanboerdery winsgewend te maak. Sy betrokkenheid by Ermelo Hoërskool is absoluut lofwaardig.

Adriaan ·

Let op dat die volgende stellings nie korrek is volgens wat in die grafiek getoon word nie.
Op die 6,9 ton plot is 77N:10P:6K toegedien, wat op ʼn inkomste (Hierdie is die wins na die kunsmiskoste reeds afgetrek getrek is) van R17 174 en ʼn kunsmiskoste van R3 532 te staan gekom het. ʼn Wins van R13 642 is getoon (hierdieR13 642 is foutief kunsmis koste is reeds afgetrek).
Dieselfde fout word in die volgende stelling gemaak Op die 7,6 ton plot is 108N:33P:0K toegedien, wat ʼn inkomste (wins na aftrekking van kunsmiskoste) van R17 073 gelewer het, met ʼn kunsmiskoste van R5 697. ʼn Wins van R11 376 is getoon Hierdie R11 376 is foutief die kunsmis koste is reeds afgetrek).

Du Preez de Villiers ·

Goeiedag Adriaan, baie dankie vir jou opmerking. Ons het die fout reggestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.