Meer boere kies biologiese plantbeskerming

Biologiese plantbeskerming vereis dat ‘n boer gereeld sy gewasse moet inspekteer om besmettings betyds raak te sien en te bekamp. (Foto: Jennifer Poole, Pixabay)

“Die peste en plae wat gewasboere moet trotseer laat die Covid-19-pandemie soos ʼn vulletjie lyk.”  Dit is die woorde van Andre Fox, Andermatt Madumbi se direkteur van sake-ontwikkeling.

Sy maatskappy is een van die drywers van die biologiese rewolusie in landbou en hy was genooi om by die Son Safari-landbouskou in Mauritius met die boere te praat. Andermatt Madumbi is al 17 jaar in dié bedryf.

“Daar word voorspel dat die biologiese gewasbeskermingsbedryf binne 21 jaar net so groot soos die sintetiese bedryf sal wees, maar ek dink dit is nader as wat ons dink,” sê hy. Sy slagspreuk is om in hierdie mark die leiding te neem, of dit te verloor.

Hy het vir Maroela Media gesê dat dié bedryf teen 15% per jaar groei en dat kosproduksie in die volgende tien tot 15 jaar dramaties anders gaan lyk. “Derhalwe moet boere vasbyt.”

Hy sê daar is ʼn hernude fokus op grond-, plant,- en menslike gesondheid en verbruikers raak toenemend bewus van waar hulle produkte vandaan kom en kleinhandelaars word al hoe strenger met die minimum oorblyfselvlakke (MRL’s) van chemiese produkte op gewasse. Die mark soek meer “sagte” produkte op die tafel en is bereid is om duurder daarvoor te betaal.

Ongelukkig is biologiese landbou tans ingewikkelder, duurder en bied dit meer uitdagings as konvensionele praktyke, maar daar is verskillende praktyke soos kompostering en groenbemesting wat nog in sy kinderskoene is en baie potensiaal inhou.

“Boere raak meer volhoubaar en gebruik al hoe minder sintetiese produkte, maar ek is nie ʼn voorstander van net die een of die ander nie. Die beste metode is steeds kombinasies van sintetiese en biologiese produkte. Daar moet ook wegbeweeg word van die term “organies” en eerder gekyk word na geïntegreerde pesbeheer.”

Hy waarsku egter dat biologiese en sintetiese produkte teen mekaar kan werk en dat ʼn boer gereeld saam met sy raadgewer moet sit sodat hy weet wanneer hy wat moet. Die operateurs op die plaas moet ook behoorlik opgelei wees en verstaan hoe die produkte werk en hoe om dit te gebruik.

Andre Fox, direkteur van sake-ontwikkeling by Andermatt Madumbi sit die voordele en uitdagings van biologiese plantbeskerming uiteen. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Jy kan byvoorbeeld nie fungi in die grond sit en net daarna ʼn fungi-inhibeerder spuit nie, of koper saam met ʼn bakterie plaas nie.” Die toedieningstrategie moet versoenbaar, akkuraat en betyds wees.”

Hy beklemtoon dat biologiese middels nie ʼn wondermiddel is nie en dat boere ʼn paradigmaskuif sal moet ondergaan. “Boere sal meer tyd in die veld moet deurbring en hul gewasse deurlopend moniteer en die lewensiklus van die peste en plae ken. Die vlakke van besmetting moet betyds bepaal word en jy moet slegs spuit as dit moet.  Tydsberekening is van kardinale belang en kalenderspuitprogramme is dus uit.”

Plaaslike omstandighede soos die temperatuur, UV-vlakke en reënval moet ook in ag geneem word.

Multinasionale maatskappye betree ook nou hierdie mark en doen baie navorsing en ontwikkeling, wat daartoe lei dat die koste van biologiese produkte laer word.

Dit help ook dat kansvatters moeilik in die mark kan kom. Ongelukkig bied kansvatters goedkoper produkte wat baie verleidelik is.

Die wetgewers bly ook nie agter nie en die beperkende regulasies op sintetiese produkte word feller. Die hoepels waardeur biologiese produktemaatskappye moet spring is dus baie minder as met die goedkeuring van sintetiese produkte.

“Landbou gaan ook al hoe belangriker word en boere sal rentmeesterskap van hul grond moet neem en weet wat onder die oppervlak aangaan. Die geheim is om saam met die natuur en nie teen die natuur te boer nie.”

Hy voer egter aan dat die beloning vir geïntegreerde pesbeheer die moeite werd sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.