Meulenaars soek boere se mielies só

Meulenaars vind heelwat uitdagings met die produksie van mieliepap. (Foto: Leán van den Bergh)

Die meeste Suid-Afrikaners se stapelvoedsel is mieliepap en dit is veral noord van die Oranjerivier, waar mielieproduksie die somersaailandskappe oorheers, waar die mense nie sonder hierdie geliefde ontbyt of bygereg tydens ʼn braai kan klaarkom nie.

Hierdie eenvoudige gereg, wat uit gemaalde witmielies bestaan en gefortifiseer is (ʼn paar aanvullings wat deur wetgewing verplig is) om wanvoeding onder die armste gemeenskappe te bekamp, word deur heelwat handelsmerke in verskillende grade en teksture aangebied.

Meulenaars ondervind egter heelwat uitdagings om hierdie voedsame maaltyd te produseer. In ʼn onlangse paneelbespreking tydens ʼn Agbiz-graansimposium het Arie Wessels, bestuurder van graannavorsing by Pepsico ʼn paar behoeftes gestel vir die mielies wat hulle aankoop, wat mielieboere ekstra geld in die sak sal besorg as hulle daaraan voldoen.

“Wanneer ‘n mengsel van harde en sagte witmielies by ons afgelewer word, skep dit baie probleme. In die maalproses word die mielie se kiem eers uitgehaal en die masjien (ontkiemmer) wat dit doen moet fyn ingestel word. Indien die mielies se hardheid grootliks verskil, sal die sagte mielies hoofsaaklik verpoeier word en die harde mielies se kiem gedeeltelik agterbly. Daar is ook ʼn swart lagie, wat dan saam met die res van die mielie deurgaan en nie aptytwekkend is as dit in die pap beland nie.

Suid-Afrika is een van die min lande wat buiten geelmielies vir veevoer, ook witmielies vir menslike gebruik verbou. (Foto: Maroela Media)

“Aan die einde van die dag gaan dit vir ons oor beter ekstraksie in beide die ontkiemming en maalprosesse, meer produksiekapasiteit, asook ʼn beter finale produkgehalte.

“Daar is heelwat kultivars op die mark wat boere kan plant waarvan die hardheid voldoende vir ons is en dit sal produsente niks ekstra uit die sak jaag nie. Ons wil boere aanmoedig om op die regte kultivars te konsentreer wanneer hulle vir ons produseer.”

Hoewel daar gewoonlik ʼn stryd tussen opbrengs en hardheid is, sê Wessels dat hulle bereid is om meer te betaal vir mielies wat aan hul vereistes voldoen. “Ons gebruik ʼn eenheid, hektolitermassa om mielies te gradeer. Dit word maklik met die Duitse Kern-instrument gedoen, wat baie akkurate en herhaalbare resultate lewer. Teoreties word die massa van 100 liter mielies bepaal, wat korreleer met die pakkingsdigtheid van die endosperm. Harde mielies lewer beter hektolitermassa en bokant 76 kg/hl is daar besliste verbetering in ontkiemming en vermaling. Ons sal graag boere vir ʼn goeie hektolitermassa en die regte kultivars wil vergoed.

“Met hierdie stelsel wil ons ʼn nuwe standaard inlyf wat ons die wit supergraad mielie (WMS) noem, waarvoor ons ‘n beter prys as vir witmielies (WM1) sal betaal. Ons het in die meulenaarskamer daaroor gesels en almal is positief oor die konsep. Ek glo hierdie mieliegraad kan die dominante een in Suid-Afrika word.

“Die res van die bedryf soos Agbiz en Graan SA sal net moet inkoop. Die uitdaging is egter dat daar logistieke probleme mag wees, omdat die silo’s ʼn aparte stoorplek moet skep vir hierdie mielies. Die bedryf sal dus daarin moet belê en ons benodig dus hul ondersteuning.”

Meulenaars is ook met die saadtelers in gesprek en daar is voorgestel om met genetiese ingenieurswese verbeterde hardheid in die witmielies in te bou sonder om opbrengste in te boet.

Wessels sê Pepsico, die eienaar van Pioneer Foods, beoog om ʼn plantprogram onder opkomende boere te begin waarin kultivars geplant sal word wat geskik sal wees vir hierdie premies.

“Premies is egter nie die uitsluitlike doel nie. Daar is ʼn geleentheid vir boere om net die regte produk op die mark te sit waarvoor daar aanvraag is. Ons uitdaging is dus om hierdie gesprek al langs die waardeketting af te hê. Daar is ook baie meulenaars in Afrika wat hulle hande op hierdie mielies wil lê sodra die hele GMO-kwessie in Afrika agtergelaat kan word.”

Tydens die paneelbespreking het voorstelle vir ʼn graan-paspoort na vore gekom waarin boere die kunsmis en chemiese middels wat gebruik is, asook die kultivar(s) wat geplant is, sal verklaar. Sodoende kan die voedselveiligheid en innamegradering van mielies heelwat uitgebrei en verbeter word.

‘n Graan-paspoort sal ook die spuitmiddels aandui wat ‘n boer gebruik het. (Foto: Maroela Media)

Die deelnemers aan die bespreking was dit ook eens dat ʼn paspoort ʼn sielkundige kwessie is en dat ʼn boer nie maklik sy handtekening op ʼn dokument sal sit nie, maar as boere die wette en die GAP-vereistes daar buite bestudeer sal hulle tot ander insigte kom.

“Ons wil hierdie gehalte-produk graag aankoop. Dit sal die mielieboere ook in ‘n beter posisie stel en die hele waardeketting bevoordeel. As daar ʼn regverdige stelsel ingestel kan word het ons ʼn wen-wen situasie,” sê Wessels.

In die bespreking het dit ook uitgekom dat Suid-Afrikaanse boere se mielies van die  beste gehalte is. Die bedryf kon dit duidelik sien met die swak gehalte van die mielies wat uit die VSA en Mexiko ingevoer is tydens die vorige droogte wat in die mielie-produserende van Suid-Afrika geheers het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre ·

Ek weet nie wat die GMO kwessie in Afrika behels nie, maar ek vind dit moeilik om GMO vrye growwe mieliemeel te koop teen ‘n redelike prys. Ek is seker ook hier deel van die mindere groep wat GMO produkte vermy om te eet of om mee ingespuit te word.

Miek ·

Wat werklik gebeur is dat die graan aankoop en bergings maatskappye (Ou koöperasies) swakker grade graan noukeurig in baie goeie grade in te meng om net-net binne die standaarde te bly, om sodoende so veel moontlik van die swakker grade as goeie grade te verkoop. Die selfde gebeur met vog inhoud. M.a.w., die artikel is ‘n vet leun. En die meulenaars weet dit baie goed. Die oorsaak van die probleme kom uit die mengery uit. Die boer wat die swakker graan of natter graan moes inlewer a.g.v. weersomstandighede, kry natuurlik nie die finansiële voordeel daarvan nie.

Andre ·

Ek neem dan aan dis waarom Super Maize Meal so fyn is soos babakos.

deon ·

As hulle betaal lewer ons die graan maar die meulenaars ook maar n klomp etters…

Chantel ·

REGTIG!! Passop oor jou uitlating Deon, soms moet mens maar op jou tande byt as jy nie iets goeds te sê het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.