Mielies vorm steunpilaar van voedselsekerheid

  • Argieffoto Foto: earthtimes.org

    Deur Gawie du Toit DSc (Agric) Pr. Sci. Nat.

Die mielie staan uit as die steunpilaar vir voedselvoorsiening aan die nimmereindigende groeiende bevolking van Suid-Afrika – ʼn bevolking van 16 miljoen in 1960, wat jaarliks toegeneem het tot dit volgens Statistieke SA 60 miljoen in 2019 beloop het en volgens waarnemers vandag minstens 70 miljoen is.

Daar word dus al hoe groter druk op produsente geplaas om bekostigbare mielies beskikbaar te stel. Hierdie basiese voedselproduk vorm die kern in die Suid-Afrikaanse voedselvoorsieningsketting en daar word nie oordryf nie as daar gesê word: Mielies is kos en kos is mielies.

In dié verband moet mens in gedagte hou dat die mielie regstreeks verantwoordelik is vir die energiebehoefte van die mens en onregstreeks die proteïenbehoefte aanvul, laasgenoemde omdat dit die basis vorm vir die produksie van beesvleis, skaapvleis, varkvleis, braaikuikens, eiers, melk, botter, kaas en jogurt.

Daarbenewens word die nodige vitamiene deur groente en vrugte gelewer.

Dit sal belangrik wees om te let op die groot oeswisseling van hierdie belangrike voedselproduk, soos beïnvloed deur die klimaat. Dit is veral reënval wat die grootste bepalende faktor vir droëlandsaaiery in Suid-Afrika is (sien figuur 1 hier onder). Die oeswisseling oor ʼn termyn van 57 jaar is kenmerkend van die klimaat se invloed en word duidelik getoon.

 

Mielie-opbrengste vir elke seisoen vir die 57 jaar vanaf 1966 tot 2022. (Figuur: Gawie du Toit)

 

Let op hoe die oes in 1966 van 4 miljoen ton tot meer as 16 miljoen ton oor die
57-jaar-periode gewissel het. Dit is ook baie interessant om te merk dat ʼn puik oes van 14,6 miljoen ton in die 1980-’81-seisoen behaal kon word, wat eers 37 jaar daarna met ʼn rekordoes van 16,8 miljoen ton in 2017-’18 oortref kon word.

Om ʼn beter begrip van die afgelope drie seisoene se relatief groot oeste van meer as 15 miljoen ton mielies te kry, beskou figuur 2 hier onder. Die gemiddelde opbrengs soos deur die blou lyn getoon, beloop 11,7 miljoen ton. Volgens die huidige jaarlikse plaaslike aanvraag van meer as 11,3 miljoen ton (wat steeds jaarliks toeneem) is daar in vier van die laaste 12 seisoene, vanaf 2011 tot 2022, nie daarin geslaag om aan genoemde aanvraag te voldoen nie, en in nege van die hele periode van 21 seisoene is die paal nie gehaal nie.

 

Mielieproduksie in Suid-Afrika oor 21 jaar. (Figuur: Gawie du Toit)

 

Dit is duidelik dat dit nie baie verstandig sou wees indien aanvaar word dat die onlangse rekordoeste wat vanaf 2020 tot 2022, met meer as 15 miljoen ton per jaar, behaal is die nuwe norm van mielieproduksie vir die toekoms is nie, veral soos gesien teen die wisselende jaarlikse langtermyn-mielie-opbrengs (figuur 1) en die onbeheerste bevolkingsaanwas.

Daarom sal daar baie ernstig gedink moet word wat die strategie vir die toekoms vir volhoubare voedselvoorsiening vir die bevolking moet wees – ʼn kritieke aspek waaroor nie ligtelik omgegaan kan word nie!

Kenners wys daarop dat die vinnige styging in oeste van 1948 tot 1981 hoofsaaklik deur twee faktore aangehelp is:
Eerstens het die oppervlakte wat beplant is, vanaf 3 miljoen ha in 1948 tot 4,7 miljoen ha in 1968 toegeneem. Die tweede faktor is die gebruik van nuwe tegnologie, hoofsaaklik beter plantbeskermingsmiddels en basters.

Gevolglik het oeste gestyg en in 2014 het dit die gemiddeld met 5 t/ha oorskry.

Hierdie twee faktore is korrek en word ondersteun, maar daar is ʼn derde, uiters belangrike aspek wat ook genoem moet word, naamlik dat mielies nie dermate kon presteer sonder die aanvulling van die nodige plantvoedingstowwe nie. Met ander woorde, bemesting (NPK) is ʼn uiters belangrike faktor, waarsonder die genoemde produksiehoogtes nie bereik kon word nie.

Kunsmisproduksie in Suid-Afrika het dan ook teen die einde van die vyftigerjare en begin sestigerjare ʼn aanvang geneem met die eerste volwaardige fabriek wat deur Fisons-kunsmis by Sasolburg gebou is. Hulle het van Phalaborwa-rots gebruik gemaak, wat toe ook begin ontgin is. Saam met swawelsuur is die eerste superfosfaat vir plaaslike gebruik geproduseer, wat die invoer daarvan oorbodig gemaak het.

Fisons rig ook ʼn kalksteenammoniumnitraat-fabriek vir stikstof op en misstofmengsels sien saam met ingevoerde kaliumchloried die eerste lig. Suid-Afrika besit geen reserwes van laasgenoemde nie.

Etlike ander misstoffabrieke van verskeie firmas volg nou met rasse skrede en in die opvolgende jare van die laat sestiger- en vroeë sewentigerjare ontwikkel ʼn reusagtige kunsmisbedryf in die land.

Bemesting van mielies vind nou op groot skaal plaas, terwyl raadgewers boere lei om te bemes vir groot en maksimum oeste, in plaas van maksimum wins. Die gevolg is onnodige, groot hoeveelhede toegediende misstof, wat weliswaar weens aanhoudende oorbemesting tot huidige onnodige mielieskuld aanleiding gee.

 

Kunsmis. (Foto: Maroela Media)

 

Hou steeds in gedagte dat sy misstofinset, teen minstens eenderde van die totale insette, die grootste uitgawe vir die mielieboer is. Plantbeskermingsmiddels, bastersaad, brandstof en masjineriekoste vorm ongeveer die volgende derde, terwyl die laaste derde uit oorhoofse koste bestaan.

Tans is die ironie van die omvattende misstofbedryf dat waar Suid-Afrika ʼn besonder ontwikkelde misstofbedryf gehad het en totaal selfvoorsienend was, dit die afgelope klompie jaar vinnig agteruitgegaan het. Om verskeie redes, soos swak staatsondersteuning en invloed van buite, het dié bedryf na 60 jaar feitlik totaal in duie gestort. Invoere van kunsmis vind tans weer hoofsaaklik op groot skaal plaas, soos in die eerste helfte van die vorige eeu die geval was.

Die invoer van produksie-insette in die algemeen en kunsmis in besonder is dus nie ʼn gesonde vertrekpunt vir volhoubare ekonomiese voedselproduksie in die volgende eeu vir Suid-Afrika nie.

Daar sal dus nuut gedink moet word oor die strategiese waarde van ekonomiese mielieproduksie as sleutelkomponent vir volhoubare, gesonde en bekostigbare voedselvoorsiening aan die bevolking van Suid-Afrika. Dit is ʼn aspek wat met insig, die grootste verantwoordelikheid en ʼn besonder hoë vlak van kundigheid hanteer moet word om die aakligheid van ʼn grootskaalse hongersnood en gevolglik anargie te voorkom!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek stem nie saam die BOERE wat die mielies plant en oes onder moeilike omstandighede soos hulle sekerheid wat gelyk is met oorlog in eerste wêreld lande,diskriminasie van die huidige regime en dreigemente dat hulle grond gevat sal word soos in Zimbabwe dink ek die eer moet gegee word aan die wat dit verdien.

annie ·

Beter plantbeskermingsmiddels is dit die gm-truuks/gifstowwe? Die EU sit met ‘n dilemma want hul wil so graag vir die Oekraine help maar die oordadige oeste is te ongesond vir mens en dier. Oppas!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.