Nuwe biotegnologie vir sojabone in SA na 20 jaar

Een van die veldproewe in Limpopo waar Bayer die Intacta® Roundup®Ready2 Pro-genetiese eienskap in sojabone getoets het. (Foto: André Botes, markontwikkeling by Bayer Crop Science)

Die Suid-Afrikaanse regulerende owerheid vir saad, as deel van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het vir die eerste keer in byna 20 jaar ’n geneties gemodifiseerde sojaboon-eienskap (genetic trait) goedgekeur.

Bayer Crop Science het op 29 Julie die groen lig gekry dat Intacta® Roundup® Ready2 Pro welkom in Suid-Afrika is. Die goedkeuring van die aansoek om algemene vrystelling het egter nie oornag gekom nie. Volgens Bayer het die proewe, opstel van verslae en die hersiening van aansoeke meer as vyf jaar se harde werk gekos. Daarbenewens het dit noue samewerking binne die Bayer Crop Science-afdeling, tussen baie mense in verskillende spanne met verskillende funksies oor verskeie streke gekos.

Die proses om die geldigheid van die eienskap se aansprake onder plaaslike boerderyomstandighede te toets, is oor vier seisoene voltooi.

Bayer het Monsanto in 2016 bekom en hulle dieregesondheidsafdeling in 2019 aan Elanco verkoop om hulle toe te spits op saad- en gewasbeskermingstegnologie onder die Bayer Crop Science-vaandel.

Intacta RR2 Pro is die tweede eienskap vir sojabone wat ooit vir verbouing in Suid-Afrika goedgekeur is. Die eerste was die Roundup® Ready-sojaboon (GTS 40-3-2), wat toevallig op 1 Augustus 2001 goedgekeur is – byna twee dekades gelede.

Die Intacta RR2 Pro-eienskap bied twee voordele. Eerstens is dit daarop gemik om sojaboonboere insekbeskerming teen vreetskade te bied wat deur sekere lepidopteran-sojaboonplae soos Helicoverpa armigera (Afrikabolwurm) veroorsaak word. Tweedens bied dit glifosaatverdraagsaamheid teen onkruidbeheer.

Volgens Bayer word hierdie eienskap al agt jaar lank suksesvol in Brasiliaanse kultivars gebruik en het sy waarde vir boere in dié land bewys.

“Dit is ’n belangrike mylpaal vir Bayer Crop Science in Suid-Afrika en sal na verwagting oor baie jare aansienlike waarde vir boere en ons onderneming bied,” sê Klaus Eckstein, uitvoerende hoof van Bayer Suider-Afrika en groepshoof van Gewaswetenskap in Afrika.

“Dit is vir ons ’n belangrike pilaar wat bewys dat ons die leiding geneem het om die weg te baan om biotegnologie vir sojabone in Suid-Afrika te vestig, maar dit is ook ’n bewys dat ons met rolspelers in die bedryf wil saamwerk.”

 

Sojaboon-biotegnologie probeer weer

Hoewel Suid-Afrikaanse boere oor die algemeen moderne tendense soos biotegnologie omarm, was daar oor die afgelope aantal jare min beweging in die verband vir hierdie gewas.

Een van die redes was dat die ontwikkeling en inbring van GM-tegnologie vir sojabone nie winsgewend in Suid-Afrika was nie, aangesien boere geneig was om hul geoeste saad terug te hou, in plaas van om die beter en nuwer saadprodukte wat vir die volgende seisoen ontwikkel is, te koop.

Dit het noodwendig die aansporing vir die destydse Monsanto weggeneem om elke seisoen nuwe en beter eienskappe en kultivars op die mark te sit.

Omstandighede het egter verander. “Vir sojaboere om aan die voorpunt (en winsgewend) te bly raak biotegnologie ononderhandelbaar en is dit dus tot die boer se voordeel om deurlopend die jongste saadtegnologie in te span.

“ʼn Saadmaatskappy kan ook nie die gehalte van teruggehoude saad waarborg nie. As jy by ʼn maatskappy saad koop volgens die gehalte wat SANSOR (Suid-Afrikaanse nasionale saadorganisasie) daarstel, kan jy gerus wees op naverkoopdiens,” sê Liza Bohlmann, kommunikasievennoot by Bayer Crop Science.

ʼn Paar jaar gelede is ook begin om ʼn sojaboonteelt- en tegnologieheffing vir boere in te stel (algemeen bekend as die soja-heffing) om die bedryf ʼn hupstoot te gee sodat meer in hulpbronne belê kan word om nuwe sojaboonkultivars en genetiese eienskappe vry te stel.

 

Die Intacta® Roundup®Ready2 Pro-genetiese eienskap beloof om beskerming te bied teen vreetskade wat deur die die Afrikabolwurm veroorsaak word. (Foto: Verskaf)

 

Stap twee

Bayer het nou die volgende proses afgeskop om uiteindelik hierdie opwindende tegnologie aan boere beskikbaar te stel. Tans word sojaboonvariëteite met Intacta® RR2 Pro vir registrasie gekweek vir kommersiële produksie en verspreiding. Dit behels ook toetse om te bepaal of die nuwe eienskap wat in die variëteite ingebou is, enige gevaar vir die omgewing of vir ander gewasse inhou. Die verskillende regulerende liggame wat toesig hou oor die plantverbeteringswet en planttelersregte moet ook hulle stempel daarop sit.

As alles vlot verloop, sal ʼn beperkte hoeveelheid saad met dié eienskap vir die 2022‑’23‑plantseisoen beskikbaar wees. Bayer Crop Science het nie sojabone in hulle portefeulje nie en het aangedui dat hulle nie self die nuwe saadvariëteit op die mark gaan sit nie, maar sal die genetiese eienskap aan ander saadmaatskappye verkoop wat dit in hulle eie variëteite kommersieel beskikbaar sal maak.

“Dit alles sal lei tot nuwe eienskappe en nuwe kiemplasma by sojabone, wat die mededingendheid, winsgewendheid van die sojaboonboere en die bedryf sal verhoog,” sê Eckstein.

Volgens die Suid-Afrikaanse oesskattingskomitee staan ​​die voorlopige produksie vir sojabone vir die huidige 2020‑’21-seisoen op ’n rekord van 1,918 miljoen ton.

Die geskatte oppervlakte geplant is 827 100 ha en die verwagte opbrengs is gemiddeld 2,32 t/ha.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Die glisofaat in RoundUp gaan in die VSA vervang word weens vrese oor bewese kanker maar ons boere wil te graag plastiekagtige volmaakte voedsel op die mark stoot vir groot geld min gespin oor mense se gesondheid en of bye uitsterf. Bayer lief SA-boere se gierigheid. Watter absolute skande!

Jan Seerot ·

Annie, as jy darem wat hierdie vergalste wurm aan oeste doen en wat dit kos om die verpesting te beheer, sal jy baie vinnig ‘n ander deuntjie sing. Ek plant tamaties; jy moet die skade sien wat die verpestings oornag aanrig.

Leendert ·

Hoe kan ons hulle stop? Ek verkies soja soos wat God dit gemaak het voordat mense daaraan gepeuter het. Glifosaat is baie nadelig vir die mense wat die soja eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.