Nuwe diens waarsku teen aartappelroes

Die simptome van aartappelroes op blare. (Foto: Verskaf)

Syngenta het ʼn diens bekendgestel wat aartappelboere waarsku wanneer toestande gunstig is vir die ontwikkeling van die twee belangrikste siektes, naamlik vroeë- en laatroes.

Hierdie diens kombineer data van weervoorspellings en siekterisikomodelle om waarskuwings vir spesifieke weerstasies of die gebied rondom ʼn weerstasie te genereer.

“Produksiekoste het oor die afgelope dekade skerp gestyg, terwyl aartappelpryse relatief konstant gebly het. In huidige omstandighede kan boere bloot nie onnodige toedienings van kunsmis, plaagdoders of ander insette bekostig nie en moet die bes moontlike opbrengs op minimum insette verkry word,” sê André Labuschagne, projekhoof van aartappels by Syngenta.

Waarskuwings word op Maandae en Donderdae uitgestuur met ʼn risikovoorspelling vir die volgende vyf dae. Wanneer geen risiko verwag word vir die volgende vyf dae nie, kry boere nie ʼn waarskuwing nie. Waarskuwings word per WhatsApp of e-pos gestuur en sluit ook ander inligting, soos spuittoestande, in.

“Voorkomende beheer van vroeëroes op aartappels is uiters belangrik en dit is nie sommer verkoopspraatjies nie.

Aartappelroes. (Foto: Verskaf)

“Laboratoriumproewe met suksinaat-dehidrogenase-inhibeerder- (SDHI-)produkte het swak beheer oor vroeëroes op aartappels getoon, selfs wanneer toediening net twee dae ná inokulasie – en voor enige simptome sigbaar was – plaasgevind het.”

Hy sê boere moet al hoe meer op hul hoede wees.

“Uit historiese moniteringsdata vir Lambertsbaai is dit duidelik dat die risiko vir vroeëroes in die huidige seisoen hoër is as in die vorige twee seisoene. In die Warden-distrik was die vroeëroesrisiko die hoogste tydens die 2018-’19-seisoen.”

Boere kan hier vir die diens registreer en kies in watter maande hulle waarskuwings wil ontvang, wat noodwendig saam met die produksieseisoen sal val. Dit sal na die weerstasies wat hulle aandui, gestuur word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.