Onbehandelde bloekompale sterker en ‘groener’

Vergelegen se wingerdboukundige, Rudolf Kriel, in ’n wingerd waar hy onbehandelde bloekompale gebruik. (Foto: Verskaf)

Vergelegen-wynlandgoed het die wynbedryf ʼn stappie verder in die pad na omgewingsvriendelike landbou geneem met hulle onbehandelde bloekomhoutpale.

Hierdie wynplaas, wat in Somerset-Wes geleë is, het al talle toekennings ontvang vir sy verbintenis tot volhoubaarheid en biodiversiteit. Met hierdie nuwe konsep word pale van sekere bloekomspesies wat nie chemies behandel is nie, in sy wingerde getoets.

“Dié onbehandelde pale is in twee blokke geplant, wat oor 3,55 ha strek, waarop sauvignon blanc‑ en sémillon-druiwe verbou word. Die oorblywende vier blokke, wat in 2020 geplant is, het staalpale in een blok, en normale behandelde dennepale in die res,” sê Rudolf Kriel, wingerdboukundige van Vergelegen.

Die vrugtebedryf in die Wes-Kaap het pale in wingerde en boorde nodig vir strukture en oprankdoeleindes. Na raming word 100 000 m3 pale per jaar in die Wes-Kaap behandel, waarvan sowat 60% vir die vrugtebedryf bestem is. Die verwagte leeftyd van ’n paal in die bedryf is ongeveer 25 jaar, dit wil sê ’n duursaamheid klas 1‑produk. Tot op hede is chemies-behandelde pale gebruik om hierdie leeftydverwagting te skep.

Verskeie bloekombome verkry egter ’n natuurlike duursaamheid deur die spinthout, wat tussen die bas en die kern voorkom, te verwyder. Suikerbloekom (Eucalyptus cladocalyx) is een so ’n spesie.

Die pale wat op Vergelegen geplant is, is afkomstig van die tradisionele plaasbloekom, oftewel die suikerbloekom (E. cladocalyx) en tuartbloekom (E. gomphocephala). Hierdie bloekomspesies word algemeen op Wes-Kaapse plase aangetref, aangesien dit goed aangepaste, veeldoelige bome is.

Green Cape Timbers, wat op die naburige wynplaas Lourensford geleë is, het die pale vervaardig en verskaf.

Sean McGaffin, eienaar van Green Cape Timbers, sê hy het in omgewingsvriendelike hout begin belangstel toe hy hout na Nederland begin uitvoer het. “Nederland plaas houtpanele aan die kante van sy kanale en dyke en hierdie hout moet reg gesertifiseer wees, aangesien hulle nie behandelde hout in hul waterweë toelaat nie.

Vergelegen se wingerdboukundige, Rudolf Kriel; Green Cape Timbers se eienaar, Sean McGaffin en Hugo Slabber, eienaar van Tree and Fruit Solutions wat deel van die Green Cape Forestry-konsortium is. (Foto: Verskaf)

“Die pale word vervaardig deur die bome af te kap en die bas aan te hou om hulle toe te laat om die vog stadig uit te trek en vry te stel. Die buitenste, sapbevattende hout word dan afgeskil, en die stam tot die verlangde lengte pale gesny.”

Hy sê onbehandelde bloekom is voordeliger omdat dit goedkoper is om te vervaardig en omdat daar nie water en preserveermiddels soos kreosoot of gechromeerde koperarsenaat, wat chroom-, koper- en arseenverbindings bevat, gebruik word wat in die grond kan uitloog nie.

Aangesien weggooipale deur arm gemeenskappe vir brandhout gebruik word, is onbehandelde pale noodwendig veiliger om te gebruik want dit bevat nie swaar metale en arseen nie.

Bloekomhout is tot vyf keer sterker as dennehout en kan dus vir dunner pale ingespan word.

Leslie Naidoo, Vergelegen se kommersiële en risikobestuurder, sê: “Vergelegen is toegewyd aan volhoubaarheid en het oor etlike dekades met navorsingsinstellings en spesialisverskaffers van omgewingsprodukte en -dienste saamgewerk.

“Ons sal dienooreenkomstig die toestand van die onbehandelde pale en enige impak op die wingerde moniteer, en sien daarna uit om die bevindinge mettertyd na buite te deel.”

Bloekombome speel ook ʼn ander belangrike rol in die landbou. Die bome blom in verskillende seisoene en is ’n belangrike bron van nektar en stuifmeel vir bye wat noodsaaklik is vir bestuiwing in die Wes-Kaap se vrugtebedryf.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.