Ontmoet ons wynboere: Beleef Frankryk op Marianne

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees. 

Die Dauriac-familie is gesoute Franse wynmakers en besit drie wynplase in die beroemde Bordeaux-wynstreek, maar tydens hul besoeke aan Suid-Afrika het die land hulle aangegryp en het hulle besluit om ʼn plaas naby Stellenbosch te koop en dit Marianne te doop. Christian Dauriac het skoon verlief op die plaas in die Simonsberg-vallei geraak toe hy sien dat die kleigrond baie ooreenstem met dié op die regterkantse oewer van die Garonne-rivier in Bordeaux, waar hy vandaan kom. Dit is hierdie kenmerkende grondtipe wat die wyne van Bordeaux hul besondere karakter gee.

Die Marianne-wynlandgoed lê knus tussen die heuwels van die Simonsbergvallei. (Foto: Mariannewines.com)

Hy het daar en dan die visie gekry om Franse landboutradisies en neigings op die plaas toe te pas en toenemend nader aan die manier beweeg soos die Franse in Bordeaux boer – ʼn Suid-Afrikaanse terroir met ʼn Franse savoir faire.

“Ons droom was om albei, die ou en die nuwe wêreld, te kombineer om wyne so na as moontlik hieraan te maak. Daarom het ons besluit om in 2004 hierdie boetiekwynlandgoed van 32 ha met 24 onder wingerde aan te skaf,” sê Dauriac.

“Hierdie streek is gewaarborg om premium druiwe te produseer. Ons bewerk al die aspekte van dié terroir tot die uiterste om topgehalte druiwe te verseker. Met ons goedgebalanseerde, mineraalryke grond produseer ons druiwe met ʼn uitsonderlike kompleksiteit. Ons volg ʼn biologiese benadering wat saam met die natuur werk en ons glo dat ons wyne in die wingerde gekweek word om in die kelder vervolmaak word.”

ʼn Franse flair val op as jy oor die Marianne-wynlandgoed se voortuin uitkyk. (Foto: Mariannewines.com)

Marianne se wynmaker, Jos van Wyk, is deeglik geskoei in die Franse wynmaaktradisie. Hy het in verskeie streke in Frankryk gaan werk om ondervinding op te doen. Weens die soortgelyke Mediterreense klimaat het hy besluit om sy meestersgraad in Sisilië te doen. Toe hy hoor van die vakante betrekking op Marianne, het hy Dauriac in Frankryk gaan sien en drie dae later was hy op sy pos.

Hy is nou reeds vyf jaar op Marianne om wyne in ʼn Franse styl met ʼn Afrika-gevoel te maak. Hy gebruik ook Franse konsultante om die wingerde te snoei en die wêreldbekende Thierry Haberer bedien hom van raad in sy kelder.

Van Wyk is ook die afgelope twee jaar by die wingerde betrokke en het onlangs begin kyk na die natuurlike hulpmiddele tot sy beskikking. “Ons is tans in ʼn oorgangsfase met die oog daarop om om meer gesond en natuurvriendelik te boer, waar die eerste stap natuurlik is om die basiese dinge reg te doen,” sê hy.

“Ons fokus toenemend meer daarop om ons grond se totale welstand te verbeter deur die waterhouvermoë en gesonde organiese materiaal in die grond te verhoog.”

“In April en Mei berei ons vir die winter voor deur ʼn uitgewerkte mengsel dekgewassaad, wat korog (kruising tussen koring en rog), lupine, klawer en gars insluit, tussen die wingerdrye te saai. Dit het ten doel om die koolstof- en stikstofverhouding in die grond te balanseer en te verhoog. Vanjaar het ons begin om die bedekking in die grond te werk om die organiese inhoud te verhoog.”

Die druiwe wat van die wingerde af kom word noukeurig met die hand gesorteer. (Foto: Mariannewines.com)

Hoewel hulle nog konvensioneel bespuit, beweeg hulle weg van onkruiddoders en pas toenemend meer meganiese metodes, soos grondbewerking en skoffel toe om van onkruid ontslae te raak.

Die streek se gemiddelde jaarlikse reënval is 800 mm en minimale besproeiing is dus nodig, maar die grond onder die oppervlakte, stokke, trosse en korrels word gereeld gemonitor om te bepaal wanneer elkeen van die kultivars wel besproei moet word.

“Tans het ons 25 ha onder produksie, wat kultivars soos pinotage, shiraz, merlot, cabernet sauvignon, grenache, mourvedre, cinsaut, sauvignon blanc en viognier insluit,” sê Van Wyk.

Die Marianne-wynlandgoed spog met twee moderne boetiekwynkelders wat elk uitstekend toegerus is om die fynste, handgemaakte wyne die lewenslig te laat sien.

“Ons oes die druiwe wanneer hulle optimale rypheid bereik en dit word uitsluitlik met die hand gedoen,” sê Dauriac.

“Ons glo in ʼn natuurlike wynmaakmetode en die rooiwyndruiwe word met minimale kontak in ons gravitasiegedrewe kelder verwerk, waarna dit in 225 liter Franse eikehoutvate verouder word.”

“Vir die witwyn volg Battonage (roer van die moer) tydens fermentasie, om te verseker dat die vrugte-aromas in die wyn behoue bly en dat die palet ʼn pragtige rondheid het. In die kelder word dit in 500  liter Franse eikehout- en 500 liter akasia-vate verouder,” sê hy.

In die Marianne-wynlandgoed se indrukwekkende kelder word daar soveel moontlik natuurlike wynmaakprosesse ingespan. (Foto: Mariannewines.com)

Wynfynproewers wat die landgoed besoek kan hulself gereedmaak vir ʼn biltong-en-wynpassing waarin vyf sorgvuldig geselekteerde wyne saam met drie premium biltongsnitte voorgesit word.

Die Michelangelo- internasionale wyn- en dranktoekennings het Marianne in 2020 met ʼn dubbelgoud vir sy 2016 Pinotage beloon en Marianne is ʼn eksklusiewe lid van die webwerf Wine Paths se bekendste wynkelders in Suid-Afrika.

“Ons is vas oortuig dat die geheim agter ʼn manjifieke wyn in die wingerd en in die pragtige landskap rondom hom lê.”

Die Marianne-wynlandgoed stel vyf wyne op http://www.diewynboer.co.za bekend.

Wynboere het ernstige verliese gely as gevolg van die regering se drankregulasies tydens die grendelstaat. Hulle sit met oorskot wyn en oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word terwyl 2021 se oestyd afgesluit word. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel, www.diewynboer.co.za/ www.thewinefarmer.co.za, in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hul huise wyn kan bestel.

Kyk na ʼn onderhoud met Jos van Wyk, wynmaker op die Marianne-landgoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.