Ontmoet ons wynboere: Springfontein verbou kalksteenwyn

Springfontein is ʼn wynplaas wat naby Stanford teen die see en Kleinrivier-strandmeer lê. (Foto: Facebook)

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees. 

Die plaas Springfontein lê teenaan die see, tussen Stanford en die Kleinrivier-strandmeer. In 1816 is die plaas onder die eienaarskap van die president van die Kaaps-Hollandse hooggeregshof, Andries Truter, geregistreer. Hoewel daar ʼn sterk fontein op die plaas is, was dit moeilik om die harde kalksteengrond te benut. Oor klomp dekades is daar probeer om op klein skaal met skape, bokke en beeste te boer. Uie en aartappels is ook rondom die opstal geplant, maar in 1983 is alle boerdery-aktiwiteite gestaak.

ʼn Duitse mynbou-ingenieur en sake-ekonoom, Johst Weber wat in natuurlike hulpbronbestuur spesialiseer, het ’n droom gehad om sy eie wynplaas te besit en ʼn bymekaarkomplek vir sy familie en vriende te vestig. In 1995 het hy op Heathrow ʼn klein eiendomsadvertensie in ʼn wynjoernaal gelees. Die woorde, “potensiële hoë-gehalte-wingerde” en “kalksteengrond” het sy aandag getrek. In Maart 1996 het hy vir die eerste keer na Suid-Afrika gekom om te kyk of Springfontein aan sy verwagtinge sou voldoen en op die tweede dag is die kooptransaksie met ʼn handskud voltrek.

Hy het sy familie en ʼn paar naasbestaandes betrokke gekry om te help om die projek te ontwikkel. Hulle het saam die maatskappy Someeno (Suid-ontmoet-Noord) gestig, wat dadelik begin het om ʼn mark vir Suid-Afrikaanse wyn in Europa te ondersoek.

Die streek was glad nie bekend met wynbou nie en Weber se projek is met skeptisisme bejeën. Nietemin het hy grondmonsters geneem en daarvolgens die mees geskikte grond op die plaas voorberei, water en krag aangelê, die vervalle geboue leefbaar gemaak, boorde opgerig en saailinge geplant.

Die kalksteengrond dra tot die eiesoortige karakter en identiteit van die plaas en sy wyn by. (Foto: Facebook)

Springfontein het sy eerste druiwe in 2000 geoes en die uitsonderlike gehalte het dadelik naam gemaak. De Trafford in Stellenbosch, Rupert-Rothschild in Franschhoek en Hamilton-Russell uit die Hemel-en-Aarde-vallei wou van meet af Springfontein se druiwe gebruik.

Weber het derhalwe besef dat ʼn eie wynkelder noodwendig die volgende stap is. Die eerste gedeelte van die wynkelder is in 2004 geopen en die eerste oesjaar is gebottel.

Tariro Masayiti is die wynmaker en hoofbedryfsbestuurder op Springfontein. Hy het biochemie in Zimbabwe studeer en homself in die laboratorium en later as plaasbestuurder op ‘n wynplaas onderskei. Die plaas het hom spoedig gestuur om wynmaak en wingerdbou aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. Hy het besluit om in Suid-Afrika te bly en sy eerste werkgewer was die Distell-groep. In 2012 het hy hom by die span op Springfontein aangesluit. Sy vrou, dr. Hildegard Witbooi, is die hoof van landbou op Springfontein.

Johst Weber is die eienaar,  dr. Hildegard Witbooi is die hoof van landbou en haar man, Tariro Masayiti is wynmaker en hoofbedryfsbestuurder op Springfontein. (Foto: Facebook)

Die kalksteengrond op Springfontein is suinig as dit kom by die vrystelling van minerale en voedingstowwe en beperk sodoende opbrengste. Dit verseker uiteraard kwaliteit bo kwantiteit en Springfontein hoef dus nie die wingerde kunsmatig in toom te hou nie.

“Kalkgrond produseer ook gesonde vrugte met ʼn natuurlike suurgehalte wat ons toelaat om baie min swawel te gebruik. Bowendien word lang rypwordingstye bereik weens die grond se relatiewe lae hittebergingsvermoë,” sê Masayiti.

“Die wingerde word met spesiaal voorbereide kompos gevoer wat uit organiese materiaal van Springfontein en omliggende plase verkry word. Ons hou ook ’n patent vir die byvoeging van perlemoenskulpe in ons kompos. Hierdie seediere se skulpe het ʼn hoë proteïen- en minerale-inhoud, veral selenium, magnesium en vitamien B12. Dit is werklik ’n waardevolle toevoeging tot ons ekologies vriendelike, organiese wingerdboupraktyk – en dit word beslis in ons wyn weerspieël.”

Vandag is Springfontein ’n gesertifiseerde organiese boerdery. Die plaas het ‘n eie mikroklimaat wat deur ‘n koel seebriesie op temperatuur gehou word en spog met ‘n gebalanseerde ekosisteem. Hulle kweek en plant hulle eie ongeënte wingerdstokke en daar word geen chemiese bemestingstowwe gebruik nie. Weens die natuurlike omstandighede en die grond se samestelling, sit Springfontein baie min addisionele voedingselemente soos koper en swawel by. Hulle hoef ook nie baie van hulle organiese plaagdoder te gebruik nie.

“Filloksera hou vir ons ʼn bedreiging in, maar vanweë die gehalte van ons grond is die kanse skraal dat dit hier sal uitbreek, veral omdat daar geen wingerdbou in die vallei beoefen is voor ons in 1996 hier begin het nie.”

Op Springfontein word sommige van die wyn in eiervormige PUR-tenks gefermenteer. Dié materiaal laat mikro-oksidasie toe, soos eikehout, maar beïnvloed nie die smaak soos wat nuwe eikehout doen nie. Die afmetings van die houers laat ook ’n deurlopende natuurlike vermenging van die inhoud toe.

In dié eiervormige PUR-houers word ʼn unieke wynverouderingsproses toegepas. (Foto: Facebook)

Springfontein se wyn bestaan uit vyf families wat elkeen ʼn eiesoortige geur en eienskappe nastreef. Dit is die Terroir Selection, wat hulle Pinotage en Chenin Blanc insluit. Die Ulumbaza-familie is almal pinotage-versnitte wat die White, Red en Pink of Springfontein insluit. Limestone Rocks sluit die Child in time, Dark side of the moon, Whole lotta love en Gadda da vida in; Single Vineyard, waaraan Jil’s Dune en Jonathan’s Ridge behoort; en Daredevil’s Drums wat Blushes inverse, Skins agleam, Mashes extreme, Juices untamed en Bunches broken insluit.

Springfontein se wyne wat op www.diewynboer.co.za beskikbaar is.

Wynboere het ernstige verliese gely weens die regering se drankregulasies tydens die grendelstaat. Hulle sit met oorskotwyn en oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel, www.diewynboer.co.za/www.thewinefarmer.co.za, in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hul huise wyn kan bestel.

 

Kyk na ’n onderhoud met Tariro Masayiti, wynmaker op Springfontein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gawie ·

Net jammer hulle wyne is onbekostigbaar duur vir die man in die straat

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.