Ontmoet ons wynboere: Holden Manz glo aan groen praktyke, bloedrooi druiwe

Die Holden Manz-wynlandgoed is ‘n lus vir die oog. (Foto: Facebook)

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees. 

Die Holden Manz-wynlandgoed lê knus in die Hottentots-Hollandberge se opvangsgebied, net suid van Franschhoek. Om verder tot die idilliese atmosfeer en skoonheid van die plaas by te dra, vloei die Franschhoek- en die Stony Brook-rivier aan weerskante verby.

“Die plaas het ʼn besondere bekoring omdat dit in ʼn ware vallei met ʼn plat valleivloer lê,” beskryf Gerard Holden dit. Hy, ʼn beleggingsbankier, en sy lewensmaat, Migo, het in 2000 Duitsland vir Suid-Afrika verruil om wynboere te word. Hulle het na meer as 50 plase gekyk voor hulle besluit het op dié een in Franschhoek.

Holden Manz sit met ʼn eiesoortige probleem vir ʼn plaas in ʼn droë land soos Suid-Afrika. “Weens die hoë reënval moet ons baie aandag aan die dreinering gee. Die vorige eienaars het reeds ondergrondse stormwaterpype reg oor die plaas ingesit, maar ons moes nog wegleislote grawe om te sorg dat ons wingerde die regte hoeveelheid water kry,” sê Ian Maree, Holden Manz se plaasbestuurder.

Hy het in Oktober 2019 plaasbestuurder geword en volg ʼn baie streng groenboerdery-beleid. ʼn Hoë premie word op die veiligheid en die gesondheid van die plaas en sy werkers geplaas.

Ian maak so ver moontlik van natuurlike metodes gebruik om die peste en plae in die wingerde te beheer. Natuurlike predatore soos ʼn sekere perdebyspesie en liewenheersbesies moet die witluise en miere in toom hou en teen swamme spuit hy ʼn gif wat uit boombas en lemoenskille gemaak is. Daar word net in uiterste omstandighede van chemiese middels gebruik gemaak.

“Verlede jaar het baie plae vanaf Stellenbosch se kant versprei, maar ons wingerd was uitmuntend skoon,” sê hy.

Tussen die wingerdrye saai Ian dekgewasse soos hawer en korog om die stikstof in die grond en die algemene grondgehalte op standaard te hou. Dan gooi hy ook landboukalk om die pH te beheer. “Alhoewel ons wingerde redelik oud is, klim ons wingerdsyfers steeds mooi,” sê hy.

Die dekgewasse tussen die wingerde dra by tot die gesondheid van die grond en ten einde die wingerde self. (Foto: Ian Maree)

Holden Manz se wingerde is in 2001 aangeplant en hulle hoofwynmaker, Thierry Haberer, ʼn Fransman, is besig om proewe met opleitegnieke te doen wat jy nie sommer in Suid-Afrika sal sien nie.

“As jou wingerde oud is, maar die stokke makeer nog niks nie, kan jy die nuwe lote weer van onder af oplei. Thierry span ʼn tegniek in waar hy die nuwe lote by die ogies van die bene van die stok laat uitkom waar hy dit dan weer van onder af laat oplei.”

Die geskarrel en opwinding van parstyd is verby en op Holden Manz word daar nou gesnoei. Tans het hulle twaalf hektaar onder cabernet sauvignon, cabernet franc, syrah en merlot.

Louis Daniels verstaan die kuns van wingerdsnoei. (Foto: Ian Maree)

Die landgoed produseer jaarliks ʼn gemiddeld van 100 ton druiwe en die wynmakers versoek dat die druiwe rooier en ryper gepluk word as die Suid-Afrikaanse norm, om uiteindelik meer van die besondere gehalte en geure uit die wyn te haal.

Omtrent alles in die moderne boetiekkelder – die tenks, pype, pompe en selfs die trappe – word van voedselgraad vlekvrye staal gemaak, behalwe die egte Franse eikehoutvate waarin die wyn verouder.

Elke hand moet sy vat vat tydens parstyd. (Foto: Facebook)

Holden Manz gebruik kleiner fermentasietenks wat derhalwe voorsiening maak vir afsonderlike fermentasies in klein hoeveelhede, terwyl ‘n oopplan-kelder die wynmaker maklik toegang tot elke afsonderlik vat bied.

Thierry het sy eerste wyn saam met sy pa op 14-jarige ouderdom gemaak. Hy het steeds ʼn baie diep respek vir druiwe en wynmaak en volg ’n intieme benadering tot die kuns met die klem op ‘aandag aan detail’. Net soos in die wingerd beproef hy deurgaans nuwe idees in die parskuip en delf diep in die potensiaal wat uit Holden Manz se terroir en druiwe kom.

Holden Manz verkoop hulle wyn plaaslik en oorsee en kon darem die ergste skokke van die inperking en verbod op wynverkope afweer.

Daar is ook ʼn spoggerige restaurant, proelokaal, vyfster-gastehuis en trouvenue op die landgoed.

Buiten die boorde dink Holden Manz se bestuur ook groen as dit by energie kom. Hulle het onlangs ʼn 65 kW-sonkragstelsel geïnstalleer wat hulle energieverbruik aansienlik verminder het. “’n Groot stap in ons volgehoue verbintenis tot volhoubare produksiepraktyke,” sê Gerard.

Wynboere het ernstige verliese gely weens die regering se drankregulasies tydens die inperking. Baie van hulle sit steeds met oorskotwyn en oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hul huise wyn kan bestel.

Holden Manz se wyne wat op diewynboer.co.za beskikbaar is.

Kyk na ʼn onderhoud met Gerard Holden, eienaar, en Annemarie Fourie, assistent-wynmaker van Holden Manz:

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.