Ontmoet ons wynboere: Marras skep ʼn toekoms vir ‘droogtewyn’

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees. 

Vir Martin ‘Marras’ Lamprecht is dit ongelooflik mooi om te sien hoe mense kan lag en kuier en gesellig wees terwyl hulle goeie kos en wyn geniet.

“As ek aan die lekkerste aande van my lewe terugdink, kan ek nie soseer onthou wat ek gedrink het nie, maar eerder saam met wie ek gedrink het. Wyn het dus nie waarde as die bottel nie oopgemaak en gedrink word nie,” sê hy.

Martin is in sy element as mense kan lag en gesels en plesierig is. (Foto: Facebook)

Hy het aanvanklik ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, maar skerts dat dit juis die verbruik van wyn was wat hom geïnspireer het om eerder ʼn wynboer te word.

“As student het ek as toergids in die wynbedryf gewerk en dit was ongelooflik om te sien hoe veral die Hollandse toeriste wat nors opgestaan het, hier teen tienuur, teen die tweede, derde glasie wyn, in die vriendelikste mense ontluik het.”

In 2010 het hy sy studie aan Elsenburg met ʼn cum laude in BAgric-keldertegnologie as die top-manstudent afgesluit.

Nadat hy baie waardevolle kennis in die praktyk onder David Nieuwoudt by Cederberg Kelders opgedoen het, het hy sy pad na die Noord-Rhône-vallei in Frankryk gevind om soveel moontlik van Franse wynmaak te leer. Daar het hulle hom aan ʼn paar geharde variëteite voorgestel wat hy met sy terugkoms in Suid-Afrika, in die harde en taai Swartland en Piekenierskloof kom toets het.

Die warm temperature uit die binneland wat gedurende die dag vanaf die Swartland styg en ʼn koel Atlantiese seebries snags dra by dat die druiwe in dié gebied in droër grond met net genoeg water kan groei. Die wyn wat uit hierdie vrugte gemaak word, besit ʼn spesiale diepte en kompleksiteit.

In 2016 het Martin ʼn vennootskap met ʼn boer in die Piekenierskloof naby Citrusdal gesluit om sy wingerde te verbou, die wyn te maak en die bemarking onder sy eie Marras-handelsmerk te doen.

Piekenierskloof is ʼn harde wêreld vir wingerdbou. (Foto: Facebook)

Wynbou in ʼn droë streek

“Hierdie gebied is droog en ons boer uiteraard net droëland. Weens die groot invloed wat die beskikbaarheid van water het, is ons boerderypraktyke ook anders. Ek lei byvoorbeeld nie die wingerdstokke op nie, sodat die plant nie hard hoef te werk om die vog na die vrugte en blare te neem nie.

“Die oeslading is derhalwe baie kleiner met minder druiwe, wat maar deel van ʼn plant se oorlewingsmeganisme is. Die voordeel hiervan is dat die konsentrasie van die sap baie hoër is, wat dus tot uitmuntende geure in die wyn bydra.

“Weens die droë klimaat is ons ook gelukkig as dit by swamme en peste kom. Dit is  min dat ons hoef te spuit. Ons het glad nie ʼn spuitprogram nie en werk met enkeltoedienings. Oor die afgelope paar jaar was dit so droog dat ons niks gespuit het nie. Dit gebeur slegs in noodgevalle en as die natuur begin oorneem en hom nie aan groen praktyke steur nie.

“Ons verbouing gaan eerder oor grondgesondheid en die behoud van water.”

Om sy wingerde wel gesond te hou en terselfdertyd vog te bewaar, plant Martin dekgewasse tussen die rye en pak strooi op die bankies. In die somer rol hy die dekgewasse plat om die vog in die grond te hou en te belug, sodat die mikro-organismes en erdwurms se groei en werking gestimuleer kan word. “Hulle is baie aktief en help die plante om die spoorelemente op te neem.”

Martin en sy span is baie aktief met baie hande in die wingerde. Sylote word uitgebreek en oortollige blare word verwyder om verdigting aan die binnekant van die plant teen te werk. “Meer belugting in die loof verhoed dat daar ná reënbuie swamme vorm. Dit droog dan vinniger en beter af, sodat witroes nie op die druiwe vorm nie,” sê hy.

Daar word hard en noukeurig gewerk in die wingerde waaruit Marras-wyn se druiwe geoes word, om met die minste water die beste wyn te maak. (Foto: Facebook)

“Druiwetrosse word ook meer egalig ryp as die loof uitgedun word. Met dikker blare kan ʼn tros aan die een kant oorryp wees terwyl die skadukant nog groen is.”

Martin plant noodwendig druiwevariëteite wat geskik is vir harde omstandighede. Grenache en Cinsault is twee waarmee hy in Frankryk kennis gemaak het en wat hy plaaslik baie suksesvol verbou en ook met ander bekender variëteite versny. “Dit is variëteite waarmee mense nie baie bekend is nie, maar ek glo as ons in die toekoms wil vorentoe gaan in hierdie droë land en met klimaatsverandering, sal dit bevorder moet word.”

Martin glo dat bemarking eiesoortig moet wees. “Wynbemarking het te generies geraak toe wynbemarkingsmaatskappye dit begin oorneem het. Ek hanteer myne self om dit persoonlikheid te gee, want mense wil hulle met ʼn produk vereenselwig.”

ʼn Sterk tema in Marras-wyn is die bekende gedig van C. Louis Leipold, “ʼn Handvol gruis”, want Martin glo mens word skatryk uit herinneringe. “Ek glo ook in die deug dat jy met toewyding die grond fisiek met jou hande moet bewerk en nie terugstaan vir harde werk nie.”

Martin Lamprecht doen sy bemarking self en met sy Marras op reis-tema, het hy iets eiesoortigs bereik. (Foto: Facebook)

Piekenierskloof is ongelukkig ver uit die pad van die bekende en hoofwynroetes. Daarom het Martin besluit om sy handelsmerk na die mense te bring, “sodat hulle dit kan proe en eet en plesierig wees”. Hy het ʼn plek in Voortrekkerstraat in Riebeeck-Wes hiervoor ingeruim wat pas voltooi is en beplan om binne die volgende vier tot ses weke die eerste gaste te ontvang.

Marras se wyne wat op diewynboer.co.za beskikbaar is

Wynboere het ernstige verliese gely weens die regering se drankregulasies tydens die inperkings. Hulle sit met oorskotwyn en oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel, https://www.die wynboer.co.za/, in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hul huise wyn kan bestel.

Kyk na ʼn onderhoud met Martin Lamprecht, eienaar van Marras-wyn:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.