Ontmoet ons wynboere: Jakkalsvlei bring vier streke bymekaar

Jakkalsvlei se restaurant troon bo die wingerde uit. (Foto: Facebook)

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees.

Die menigte jakkalse en wilde katte wat in die Langeberge en omliggende plase gesien kan word, het aan Jakkalsvlei sy naam gegee. Gelukkig word hier eerder met druiwe as met skape geboer.

Hierdie plaas, wat naby Herbertsdale in die hartjie van die Tuinroete geleë is, is sedert 1972 in die Jonker-familie se besit. Hierdie streek is nie so bekend vir wynproduksie nie, maar Jantjie, die derde-generasie Jonker het ʼn eiesoortige manier ontdek om sy wyn bekend te maak en ʼn besondere smaak te gee wat die mark vandag gaande het.

Jantjie en Clara Jonker is die derde-generasie eienaars van Jakkalsvlei. (Foto: jakkalsvlei.co.za)

Terwyl hy gereeld in die omgewing gejag het, is Oupa Nelis weldra deur die pragtige natuurskoon van dié stuk aarde met sy warm en droë klimaat geïnspireer. Hy moés toe hierdie besonderse stuk grond bekom, wat aan die suidekant van die Langeberge, 40 km van die kus geleë is.

In 1987 het sy seun, Andrew, die eerste chenin blanc-wingerd geplant. Jantjie, die kleinseun, het hom in 2007 op die plaas gevestig en in 2010 die Jakkalsvlei handelsmerk geregistreer en die eerste wyn, die Mount Cuvée en Hanepoot gebottel.

Jantjie en Louis van der Riet, sy wynmaker, het daarna ʼn eienaardige ding gedoen en begin om druiwe uit drie ander streke aan te koop en dieselfde kultivars met mekaar te versny, spesifiek sy sauvignon blanc. “Hierdie metode verskil van ʼn versnit, want ek maak steeds ʼn 100% sauvignon blanc uit die kultivars wat ek uit vier verskillende streke, elk met ʼn eiesoortige smaak saamvoeg. Hy het die ‘terrior’, as ʼn tradisionele eienskap van wyn, ʼn nuwe betekenis gegee.

Louis van der Riet, Jakkalsvlei se wynmaker, het grense verskuif deur anders na die definisie van terrior te kyk. (Foto: Facebook)

Die drie gebiede waaruit sy ander druiwe kom, is die Garcia-streek, wat ongeveer 45 km wes van die plaas is. Daar huur hulle 20 ha aan die noordekant van die Langeberge, wat droëer en warmer as die kusgebied is en dus heel ander eienskappe en geure bied. Daar word sauvignon blanc geplant in mineraalryke sandleemgrond, asook rooi variëteite soos cabernet sauvignon, shiraz en merlot.

So 25 km noord van George, vanuit die koeler Waboomskraal-streek, koop hulle ook sauvignon blanc en pinotage in.

Die derde streek is Kammanassie, naby De Rust, wat uit ʼn tipiese warm en droë Karoo-klimaat bestaan. Hier koop hulle so 100 ton se oorwegend wit-variëteite soos chenin blanc, grenache blanc en rousanne in.

Parstyd op Jakkalsvlei. (Foto: Facebook)

In totaal bestaan die wingerde in die vier streke uit 50 hektaar wat elke seisoen 500 ton druiwe na Jakkalsvlei se kelders stuur.

Die plaas kry sy water uit die standhoudende Jakkalsrivier, wat ʼn sytak van die Gouritsrivier is. Die water kom uit die Langeberge wat so besonders skoon is dat Jantjie dit regstreeks deur sy dripspuite kan stuur.

Tussen die wingerde probeer hulle die grond so min as moontlik versteur en vir grondvoeding meng hulle druiwedoppe en beesmis van ʼn nabye melkboer en gooi elke twee jaar kunsmis.

“Wingerd is eintlik ʼn woestynplant en is gewoond aan swaarkry. Dit is ook wanneer dit sy beste en geurigste sap produseer. Wanneer die plant dus meer water kry as waarin dit gewoond is, is hy geneig om uitspattig te groei. Dan moet jy die plant in toom hou deur dit deurlopend te suier om te verseker dat dit steeds gehalte sap produseer.

“Ons noem dit die suierproses wanneer jy lote uitdun, al wys hulle die potensiaal om goeie trosse te dra. Dit is ook nodig sodat die son se strale deur die lower kan kom. Ons doen eerder moeite met die wingerde as om massatonne af te haal, maar ook sodat die oorblywende lote goed kan dra.”

Jakkalsvlei se druiwe word slegs met die hand geoes.

Jakkalsvlei glo in die tradisionele metode deur druiwe slegs met die hand te oes. (Foto: Facebook)

Jantjie is besig om hulle kelder te vergroot van 500 na ʼn 1 000 ton kapasiteit. “Ons brei ondertoe uit om ʼn groen en natuurvriendelike verouderingskelder te skep wat daardie perfekte, konstante ondergrondse klimaat kan hou, waar die son nie pla en daar nie lugversorgers gebruik hoef te word nie.”

Jakkalsvlei het in Januarie 2010 sy deure vir die publiek geopen en het sedertdien goed gegroei. Vandag het hulle ʼn 250-sitplek restaurant, ‘n groot grasperk met ʼn kinderspeelplek, ʼn helikopterlandingsplek en selfs ʼn laaiplek vir jou elektriese voertuig.

Jakkalsvlei is baie bekend vir hulle wynparings, waar hulle lekkernye soos garnale, makriel, fudge en sjokolade gebruik.

Wanneer jy boonop die eksklusiewe Lord Jackal geproe het, is jou Jakkalsvlei-ervaring volmaak. Hierdie wyn word net in beperkte hoeveelhede vervaardig en is slegs by die Jakkalsvlei-proelokaal beskikbaar.

Hulle is ook bekend vir hul sauvignon blanc, pinotage en moscato-reeks. “Ons visie by Jakkalsvlei is om wyne in die Tuinroete te produseer wat die kompleksiteit, rykheid en verskeidenheid van hierdie eiesoortige terrior uitdruk.”

Jantjie sê dit is die nadraai van die inperking wat hulle die hardste gaan tref. “Ons sukkel byvoorbeeld nou om bottels in die hande te kry, want Consol kon nie deurlopend genoeg vervaardig nie. Ons moes derhalwe bottels van Europa, wat 25% duurder was, invoer, wat boonop baie laat aangekom het. Ek moes maar die koste aangaan, want om jou mark teleur te stel, of wyn te verloor sou baie meer skade aangerig het.

“Ons gaan hierdie uitwerking nog tot middel volgende jaar voel.”

Rietvallei se wyne wat op diewynboer.co.za beskikbaar is. (Foto: diewynboer.co.za)

Wynboere het ernstige verliese gely as gevolg van die regering se drankregulasies tydens die inperking. Hulle sit met oorskot wyn en oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel, Diewynboer, in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hul huise wyn kan bestel.

Kyk na ʼn onderhoud met Jantjie Jonker, die eienaar van Jakkalsvlei:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tricea ·

Ons wou daar eet op ‘n besoek, maar die restaurant het geweier om ‘n uur voor sluitingstyd kos of selfs net koffie bestellings te neem. Moet dalk eerder net wyn maak en restaurant toemaak. Ons het toe natuurlik ook nie eers wyn gekoop nie!

Du Preez de Villiers ·

Baie dankie vir die wenk Johan, ons maak reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.