Ontmoet TLU SA se span: Boer is in Pieter Pretorius se bloed

Pieter Pretorius sê boer vloei soos bloed deur sy are. (Foto: Verskaf)

*Deur Eunice Visagie, kopieskrywer van Edge Communications

Gesels jy oor boer wees met Pieter Pretorius, TLU SA se Oos-streeksvoorsitter, begin jy skielik sonder dat jy besef, Theuns Jordaan se treffer, “Soos bloed”, neurie.

Binne sekondes weet jy dat jy nou hier met iemand praat wat ʼn nuwe betekenis aan “gebore om te boer” gee. In wese is om te boer ’n manier om te dien. En dit is duidelik dat om te dien en te boer een en dieselfde ding vir Pieter is.

“Ek sien my rol in TLU SA as ’n geleentheid om ons boere te ondersteun, sodat hulle altyd kan weet my deur staan vir enigeen oop. Ek glo daarin om op grondvlak met boere saam te werk en om hulle te wys wie Pieter Pretorius is.

“Ons draai nie doekies om nie, ons pak van dag een af die bul by die horings. Dit is tog die groot rede vir TLU SA se bestaan, om klein en groot boere te ondersteun. Hulle moet weet ons is deur dik en dun daar vir hulle,” vertel hy.

“Landbou is ’n eiesoortige en taai besigheid en as jy nie passie, toewyding en vasberadenheid het nie, wel dan is boerdery dalk nie vir jou nie.

“Ek sê onlangs vir iemand, landbou is die enigste bedryf waar jy aankoopprys vir verbruiksmateriaal betaal, terwyl dit wat jy verkoop vir kosprys moet verkoop!

“So ja, dit is ’n taai bedryf. Die feit bly egter staan, om ’n boer te wees vloei in ons Suid-Afrikaners se are. Dit is ’n ongelooflike voorreg om elke oggend met God se genadegawes op te staan en te besef hoe gelukkig ons is om te kan boer en te woeker met die gawes van bo. Ek voel bederf om met hierdie rustigheid en nabyheid aan die natuur te kan lewe, waarvoor mense in die stede duur moet betaal om te ervaar.”

Daar is ʼn toekoms

“Ons glo dat die toekoms vir ons in Suid-Afrika een of ander tyd gaan draai en dat ons gaan opstaan en trots wees om in hierdie land te boer.”

Pieter vertel verder: “Suid-Afrika is in ons harte, in elke boer se hart en ons wil híér boer. Ons wil nie in ’n vreemde land gaan boer en met vreemde tale en vreemde mense saamleef nie. Suid-Afrika het ’n uiteenlopende groep mense en aan die einde van die dag moet ons leer om hier te leef en te laat leef. Ek bid dat ons in vrede sal saamwerk en saamleef en ek glo vir God is daar niks onmoontlik nie.”

Pieter het aanvanklik sy liefde vir landbou op sy oupa se plaas in die Carolina-distrik uitgeleef. “Ek het gereeld saam met hom daar op die plaas gekuier en lekker as jong seun geboer.

“Toe ek op hoërskool was, het ek ’n baie goeie vriend gehad op wie se plaas ek ook baie gaan kuier het. Ek dink partykeer was ek meer daar as by my eie huis!”

Sy liefde vir boerdery was dus nog altyd daar. “Soos ek sê, om te boer is in ons are – ek dink ons word dalk met die boer-geen gebore!”

Vir Pieter is dit belangrik dat elke Suid-Afrikaner sy deel doen om TLU SA in sy doel – om na ’n beter Suid-Afrika vir ons en ons kinders te werk – by te staan.

“In ons huis is ‘liefde vir jou medemens’ die slagspreuk. Ek dink dit is toepaslik vir ons land ook. Party dae is dit wel moeilik (soms sommer baie moeilik), maar dit is beslis moontlik.”

Sy medemens se sukses is wat Pieter se bors van trots laat swel. “Dit is vir my lekker om my mense gelukkig te sien. As ek aan boerderytrots dink, kom die beeld by my op van ʼn boer wat in sy land staan en sien dat sy gesaaides en oes goed en gesond lyk, met die wete dat God hom elke dag seën.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.