Ontmoet TLU SA se span: John Rankin sê, ‘staan op en neem deel’

John Rankin, TLU SA se westelike streeksvoorsitter wil waar hy kan, ‘n hand bysit om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak. (Foto: Verskaf)

*Deur Eunice Visagie, kopieskrywer van Edge Communications

As jy ’n beter Suid-Afrika vir jou en jou kinders wil sien, is dit nou die tyd om op te staan, op te hou kla en waar jy kan betrokke te raak, om seker te maak daar is ’n toekoms vir alle inwoners van ons land. Só sê John Rankin, TLU SA se westelike streeksvoorsitter.

“Daar is so baie waaroor mense kla, oor wat verkeerd is. Bitter min van hulle staan op en probeer iets doen. Ek probeer oral waar ek betrokke is ʼn hand bysit om dit ’n beter land te maak. Op skool praat my kinders van takies, nou ek is seker besig met my takie!” vertel John oor sy selfopgelegde rol in die lewe.

Landbou, oftewel om boer te wees, het soveel veelsydigheid en dít is wat vir John uitstaan.

“Boerdery het nie net ’n ekonomiese sy nie, ook ’n emosionele kant. Dan is dit seker ook een van die beroepe wat die meeste dimensies het. Om as boer suksesvol te wees, moet jy ook ’n ingenieur, arbeidskonsultant, dokter, weerkenner, makelaar, veearts, onderhandelaar en tegnikus wees!

“Dit is ook een van die min beroepe waar jy regstreeks afhanklik van jou Skepper se genade is.”

Hy sê ʼn boer is deurentyd besig om op die fondasies wat sy pa, oupa en oupagrootjie gelê het, te bou. “Jy en jou plaas word amper een. Jy leef jouself uit en jou identiteit word gekoppel aan hoe jy boer. Ons werk in die natuur en ek het die voorreg om dit met die jongste tegnologie te doen, maar dit is uitdagend, en vereis dat jy jou beste gee. Ek dink dit is hoekom baie boere nie kan ophou nie, hulle geniet dit net te veel.”

John staan nie terug vir uitdagings of harde werk nie, want hy besef dit is wat vir die toekoms deurslaggewend is.

“Harde, eerlike werk sal enige ekonomie laat groei. Maak jou kinders verantwoordelik groot, gee hulle ’n goeie opvoeding en binne een geslag het ons ’n werkersklas van hoogstaande gehalte. Hou op bakhand staan en werk eerder, hou op kla oor swak paaie, maak die stuk voor jou huis reg. Maak reg wat jy kan. Dit is waar ʼn mens moet begin.”

Sy liefde vir landbou het as jong seun posgevat. “As kind het ek saam met my pa geboer. Hy was my mentor en held. Ek wou altyd soos hy wees. Later jare het ek van die lewenstyl begin hou, die verskillende goed wat jy doen en die uitdagings om beter te word. Vir my voel dit of die wêreld sal vergaan sonder boere en dit wil ek nie toelaat nie.”

As hy nie in sy landerye staan nie, sal dit nie vreemd wees om John voor die kospotte aan te tref nie. “Ons gesin hou van reis, maar ek is ook mal oor kosmaak. Ek is altyd gretig om iets nuuts te probeer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.