Privaatsektor oorgehaal om vee-entstowwe te versprei

In ‘n entstof-fabriek se skoon kamers moet daar in uiters steriele omstandighede gewerk word. (Foto: Karen Nel)

By die kruising van die N1 en Rigellaan in Pretoria word daar tans ʼn wêreldklas diere-entstof-fabriek ingerig nadat dié instelling uit die nate van die vorige gebou gebars het.

Design Biologix het 27 jaar gelede in ʼn enkele vertrek in een van die geboue op die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) se terrein tot stand gekom. “Later het ons een van die geboue bekom, maar het weldra besluit om ons eie gebou te koop,” sê Karen Nel, medestigter en direkteur van Design Biologix.

Die bestuur het in 2017 begin om ʼn gebou te soek, maar uiteraard is dit nie so maklik om een te vind waarin jy ʼn entstof-fabriek kan huisves nie. Einde ten laaste het hulle gevind dat die Suid-Afrikaanse Weerdiens se voormalige kantoor in Erasmusrand geskik is vir hierdie delikate prosesse.

Die treffende gebou waarheen Design Biologix tans verhuis. (Foto: Du Preez de Villiers)

Hier word die grondstowwe by Design Biologix se nuwe fabriek ontvang. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Vandag bestaan die maatskappy uit ʼn span van net meer as 50 mense wat navorsers, vervaardigers en wetenskaplikes insluit. Aanvanklik het hulle 600 000 dosisse per jaar vervaardig, wat vandag tot 40 miljoen verhoog is. “In die nuwe gebou sal ons dit tienvoudig kan vermeerder,” sê Nel.

Die Design Biologix-span bestaan onder andere uit Mariska Venter, Stacey Gaenssler, Carlo Smuts, Karen Nel en dr. Angela Buys. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Delikate verhuising

Dr. Angela Buys, operasionele hoof van Design Biologix, sê dit gaan hulle agt tot tien maande neem om die hele operasie te skuif, want “eerstens moet ons genoeg voorraad opbou om ons bestellings na te kom en tweedens is dit ʼn ingewikkelde proses.”

Dit is geen maklike taak om al die fabriek se toerusting, wat lag-lag ʼn paar miljard rand werd is en nie by enige deur ingedra kan word, te skuif nie. Die ontwerp en uitleg van die gebou is ook net vir spesialiste beskore. Daarbenewens moet die infrastruktuur ook voor die tyd ingerig wees om al die masjiene te ondersteun.

Een van ʼn entstof-fabriek se grootste uitdaging is om ʼn atmosfeer te skep waar onsigbare patogene heeltemal afwesig is. Daar is streng regulasies wat bepaal hoe die verskillende sones van so ʼn fabriek se vloer geverf moet word, van watter materiaal die mure en plafon gemaak moet word en hoe die vensters moet lyk.

Om maksimum higiëne te verseker mag daar byvoorbeeld geen muurproppe in die vertrekke wees nie en die vensters moet gelyk met die mure loop. Om die lug in die skoon kamers, waar al die sensitiewe werk plaasvind, steriel te hou, word die gebou se lugdruk daar verhoog sodat enige onsuiwerhede deurlopend na minder sensitiewe sones weggevoer word.

Die nuwe fabriek se skoon kamers gaan ʼn oppervlak van 2 600 m2 beslaan.

Karen Nel, direkteur van Design Biologix, neem besoekers deur hul nuwe fabriek. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Om in ʼn skoon kamer te kom moet ʼn werker deur vier stelle deure beweeg, waartydens daar dan aseptiese drag, wat beskerming van kop tot tone bied, aangetrek word.

Ononderbroke kragvoorsiening is ononderhandelbaar en Design Biologix moes twee 1,25 MW- kragopwekkers, teen ʼn astronomiese bedrag, aanskaf om te verseker dat daar geen gehalteprobleme opduik nie.

“Hoewel ons prosesse nog altyd op standaard was, het ons gestreef om ʼn ‘good manufacturing practices’ (GMP)-sertifikaat te bekom en met die nuwe gebou, waar alles volgens die regte spesifikasies is, sal ons dit kry,” sê Nel.

Terwyl die hoofgebou ingerig word, is hulle besig om nog ʼn gebou op die perseel te bou, wat in Januarie voltooi sal wees en wat gedeeltelik deur sonkrag aangedryf sal word. Daar gaan diagnostiese laboratoriums ingerig word en ruimte vir ʼn nuwe bemarkingspan en bykomende berging geskep word.

 

Een spuit teen agt siektes

“Aanvanklik was ons net kontrakvervaardigers, maar het later besluit om ons eie produkte te ontwikkel,” sê Nel. “Ons het nog altyd entstowwe vervaardig wat vir Suid-Afrika toepaslik is en het ʼn noue band met veeartse, om te weet watter behoeftes daar in die veld ontstaan.

“Deur die jare het ons baie goeie verhoudings met dieregesondheidsmaatskappye opgebou, wat ons produkte versprei, maar met ons jongste twee produkte, Clostrivax B en Bef-Tect, het ons besluit om vir die eerste keer die bemarking en verspreiding van ons eie entstowwe te doen.”

Saam met die bekendstelling van sy nuwe gebou het Design Biologix ook ʼn nuwe multi-komponent entstof, Clostrivax B, bekendgestel wat beeste teen agt siektes, wat deur nege patogene veroorsaak word, kan immuniseer. Dit bied beskerming teen enterotoksomie, lamsiekte, dikkop, aansteeklike nekrotiese hepatitis, sponssiekte, skielikedoodsindroom, kwaadaardige edeem en beesrespiratoriese siekte.

‘n Aangepaste formulasie, Clostrivax B+, kan beeste ook teen miltsiekte beskerm.

Dr. Angela Buys stel Design Biologix se nuwe entstof, Clostrivax B bekend. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Design Biologix vervaardig ook outogene entstowwe en kan dit selfs vir een plaas of dier formuleer. Dit sluit 21 dierespesies, soos seeperdjies, forelle, krokodille, bobbejane, jagluiperds, ʼn verskeidenheid wildsbokke, kommersiële vee, seekoeie en olifante in.

 

ʼn Stryd om te help

Veeartse word warm onder die kraag wanneer Onderstepoort Biologiese Produkte (OPB) bespreek word. Hierdie staatsinstelling sukkel nou al vir baie jare om genoegsame entstowwe te vervaardig en het die veebedryf al telkemale in die moeilikheid gedompel.

Maroela Media het onlangs berig dat bloutong vroeg volgende jaar ʼn ernstige krisis kan veroorsaak terwyl OBP tans nie naastenby genoeg entstowwe kan voorsien nie.

Privaatvervaardigers soos Design Biologix het noodwendig en noodgedwonge ingespring om die vakuum te vul, maar hul aansoeke, veral vir entstowwe wat OBP ook vervaardig, sloer vir jare.

Privaatentstofvervaardigers is slaggereed om die gaping wat OBP laat, met hulle moderne geriewe en nuutste entstowwe te vul. (Foto: Karen Nel)

 

Design Biologix het reeds suksesvol entstowwe teen uiters kritieke siektes, soos slenkdalkoors, Brusellose en bloutong vervaardig en al die dossiere afgehandel. “Ons wag nou net vir die laaste handtekening van die registrateur,” sê Buys. Hulle het al selfs entstowwe voorgelê vir noodgoedkeuring in tye toe boere met hulle hande in die hare gesit het, maar dit is summier geïgnoreer.

“In ons koelkamers staan daar tans 12 000 dosisse geïnaktiveerde slenkdalkoors-entstof waarvan die dossier reeds goedgekeur is, maar wat al vir maande wag vir die registrateur se handtekening voor dit versprei mag word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

casper ·

Pragtig julle slim mense — Beste wense vir die pad vorentoe!!!!!!!!!!

Bees Boer ·

Die staatsbeheerde Onderstepoort is besig om ten gronde te gaan. Dit skep die geleentheid vir bekwame mense om ‘n privaat besigheid te skep.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.